Gebedsgids Februarie 2022

1 Februarie –  Dinsdag – Dank God

“Jesus, ons wil U Naam loof en prys en aan u hulde bring. U is goed vir ons en versorg ons dag en nag. Baie dankie vir U beloftes wat U altyd nakom.”

2 Februarie  – Woensdag – Jeug

Jesus, ons bid dat u elke dag met die jeug sal wees en dat daar altyd iemand sal wees wat op die uitkyk vir hulle sal wees en hulle sal lei met die nodige liefde en ondersteuning.

3 Februarie  – Donderdag – Inbrake

Residensiële inbrake en voertuigkapings  vermeerder drasties.  Bid dat elke Christen in elke voorstad hul plek van gebed, voorbidding en intersessie voor die HERE sal inneem.  Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.
 1 Tim 2:1,2

4 Februarie – Vrydag- Gelowiges moet staande bly

In Ef 3:16 bid Paulus dat ons geestelik ons man sal kan staan waar ons so sukkel om die goeie te doen.  Bid vir gelowiges om staande te bly in ons gebroke wêreld teen die aanslae van die duiwel en dat, waar ons sukkel, ons op die krag van die Heilige Gees sal staatmaak.

5 Februarie – Saterdag – Nuwe lied

Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.

6 Februarie – Sondag – Moreson Kinderhuis

Vandag gaan ons deurkollekte vir Moreson Kinderhuis. Kom ons dink vandag aan die onbaatsugtige diens wat gelewer word en gee mildelik vir hierdie kinders.

7 Februarie – Maandag – Werkloosheid

Werkloosheid is ‘n wesentlike probleem in ons land, wat gepaardgaan met basiese- en voedseltekorte. Bid dat oplossings gevind sal word om meer werk te skep en werkloosheid te verminder.

8 Februarie  – Dinsdag – Omgeebediening

Dank die Here vir ‘n paar gemeentelede wat voluit gaan vir ons Omgeebediening.  Bid dat hulle elke behoefte waar ons gemeente moet help, sal raaksien en met deernis sal aandag gee. Elke een van u is welkom om kos/klere/geld by te dra.  U kan verseker wees dat dit reg bestee word.

9 Februarie  – Woensdag – Jesus sterf vir ons sondes

Jesus het vir my en jou gesterf en vir ons sondes betaal. Bedank God vir Sy onbaatsugtige liefde wat Hy aan ons bewys het en dat Hy ons gered het van die ewige dood.

10 Februarie  – Donderdag – Gebede

Bid asb. dat NG gemeente Grootbrak ‘n biddende gemeente sal wees wat sal besef dat gebed nie ‘n laaste uitweg moet wees nie, maar ‘n eerste prioriteit. Bid daar daar baie groepies sal begin en sal bid vir ons dorp, ons gemeente, ons kinders en dat ons sal saamstaan teen die aanslae van buite.   

11 Februarie – Vrydag – Hernuwing

Martin Luther het in 1517 sy idees vasgepen en hervorming bewerkstellig. Ons bid vandag nog vir hervorming van siel, gees en verstand. Ons bid ook vir voortdurende verandering en die regte implementering van vernuwende denke en dat dit in ooreenstemming met die wil van God sal wees.

12 Februarie – Saterdag – Gemeente Instandhoudingsfonds

Ons gemeente samel more geld in vir die instandhouding van ons geboue. Bid dat die gemeente die nood sal raaksien en sal gee met ‘n biddende hart.

13 Februarie – Sondag – Biddag vir Opvoeding en Onderwys

Laat ons vandag ons kinders en die leerkragte aan die Here opdra en dat hy die leerkragte met die insig en leiding voorsien. Bid ook dat ons kinders sal leer asof alles wat hulle doen soos vir die Here is.

14 Februarie – Maandag -Verpleegpersoneel en Dokters

“Jesus, ons dra ons mediese personeel en Dokters aan U op waar hulle siekes versorg sonder om aan hulself te dink en baie dae oortyd moet werk in hierdie Covid tyd.Gee hulle die nodige rus en uithouvermoë om hul taak met liefde en belangstelling te kan doen.”

15 Februarie  – Dinsdag – Nuwe intrekkers

 Ons wil vandag vir alle nuwe intrekkers in ons gemeente bid.  Mag ons lidmate hulle besoek, gou laat tuisvoel, uitnooi na gemeentelike aktiwiteite en hulle werklik met “Jesus-liefde en omgee” omarm.  Seën asb die “Nuwe Intrekker-bediening” met groot wysheid om hierdie enorme taak te verrig.

16 Februarie  – Woensdag – Boerdery en geweld

Suid Afrika is ‘n ryke land wat baie kos verskaf deur boerdery. Ons bid vandag vir die veiligheid van die boere waar hulle elke dag ‘n teiken is van mense wat nie verstaan wat hulle doen nie. Ons bid ook dat hul boerdery besonder geseën sal wees. 

17 Februarie  – Donderdag – Siekes

Kom ons maak ‘n vaste besluit om gereeld vir siekes in ons gemeente te bid. Kom ons glo en dank Jesus vir Sy vernuwingskrag in elke sel en atoom van ons liggame.

18 Februarie – Vrydag – Tyd

“Jesus, die Satan is die vader van die leuen en wil hy aan ons dit stel dat ons besig moet wees, en laai net meer en meer verantwoordelikhede op ons. Help dat ons sal besef dat tyd saam met U die belangrikste is. Gee dat ons spesiale tyd sal maak vir U en U Woord”.

19 Februarie – Saterdag – Geweld

“Heer, Ons bid dat U die rassehaat, geweld teen vroue en kinders sal uitwys en vrede tussen die nasies en mekaar sal bewerkstellig. Ons vertrou op U en weet dit is net U wat hierdie vrede kan verskaf.”

20 Februarie – Sondag – Straatwerk

“Here, Gee asseblief vir die mense wat sendingwerk doen in die strate die nodige beskerming en ook insig om die regte woorde te spreek. Maak ook die straatmense se harte sag en ontvanklik vir die boodskap aan hulle gebring.”

21 Februarie – Maandag – Werkskepping

Ons bid vandag vir werkskepping in ons land. Ons vra dat beleggers hul kapitaal beskikbaar sal stel vir die skepping van nuwe besighede.Bid ook vir politieke stabiliteit wat ‘n klimaat van groter ekonomiese groei sal skep.

22 Februarie  – Dinsdag – Die Naam van die Here

Die Naam van die Here is heilig. Kom ons bid dat mense die Here se Naam met die nodige respek sal behandel en hulle sal weerhou van kru taal en bid ons dat die Heilge Gees ‘n wag voor hul mond sal plaas.

23 Februarie  – Woensdag – Regering

Laat ons bid vir ons regeringsdepartemente. Ons bid dat daar ‘n wil sal wees om te werk en ‘n dankbaarheid omdat jy ‘n werk het. Ons bid ook vir die staatsamptenare dat hulle weer trots sal wees om hulle werk te doen en ons dank die Here dat daar wel nog baie is wat wel hul werk doen.

24 Februarie  – Donderdag – Ons Roeping

“Vader, ons glo dat U vir elkeen van ons ‘n doel en roeping het.  Gebruik dan vir ons om met ons woorde en dade, mede-lidmate te inspireer, bemoedig, versterk en ook “afgedwaaldes” na U Kudde terug te bring.  Mag U Gees ons hierin lei en leer en gee asb vir ons harte vir verlorenes.”

25 Februarie – Vrydag – Polisie

Kom “Vader, Ons bid dat u die polisiemag sal help in hul dag en nag taak en veilig sal hou waar hulle met bendegeweld, diefstal en moord te doene het. ” 

26 Februarie – Saterdag – God maak nie gemors nie

Voel jy af en alleen? Volgens Kol. 3: 12 sê God Hy het jou uitverkies en jy is ‘n Meesterstuk in Sy spesiale wêreld en dat Hy baie lief is vir jou. Bid vandag vir mense wat voel hulle kan nie meer nie en dat hulle sal weet en ervaar dat Jesus vir hulle omgee.  

27 Februarie – Sondag – Hartenbos Versorgingsoord

Hierdie mense doen ‘n baie goeie werk en maak staat om fondse van buite om aan almal ‘n goeie diens te lewer. Bid vandag dat die gemeente se hand oop sal wees, want God het die blymoedige gewer lief.

28 Februarie – Maandag – Die Regering

Ons bid vandag vir ons Regering (Rom 13:1-7).  Die owerhede is daar deur God se beskikking.  Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word.