Waar is die Koning wat gebore is? Want ons het Sy ster in die Ooste gesien
en gekom om Hom hulde te bewys.
NG GEMEENTE GROOT BRAKRIVIER
Woensdag, 1 Desember: Vakansiemaand.
Dit is vakansiemaand in Suid Afrika. Almal is in ‘n vrolike gees en dit is so maklik om van ons Skepper te vergeet. Kom ons bid vir die veiligheid van elke akansieganger en dat die Heilige Gees met elke persoon sal wees en sodoende ‘n verantwoordelikheid in elke persoon sal vaslê.
Donderdag, 2 Desember: Eensaamheid.
Desember is die laaste maand waarin ‘n persoon eensaam wil wees. Tog is daar vele bejaardes wat na kinders verlang of andersom Kom ons vra vir Vader om al die eensames in Sy arms te neem en styf vas te hou sodat hulle van Sy teenwoordigheid bewus sal wees en troos daarin sal vind.
Vrydag, 3 Desember: Sending.
Oor die hele wêreld heen is daar pragtige mense wat die evangelie aan ander bekendstel en baie mense wat die evangelie aanvaar of dalk twyfel of hulle dit moet aanvaar. Kom ons bid dat Vader hulle onder sy vleuels sal intrek, veral nou waar die geboorte van Christus binne dae herdenk sal word.
Saterdag, 4 Desember: Oues van dae.
In ons gemeente is daar baie mense wat hier kom aftree het en hier kom oud word het. Kom ons dank Vader vir die voorreg wat ons het om hier in die pragtige Eden te kan woon en dit kan geniet.
Sondag, 5 Desember: Mediese Wetenskap
Ons bid en dank Vader vir die hulp en leiding wat Hy aan die mediese wetenskap gee in die ontwikkeling van medikasie. Medikasie wat siekes oor die hele wêreld van ‘n beter lewe verseker. Maar ook vir die voordeel wat ons hier in die Brak daaruit geniet.
Maandag, 6 Desember: Omsien-mense
In ons gemeenskap is daar dokters en verpleegpersoneel en ander omsien-personeel wat na vele van ons gemeenskap omsien. Kom ons dra hulle almal aan die Here op in ons gebede en dank ook die Here vir sulke onbaatsugtige mense.
Dinsdag, 7 Desember: Toe open Vader die Hemel se sluise
Ons dank aan die Here vir die heerlike verligtende reën wat Hy gegee het aan veral die droog geteisterde streke asook die Karoo-streke.
Woensdag, 8 Desember: Omgee-bediening.
Ons dra vandag ons gemeente se Omgee-bediening aan die Here op deur ons gebede. Ons bid vir Sy seën op al hulle omgee werk.
Donderdag, 9 Desember: Wolwedans.
Die Wolwedans sop- en brood bediening voorsien in die behoeftes van arm mense.
Ons bid dat die Here hulle en hulle diens sal seën. Ons dank ook die Here omdat hy daagliks in ons behoeftes voorsien.
Vrydag, 10 Desember: Vroue en kinders.
In ons land word vroue en kinders elke dag deur ongenaakbare mans aangerand en verkrag. Ons bid dat die Here hierdie haatlike kultuur sal verander in ‘n liefdevolle gesindheid.
Saterdag, 11 Desember: Skooldogters:
Skooldogters is vandag onder geweldige sosiale druk. Duisende is swanger juis as gevolg van hulle weerloosheid. Kom ons dra hulle almal aan die Here op vir Sy beskerming.
Sondag, 12 Desember: Ons land Suid Afrika.
Ons land word vandag regeer en geadministreer deur mense wat eerder na hul eie sakke kyk as wat hulle na die land en sy mense se belange omsien. Ons bid dat die Here hierdie situasie sal omkeer en ons land weer vooruitstrewend sal maak.
Maandag, 13 Desember: U tuin Here.
Soos Adam en Eva in ‘n pragtuin gewoon het, woon ons steeds in U tuin Here. Deur ‘n “klein” oortreding het U hulle verblyf opgeskort. In teenstelling bemors en vernietig ons U Skepping. Ons gebede is om Vader te vra om elke mens se gesindheid teenoor Sy Skepping positief te verander.
Dinsdag, 14 Desember: Studente.
Baie studente en skoolkinders gaan na die eksamens as groepe by die see uitspan. Ons bid dat die Here elke kind sal vashou om nie die goeie waardes van die lewe oorboord te gooi nie.
Woensdag, 15 Desember: Ons gemeente
Ons bid vir ons kerk-personeel en vir almal se gesinne. Ons dra hulle aan Vader op met dank vir wat hulle in ons gemeente met soveel liefde doen.
Donderdag, 16 Desember: Versoeningsdag
Hierdie betekenisvolle dag is daar sodat dit ‘n simbool van rasseharmonie kan wees, waarop mense van verskillende kulture, tale en rassegroepe met mekaar kan versoen. Ons gebed vandag is dat hierdie harmonie tot volle werklikheid sal kom.
Vrydag, 17 Desember: Vakansiegangers
Baie vakansiegangers sal weer op die paaie wees en by die see en ander vakansieplekke uitspan. Ons bid Vader om die slagting op ons paaie te verhoed asook ander ongelukke.
Saterdag, 18 Desember: Misdaad
In hierdie vakansietydperk skiet die misdaadsyfer die hoogte in. Dit is diefstal,
rooftogte, moord, verkragtings, dronkenskap ens. Ons vra Vader se ingrype hier.
Sondag, 19 Desember: Veiligheidsdienste
Die land se Beskermingsdienste verkeer in die vakansietyd onder groot druk. Ons bid Vader om hulle by te staan in die uitvoering van hul pligte en dat Sy naam altyd in hulle werk verheerlik sal word.
Maandag, 20 Desember: Ons bede gaan uit na alle mense.
1 Tim. 2:1-6 Ons bede gaan uit na alle mense en hooggeplaasde mense in die wêreld, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan ervaar in alle Godsvrug en waardigheid.
Dinsdag, 21 Desember: Eensames
Dit is in hierdie tyd van die jaar dat eensames baie swaar trek. Ouers verlang na kinders en andersom. Ons vra die Heer om by hulle elkeen te wees en hulle styf vas te hou in Sy arms van Liefde en Vriendskap.
Woensdag, 22 Desember: Siekes
In elke gemeenskap is daar mense wat siek is. Ons dra hulle almal aan Vader se sorg, genade en genesing op. Ons bid dat Hy na elkeen sal omsien wat ook al die
ongesteldheid is.
Donderdag, 23 Desember: Bybelgenootskap.
Ons weet almal wat die Bybelgenootskap vermag. Kom ons dra die genootskap aan Vader op om in al hulle behoeftes te voorsien en hulle wonderlike werk te seën.
Vrydag, 24 Desember: Die dag voor Die Geboorte
Ons is almal besig met geskenke koop, die kersboom opmaak, ens. Ons bid vir leiding, vrede, vreugde en liefde vir die ganse wêreld in afwagting vir die ster van Bethlehem om aan ons te verskyn en die pad vir ons te verlig na ons Redder en Meester toe.
Saterdag, 25 Desember: Dit is KERSFEES !!!
Ons ewige Koning, die Onverganklike, Onsienlike en enigste God wat ons ken is op hierdie dag baie jare gelede gebore. Ons herdenk dit met eerbiedige vreugde. Ons dank Hom omdat hy nog altyd daar is om na sy bevoorregte kinders om te sien.
Sondag, 26 Desember: Welwillendheidsdag (Ook genoem Gesinsdag)
Laat ons op hierdie dag mekaar met liefde omhels. Binne ons gesinne, as families, as vriende en as landsburgers. Laat ons ons ewige Vader ook bid vir vrede in die wêreld.
Maandag, 27 Desember: Wedergeboorte
God ons Vader het aan ons die wedergeboorte geskenk tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. Kom ons dank Hom daarvoor.
1 Petrus 1:3-5
Dinsdag 28 Desember: Verwaarloosde mense.
Daar is vele verwaarloosde mense in ons en in die breër gemeenskap om ons, wat in wanhoop lewe. Laat ons Vader in ons gebede vra dat ons as sy bevoorregte kinders die moed sal hê om ook na hierdie mense uit te reik en om te sien.
Woensdag, 29 Desember: Gesindheid
Kom ons bid tot Vader vir ‘n positiewe gesindheid in ons Gemeente, ons gemeenskap en ons land. Dat ons die nuwe jaar met reikhalsende hoop sal ingaan met die wete dat ons God steeds regeer.
Donderdag, 30 Desember: Afskeid
2021 Is bykans verby kom ons dank God vir ‘n jaar waarin ons kon wees en waarin Hy ons onderskraag het.
Vrydag 31 Desember: Dankie
Dankie Here vir die jaar waarin ons die wonderlike voorreg gehad het om in U Skepping te kon wees. Dankie dat U ons sondes vergewe en behoed en bewaar het en lief gehad het.