Klub50 se lede het ‘n heerlike saamkuier afsluitings funksie by Searle Village Restaurant gehou 5 November 2025. Daar is gesels, heerlike etes genuttig, En selfs vlugvoetig gedans.
Dit was ‘n genotvolle aand vir almal betrokke, soos blyk uit die momentopname galery.
Op 8 Oktober 2025 het Klub50 ‘n heerlike oggend gereël, waar Anthony Noble sy kunstalent kom deel het. Anthony is’ n oud onderwyser wat die gawe van kuns ontvang het. Hy het in 45min die pragtige kunswerk van niks af begin, en klaargemaak. Tussendeur het hy lof gebring aan die Gewer van gawes, op ‘n baie gepaste manier.
Klub50 het ‘n pret dag gehad op 3 September 2025 in Hartenbos. Daar is meegeding om die beste punte op die Puntebord te kry. Dit was’ n genoeglike dag in goeie gees en wenners en nie-wenners het dit ewe veel geniet.
Klub50 het Woensdag 6 Augustus ‘n heerlike saamkuier en saamwerk dag gehad. Daar is ongeveer 680 pannekoeke gebak; ook met die enkele, gebruiklike’ floppies’, sodat die bakkers darem ook kan proe. Hulle sê dankie aan almal wat betrokke was…ook die kopers.
Klub50 se lede het op 2 Julie 2025 ‘n heerlike oggend van Bingo geniet. Die geleentheid is afgesluit met heerlike warm sop en broodjies op hierdie koue Wintersoggend.
Klub50 het weer van 5 tot 9 Mei ‘n heerlike saamkuier, son en see wegbreek week gehad by Keurbooms rivier se Forever Resort.
Daar is soos, altyd lekker gekuier om die braaivleis vure en ander kospotte. Deel van die pret was die stap op Keurboom se strand en die bootritte op die Keurbooms rivier.
Die sukses van die onvergeetlike week is die uitstekende reëlings van Frans en Anina Geldenhuys. Die groep sê baie dankie.
Tydens die Maart byeenkoms van Klub50 lede het hulle pret gehad met die musiek instrumente wat Lasya, ‘n musiekonderwyseres wat ook by ‘Up with Downs’ betrokke is, saamgebring het.
Almal het met oorgawe deelgeneem aan die slaan op die dromme en ander musiekinstrumente. Die byeenkoms is afgesluit met heerlike hamburgers vir middagete, waarvan die vleis op die braaivleis vure gaargemaak is. Dit was ‘n gesellige en vrolike kuier oggend vir almal.
Klub50 het op 5 Februarie 2025 hul eerste vergadering vir die jaar gehad.
Danie het die vergadering van Klub 50 van 2025 op n ligte noot met n baie mooi boodskap geopen.
Daarna het lede jolig gekuier om die Vrugte bakkie van spanspek, druiwe en waartlemoen. Te drink was heerlike sap. Wors is gebraai en wors broodjies is later voorgesit.
Tydens die foto sessie is fotos van lede geneem, van wie party prettige kostuums of bykomstighede aan gehad het.
Die bestuur is:
Voorsitter – Koos Geldenhuys, Sekretaresse – Anina Geldenhuys, Onder voorsitter – Estelle Uys, Tesourier – Johan Snyman, Fotograaf – Elsabe Richards
Dit was ‘n gesellige kuier geleentheid waar almal saamkuier om die vure en tafels, onder die lieflike bome van die oord. Die oord is gelee op die Keurboomsrivier.
Ander aktiwiteite het ingesluit bootritte op die rivier deur die merendeels ongerepte natuurlike bos, stap op die Keurboomsstrand na die bekende rots met die gat in, koffie drink by nabygelee koffiewinkeltjies, bingo of mens kon net by die huisies bly en die voellewe geniet.
Dit was ‘n heerlike ontspan week waar ontbyt begin is met gesamentlike geestelike liedere en Johan Muller se Bybelvrae. In die aande is daar gekuier om die vure.
Baie dankie aan Klub50 se bestuur vir ‘n heerlike week.
Klub50 se groep het ‘n onvergeetlike belewenis gehad by ‘Butterfly world’, Ruitersbos. Op 3 April het ‘n goep van 38 mense vanaf die kerk vertrek. Almal wat daar was getuig dat dit ‘n heerlike, leersame en onvergeetlike ervaring was…en die fotos is ook’ n wonderlike bewys daarvan.
Die wegbreek week van Klub50 is ‘n jaarlikse September instelling wat deur die grendeltyd gekortwiek was. Hierdie jaar het die aktiwiteit weereens vir ‘n heerlike week gesorg. Die groep van 30 het mekaar by die vakansie oord op die walle van die Keurboomsrivier ontmoet. Die beboste en boomryke terrein is ‘n baie goed versorgde oord. Akkommodasie was heerlike versorgde eenhede terwyl sommige van die lede verkies het om met karavane te kamp.
Soggens het tammeletjie bybelvasvrae onder leiding van Johan Miller asook samesang, uit die pienkboekkies, die tyd in aanloop tot die laat-ontbyt, vermaak. Saans is daar heerlik om die braaivleisvure gekuier en die heerlike kos wat die ‘span van die dag’ voorberei het, was besonders en keurig voorberei. Ons is ook vermaak met snaakse staaltjies uit verskillende oorde.
Die dae het heerlike uitstappies ingesluit soos die stap na ‘Arch Rock’ by Keurboomstrand, koffiedrink en rondry in die nabye omgewing. Vir die voëlkykers was die oord ‘n paradys met ‘n groot verskeidenheid van voëlgesang, soos die lawaaimakerjanfrederik, gevlekte heuningwyser, olyfboslaksman en rooibekkakelaar, om maar ‘n paar te noem. Die sewe klein kolgansies het onderleiding van die twee volwasse kolganse het ook vir baie pret en staaltjies gesorg. Die bonus was die bosuile wat van die lede bevoorreg was om die laaste aand te sien.
Daar is deur die week bymekaar gekuier, kaartgespeel en gestap. Vrydagoggend het ons weer onder die samekoms bome afgesluit en vriende is gegroet om mekaar weer vorentoe in Grootbrak te ontmoet. Ons dank gaan aan ‘n wonderlike God wat dit vir ons moontlik maak om sulke geleenthede te hê, asook die bestuur van Klub50, Debbie, Roulette, Johan en Mariana, vir ‘n goed georganiseerde week.