Gebedsgids Julie 2024

Gebed

GEBEDSGIDS – JULIE 2024

Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor (Jes 65:24).

Maandag 1 Julie – Volhard in gebed

Ons prys die Here vir soveel lewens en gesindhede van mense wat Hy elke dag verander as gevolg van volgehoue gebed. Dank Hom vir getroue bidders en hou aan om die Here te vertrou vir wysheid en insig om mense se geestelike behoeftes met liefde en begrip aan te spreek.

Dinsdag 2 Julie – Gevangenes

Lees meer “Gebedsgids Julie 2024”

Gebedsgids vir April 2024

Gebed

GEBEDSGIDS – APRIL 2024

Ef 6:18. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

Maandag 1 April – Gesinsdag

Gesinne is vir God belangrik. In die Ou Testament vind ons baie voorskrifte dat kinders kennis en godsdienstige gebruike van God se weë met sy volk sal eerbiedig en oordra aan die volgende geslagte. Kom ons bid dat ook ons as gesinne saam die Here sal ken en dien.

Dinsdag 2 April – Die Owerheid

Lees meer “Gebedsgids vir April 2024”

Gebedsgids Februarie 2024 – NG Kerk Groot-Brakrivier

GEBEDSGIDS
FEBRUARIE 2024

Gebed verander alles.
Moenie angstig wees nie. Bid tot God.
As God vir ons is, wie kan teen ons wees.
Sy genade is genoeg.


1 Februarie – Donderdag – Mense op straat
Ons bid vandag in die besonder vir die sendelinge en predikers en hulpwerkers wat op straat die mense help en leiding gee. Mag hul elke dag God se nabyheid ervaar, en die wonderwerke waarvoor hulle bid raaksien in die straatmense se lewens.
2 Februarie – Vrydag – Kragvoorsiening

Lees meer “Gebedsgids Februarie 2024 – NG Kerk Groot-Brakrivier”

Gebedsgids vir Januarie 2024

GEBEDSGIDS – JANUARIE 2024

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. (Filippense 4:6).

Maandag 1 Januarie – Wees getrou hierdie Jaar

Ons dank God vir getroue bidders en vra vir volharding, wysheid en insig om te soek na Sy wil. Prys die Here vir soveel lewens en gesindhede van mense wat Hy verander as gevolg van volgehoue gebed.

Dinsdag 2 Januarie – Getuienisbediening

Lees meer “Gebedsgids vir Januarie 2024”

Gebedsgids Desember 2023 – NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed Foto deur Ivan Samkov: https://www.pexels.com/photo/woman-in-gray-knit-sweater-praying-6436311/

Vrydag, 1 Desember: Vakansiemaand

Dit is vakansiemaand in Suid-Afrika. Almal is in ‘n vrolike gees en der duisende mense durf ons paaie aan, geniet ons strande, kuier by familie, kuier by ouers of kinders en dit is so maklik om van ons Skepper te vergeet. Kom ons bid vir die veiligheid van elke vakansieganger en dat die Heilige Gees met elke persoon sal wees en sodoende ‘n verantwoordelikheid in elke persoon sal vaslê.

Saterdag, 2 Desember: Eensaamheid

Lees meer “Gebedsgids Desember 2023 – NG Kerk Groot-Brakrivier”

Gebedsgids vir November 2023 – NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed

GEBEDSGIDS – NOVEMBER 2023

Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. (Luk 18:1)

Woensdag, 1 November Eksamentyd

Ons kinders is reeds besig met eksamen. Bid vir elkeen, maar in besonder vir ons matrieks, dat hulle ook kan sê: “Dit is goed om elke môre van God se liefde te getuig.” (Ps 92:3)

Donderdag, 2 November Oorstromings

Baie dorpe sukkel nog om paaie en geboue te herstel na die onlangse vloede. Kom ons bid dat hulle nie moedeloos en ongelowig word nie. Dank die Here vir elkeen wat kos en warm klere voorsien het.

Vrydag, 3 November Veldbrande

Dit is met hartseer dat ons hoor en sien hoe groot dele van ons land deur veldbrande verwoes is. Bid vir ons boere wat nie net veld nie, maar ook baie diere verloor het. Bid vir plaaswerkers wat moontlik afgedank moet word omdat daar nie nou vir hulle werk op die plase is nie.

Saterdag, 4 November Omgeebediening

Kom ons dank die Here vir die groot werk wat ons Omgeebediening in ons gemeente doen. Ons bid vir Corrie Pieters en haar span vir wysheid met die werk en dat die Here vir hulle duidelik sal wys waar hulp nodig is.

Sondag, 5 November Geopende Deure

Afrika suid van die Sahara was vroeër ‘n uitstekende toeriste bestemming. Met die agteruitgang van die veiligheidsituasie word godsdiensvryheid drasties ondermyn. Bid ernstig vir Evangelieverspreiding in die hele Afrika, deur Geopende Deure se voltydse lede.

Maandag, 6 November Afsluiting van Bybelstudie

Dank die Here vir Bybelstudieleiers wat die afgelope maande getrou in Sy diens gestaan het. “Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof Sy heilige Naam!” (Ps 30:5)

Dinsdag, 7 November Kerkraad

Bid vir ons leiers in die gemeente vir wysheid met die beroep van ‘n tweede leraar: dat dit die regte persoon sal wees tot eer van die Here.

Woensdag, 8 November Dankbaarheid

Ons dank die Here vir elke gemeentelid wat uitreik na mense in nood en wie se harte oop is vir die sending en ander instansies. Mag ons gemeente met wysheid gelei word waar om te help.

Donderdag, 9 November Getuienisbediening

Kom ons dra ons Getuienisbediening aan die Here op. Dankie vir die goeie werk wat hulle in Wolwedans en ook op ander plekke doen. Ons bid vir Emile Hurter en sy span vir leiding.

Vrydag, 10 November Werkloses

Kom ons bid vir duisende mense in ons land wat werkloos is. Bid dat die Vader die situasie in ons land sal verander – dat werk geskep sal word en dat mense wat werk kry, dit sal oppas.

Saterdag, 11 November Naasteliefde

Ons vra vandag vir ‘n gesindheid van liefde en rustigheid in ons mooi land. Gee dat politieke- en gemeenskapsleiers asook verskillende rassegroepe die wysheid sal ontvang om mekaar beter te verstaan en lief te hê.

Sondag, 12 November Kinderdankoffer

Vandag bid ons spesiaal vir ons kinders in die gemeente. Mag dit vir elkeen van hulle ‘n voorreg wees om hul dankoffers vir die Here te gee.

Maandag, 13 November Polisie

Bid dat daar oplossings gevind word vir die deeglike opleiding en beskerming van ons polisie. Hulle word ingestuur om vrede en orde te herstel, maar boet dikwels met hul lewe daarvoor.

Dinsdag, 14 November Nooddienste

Terwyl die vakansietyd nader kom, bid ons vir alle nooddienste, mediese dienste en ook geestelike dienste wat daarvoor gereed maak. Gee dat hierdie tyd ook tot eer van U Naam sal wees.

Woensdag, 15 November Kerkraadsvergadering

Dank die Here vir ons leraar, vir elke kerkraadslid, en vir elkeen wat in ons gemeente ‘n bydrae lewer om die Woord te verkondig en uit te leef.

Donderdag, 16 November Godsdiensvryheid

Dankie Vader dat ons in hierdie land nog vryelik en onbevrees kan aanbid. Ons bid baie ernstig vir mede-gelowiges in geslote lande waar Christene vervolg, gemartel en vermoor word. Gee U aan hulle vertroue en vertroosting.

Vrydag, 17 November Getuienis

Vader, wil U ons gedurig daaraan herinner dat ons volkome van U afhanklik is. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Mat 5:3) Gee dat ons so sal lewe dat ander vir Jesus in ons sal sien.

Saterdag, 18 November Kanker

Elkeen van ons ken iemand, of is verwant, aan iemand met kanker. Mense wat aan hierdie gevreesde siekte (of ander ernstige siekte) ly, het ons voorbidding baie nodig. Dra hulle aan die Here op.

Sondag, 19 November Biddag vir Beskermingsdienste

Dank God vir ons polisie en weermag wat mense beskerm. Bid dat ons sal onthou “God is vir ons ‘n toevlug en beskerming. Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” (Ps 46:2)

Maandag, 20 November Lewenskoste

Vader, ons bid vir ons land en sy mense aangesien lewenskoste al hoe hoër word. Baie mense word moedeloos omdat hulle hul werk verloor en nie hul gesinne kan onderhou nie. Ons bid vir hulp en vertroosting.

Dinsdag, 21 November Boere-gemeenskap

Ons bid vir ons boere wat met uiterste weersomstandighede te doen kry. Verder ondervind hulle dikwels veediefstal asook veldbrande. Dankie, Here, vir elke boer wat volhard om voedsel te produseer.

Woensdag, 22 November Kerk in Buiteland

Baie van ons gekwalifiseerde jonger mense gaan in die buiteland werk. Bid dat die Here hulle sal gebruik om ook Sy getuies te wees.

Donderdag, 23 November Geweld

Min of meer elke nuusuitsending begin met geweldsverslag. Op die Kaapse Vlakte word heen-en-weer-skietery duidelik vertoon. Kinders word raak geskiet. Baie mense is bevrees om op straat te stap. Bid dat die Here ons polisiemag sal bewaar en sal lei om daar veiligheid te skep.

Vrydag, 24 November Televisie en Rekenaars

Dit is vir ouers moeilik om te kontroleer waarmee hul kinders op televisie en rekenaars besig is. Bid dat ouers ook hierin vir hul kinders duidelik sal lei. “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.” (Kol 3:20)

Saterdag, 25 November Eredienste

Bid vandag ernstig dat die Here mense na geestelike byeenkomste sal stuuren dat elkeen wat DV môre die Woord verkondig, biddend sal voorberei.

Sondag, 26 November Kerssangdiens

Kom ons loof Jesus met ons hart en verstand. Jesus, ons loof U! Jesus, ons prys U! Laat ons met eng’le ‘n loflied sing Nie meer verlore; U is gebore; Ontvang die dank wat ons U bring!

Maandag, 27 November Leiers

Kom ons bid vandag vir al ons leiers: staatsleiers, maar ook geestelike leiers, dat hulle die Here as hul Leier sal dien. “Moenie van mekaar kwaadpraat nie. Hy wat van sy broer kwaadpraat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet… (Jak 4:11)

Dinsdag, 28 November Veiligheid

Gedurende vakansietye gebeur meer padongelukke. Bid dat die Here sy kinders sal bewaar: dat ons geduldig sal wees op die pad, nie onder die invloed van drank bestuur nie en spoedbeperkings sal gehoorsaam. “Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.” (Ps 121:5)

Woensdag, 29 November Eensames

Here, dis so wonderlik om ons familie naby ons te hê. Maar ons bid vandag vir so baie gemeentelede wat alleen in hul huisie of kamer woon. Laat ons Ps 25:16 vir hulle bid: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote.”

Donderdag, 30 November Waak en Bid

Gedurende vakansietyd is baie mense geneig om minder na eredienste te gaan. Bid dat ouers vir hul kinders ‘n voorbeeld sal wees. “Omdat julle kinders van God is…, moet julle sy voorbeeld volg. (Efes 5:1)

GEBEDSGIDS OKTOBER 2023

Gebed

Gebed verander alles.
Moenie angstig wees nie.
Bid tot God.
As God vir ons is,
wie kan teen ons wees.
Sy genade is genoeg.

1 Oktober – Sondag- Eljada Nasorg

Ons gee vandag ons spesiale kollekte vir Eljada in Oudtshoorn wat hierdie spesiale werk verrig. Bid dat die hande en harte oop sal wees vir hierdie saak en dat daar ‘n groot kollekte ingesamel sal word.

2 Oktober – Maandag – Bejaardes

Gister was biddag vir bejaardes en wil ons vandag spesiaal dink aan al ons bejaardes. Bid dat hulle nie alleen sal wees nie en dat hul in die besonder ook sal uitreik na vriende en familie en ‘n gees van positiwiteit sal aankweek.

3 Oktober – Dinsdag – Polisie

Ons dra vandag alle lede van die polisiemag op aan die sorg van die Here en bid dat hulle hul werk met die nodige sorg sal verrig en dat die Hand van die Here hul veilig sal bewaar waar hulle in groot gevaar verkeer in hul daaglikse werk.

4 Oktober – Woensdag – Bybelvertaling

Daar is miljoene mense wat nog nie een woord van die skrif in hul eie taal gehoor of gelees het nie. Bid dat die Bybel binnekort in meer tale vertaal sal word.

5 Oktober – Donderdag – Mediese personeel

Bring mediese personeel in hospitale, noodeenhede en nasorg fasiliteite in gebed na God. Bid vir hulle vir krag, akkurate diagnoses, geduld en liefdevolle sorg aan hul pasiënte.

6 Oktober – Vrydag – Moslems

Vandag is dit die Moslems se “kerkdag”. Bid dat hul die woord sal hoor en tot inkeer sal kom. Ons bid ook vir die baie bekeerde Moslems wat nie in hul eie huise en families aanvaar word nie, maar daagliks vervolg word.

7 Oktober – Saterdag – Studente

Bid vir werksgeleenthede vir die studente wat hulle studies voltooi en hul grade, diplomas of sertifikate sal ontvang. Bid ook dat hulle hul lewe en toekoms aan God sal toevertrou vir die regte geleenthede en leiding.

8 Oktober – Sondag – Alta du Toit Skool

Alta du Toit versorg kinders van klein tot 18 jaar. Bid dat mense se harte sal oopgaan en sal help deur te bid, skenkings te gee, te help met huiswerk, handvaardighede, klere, biblioteek, toiletware asook skryfgoed en speelgoed. Bid ook dat die mense se harte sal oop wees en mildelik sal gee by vanoggend se spesiale offer by die kerk.

9 Oktober – Maandag – MIV/Vigs

Hou asseblief aan om te bid vir mediese deurbrake in die behandeling van MIV/VIGS. Bid vir die wat geïnfekteer is vir ‘n geleentheid om die Here Jesus persoonlik te leer ken.

10 Oktober – Dinsdag – Skole heropen

Bid vir die leerders en leerkragte dat hulle hul werk met entoesiasme sal voltooi vir die laaste kwartaal. Ons bid ook spesifiek vir die matrieks waar hul eindeksamens nou sal plaasvind.

11 Oktober – Woensdag- Werkskepping

Diefstal vier hoogty a.g.v. ‘n tekort aan werk en bid ons dat daar werkskepping sal plaasvind maar dat die mense wat nie werk het nie, ook hul kant sal bring indien hul ‘n werk ontvang om dit met die nodige aandag te verrig.

12 Oktober – Donderdag – Woorde en Dade

Kom ons bid vandag dat ons dade en ons woorde ooreenstem, laat ons met ons verlede breek en ‘n bewustelike keuse maak om ‘n verskil te maak daar waar ons is.

13 Oktober – Vrydag – Families

Bid vandag vir huwelike, verhoudings tussen ouers en kinders, asook tussen kinders onder mekaar. Bid vir sagte harte in die daaglikse omgang met mekaar.

14 Oktober – Saterdag – Kerkbywoning

Na Covid is baie mense nie genoop om die kerkdienste by te woon nie. Ons bid dat daar weer ‘n gees van samesyn en vriendskap sal ontstaan wat die mense na die kerk sal lei waar hul weer die Here kan bedien met lofprysing en sang.

15 Oktober – Sondag – Gideons

Die Gideons reik uit na mense wat nie die woord van God ken nie deur onder andere Bybels te versprei. Ons bid dat hulle werk geseën sal word en dat die plekke waar hulle uitdeel hulle goedgunstiglik sal ontvang.

16 Oktober – Maandag – Christene in die Midde-Ooste

Bid asseblief vir alle Christene wat in die Midde-Ooste en Asië woon om steeds met vrymoedigheid van die liefde van Christus teenoor ander te getuig en dat hulle sal getrou bly aan die Here.

17 Oktober – Dinsdag – Rasseverhoudinge

Ons bid, Heer, dat daar ‘n positiewe gesindheid sal heers tussen die verskillende rasse op Grootbrak en dat hulle in vrede en liefde sal saamleef.

18 Oktober – Woensdag – Geestelike leiers

Vandag bid ons in besonder vir ons geestelike leiers en leraars in ons Ring – vir hulle gesinne, hulle gesondheid, hulle huwelike en bid ons teen aanvalle van die Bose, kritiek, misverstande, moegheid en dat hulle harte met God se liefde vervul sal wees.

19 Oktober – Donderdag – Gevangenes

Bid dat gevangenes, veral jongmense, ‘n persoonlike openbaring van die liefde van Christus sal ervaar. Ons bid dat hulle harte ontvanklik sal word en dat hulle gewillig sal wees om te leer en getrou aan die rehabilitasie projekte sal deelneem.

20 Oktober – Vrydag – Verslawing

Ons bid vir soveel mense wat vasgevang is deur een of ander vorm van verslawing soos alkohol, dwelms, kos, tegnologie of slegte gewoontes. Vra vir die oortuiging van die Heilige Gees om hulle uit die duisternis na die lig te bring.

21 Oktober- Saterdag – Ons Middelpunt

Bid dat ons gemeente elke dag van die week en nie net Sondae, alle eer aan ons Hemelse Vader sal gee en besef dat Hy die middelpunt van alles en elkeen is.

22 Oktober – Sondag – Aarde

Laat ons vandag dink aan ons aarde en dat die mens wat aangestel is om die aarde te beskerm, sal optree met die nodige sorg en ook almal sal bewus maak van ons aarde se bronne se beskerming.

23 Oktober – Maandag – Sendelinge

Ons het baie sendelinge wat ons ondersteun in ons gemeente. Bid asseblief vir almal van hulle en bid ook dat ons gemeentelede sal uitreik na hulle en getrou hul werk sal ondersteun. Bid ook vir geestelike ondersteuning.

24 Oktober – Dinsdag – Radio Feba

Radio Feba doen sending d.m.v. die radio en wil ons bid dat die Here se woord ook so uitgedra sal word na die onbereiktes. Maak hulle harte ook ontvanklik vir die woord wat hulle so ontvang.

25 Oktober – Woensdag- Blokbyeenkomste

Elke Woensdag word Blokbyeenkomste gereël waar ons in kleingroepe bymekaar kom. Bid dat die nuwe intrekkers hier sal inskakel en deel van die gemeente sal word. Laat dit ook ‘n samesyn tussen die wykslede bewerkstellig.

26 Oktober – Donderdag – Regering

Ons bid vandag vir ons Regering (Rom 13 : 1-7). Die owerhede is daar deur God se beskikking. Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word.

27 Oktober – Vrydag- Gemeentefees en Konsert

“ Here, ons wil ons lewe aan U wy en wil ons met die konsert ons talent aan U opdra. Ons vra ook dat U elke projek by die fees sal seën en dat die gelde wat so ingesamel word tot U eer aangewend sal word.”

28 Oktober – Saterdag- Kerkprojekte

Ons bid vir alle projekte wat in ons kerk geloods word en dat dit deur U geseën sal word. Ons dank U vir lidmate wat getrou is met die Kategese-klasse, projekte, sopkokers, nasorg-aktiwiteite, gebede groepe en bid vir kreatiewe idees, geduld en liefde om hierdie groot werk te doen.

29 Oktober – Sondag- Kindersorg

Vandag is die spesiale offer by die deure vir Kindersorg en bid ons dat die lidmate mildelik sal gee vir die aanwending by behoeftes waar dit die grootste is.

30 Oktober – Maandag – Sendelinge

Ons bid vandag in die besonder vir die sendelinge en predikers en hulpwerkers wat op straat die mense help en leiding gee. Mag hul elke dag God se nabyheid ervaar, en die wonderwerke waarvoor hulle bid raaksien in die Straatmense se lewens.

31 Oktober – Dinsdag – Eskom

Bid dat Eskom sy probleme sal oorkom en dat die Here al hoe meer son-en windkrag projekte tot stand sal laat kom. Bid dat soortgelyke projekte spoedig voltooi sal word en werk verskaf aan baie mense.

GEBEDSGIDS SEPTEMBER 2023

Gebed

Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

Jak. 5:16

Vrydag 1 September – ‘n Nuwe Maand

Here Jesus, ons wil U loof en eer vir al die seëninge wat ons onverdiend en mildelik van U ontvang. Dankie vir nog ‘n maand wat voor ons lê. Help ons om te volhard in gebed. Ons eer U as die Lewende God, die Almagtige, ons Verlosser, Leidsman en Hoorder van ons gebede.”

Lees meer “GEBEDSGIDS SEPTEMBER 2023”

Gebedsgids vir Augustus 2023 – NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed Foto deur Ivan Samkov: https://www.pexels.com/photo/woman-in-gray-knit-sweater-praying-6436311/

Gebedsgids

Augustus 2023

Dinsdag 1 Augustus:Kom ons bid vir al die eensames

“My God My God waarom het u My verlaat” was Sy woorde met Sy kruisiging. Eensaamheid kan erg wees en daar kan tye kom dat ons ook so mag voel. Kom ons bid tot die Here vir Sy alom teenwoordigheid en nabyheid.

Woensdag 2 Augustus:Kom ons bid vir al die siekes

Daar is vele siekes in ons gemeenskap. Kom ons dra hulle almal aan die Vader op vir genesing.

Donderdag 3 Augustus: Kom ons bid vir al die armes

In ons gemeenskap is daar baie gesinne wat brandarm is en skaars ‘n huis het om in te woon. Wat snags in die koue in ‘n sink kaia moet slaap. Ons bid dat die Vader hulle moet bystaan in hulle nood.

Vrydag 4 Augustus: Beskermingsdienste en Polisie

Die land se beskermingsdienste verkeer onder groot druk. Ons dra hulle aan die Vader op.

Saterdag 5 Augustus:Eerbiedwaardige optrede

Ons kan ons soms so skuldig maak aan ruwe en onbeskofte optrede teenoor ons medemens en naaste. Kom ons vra die Vader deur gebed om Sy Heilige Gees in ons harte te vestig en dat ons gelei kan word tot eerbiedwaardige en vreugdevolle optrede.

Sondag 6 Augustus: Gestremdes

Gestremdheid van watteraard ookal is nie maklik nie. Die gestremde asook hulle gesinne het ‘n swaar las om te dra. Ons smeek God in Sy almag om Sy genade oor gestremdes en hul gesinne in oormaat uit te stort.

Maandag 7 Augustus: Oues van dae

In ons omgewing is daar vele oues van dae. Hulle woon by kinders, in ouetehuise of sorgsentrums. Van hulle is ook enkellopend en woon alleen. Ons bid vir hulle en vir mekaar en vra ons Almagtige Vader vir Sy liefde en beskerming en dat die laaste jare met vreugde, lag en liefde gevul sal wees.

Dinsdag 8 Augustus:Beskerming van gelowiges in die Midde-Ooste

Ons broers en susters in die Here in die Midde-Ooste het dit geweldig swaar. Word hulle geïdentifiseer, is dood of is marteling hulle voorland. Ons bid tot God vir ‘n versoenende Gees aldaar en dat Hy hulle sal beskerm om Hom vrylik te kan aanbid en dien.

Woensdag 9 Augustus: Nasionale Vrouedag

Ons rig ons gebede tot die Vader om Sy vleuels van liefde en beskerming oor die ganse vroulike geslag uit te sprei en hulle te seën vir die enorme positiewe bydrae wat vroue oor die wêreld, in die wêreld maak.

Donderdag 10 Augustus:Misbruik van kinders (Markus 9:42)

Miljoene kinders van alle ouderdomme word dwarsoor die wêreld misbruik en verniel. Hulle word seksueel misbruik, hulle word as slawe verkoop, op allerlei wyses mishandel en verniel. Ons dra die kinders se lot deur ons gebede aan die Here op.

Vrydag 11 Augustus:Bekommerde mense

In ons gemeenskap kan vele bekommerde geliefdes wees. Bekommerd oor finansies, behuising, gesondheid, kinders, ouers ens. Kom ons dra hulle almal aan die Vader op vir die nodige gemoedsrus.

Saterdag 12 Augustus: Stop van bendegeweld

Bendegeweld is ‘n groot probleem in ons samelewing. Gepaardgaande daarmee ook baie misdaad en moord. Kom ons vra die Vader vir vrede op hierdie gebied en dat Hy dit sal omskakel na iets wat Sy grote naam tot eer sal strek.

Sondag 13 Augustus:Werkende mense

Ons dank en gebede gaan uit na werkende mense wat ons land instand hou. Ons vra vir die Vader om hulle te onderskraag, ook in so ‘n mate dat hulle Hom nooit sal vergeet nie.

Maandag 14 Augustus: Radelose mense

Vele mense in ons omgewing en in ons land is raadop met omstandighede wat hulle deel is. Dit mag hulle finansies wees, hulle kinders, hulle ouers, hulle vriende en dalk nog hulle kerk ook. Kom ons dra hulle aan die Here op vir verligting van hulle omstandighede.

Dinsdag 15 Augustus: Korrupsie

Ons land word geteister deur korrupsie van der duisende miljarde rande. Skaamtelose amptenare maak hulle skuldig daaraan. Ons bid tot die Vader om hulle gewetes aan te raak om die gestelery te staak.

Woensdag 16 Augustus: Ons land se leiers

Ons dra ons land se leiers aan die Here op. Ons land is in groot verknorsing op alle gebiede. Ons vra vir die Vader om ons leiers met helderheid van verstand toe te rus om sodoende ons land weer op ‘n wenpad te plaas en hulle te weerhou van korrupsie en staatskaping.

Donderdag 17 Augustus:U Skepping

Soos Adam en Eva in ‘n pragtuin gewoon het, woon ons steeds in U tuin Here. Deur ‘n “klein” oortreding het U hulle verblyf opgeskort. In teenstelling bemors en vernietig ons U Skepping teen ‘n ongehoorde tempo. Ons gebede is om die Vader te vra om elke mens se gesindheid teenoor Sy Skepping positief te verander.

Vrydag 18 Augustus:Bybelgenootskap

Ons weet almal wat die Bybelgenootskap vermag. Kom ons dra die genootskap aan die Vader op om in al hulle behoeftes te voorsien en hulle wonderlike werk te seën.

Saterdag 19 Augustus:Ons land se jeug

U, Here het eenkeer gesê dat as een kinders leed aandoen, dit vir hom beter sal wees om met ‘n meuelsteen om die nek in die see gewerp te word. Kom ons bid vir kinders en dat God Sy vleuels van beskerming oor elkeen sal hou.

Sondag 20 Augustus: Ons erediens

Ons dra vanoggend se erediens in ons gebede aan die Vader op en vertrou dat ons lofprysing vir Hom aanneemlik sal wees.

Maandag 21 Augustus:Sending

Oor die hele wêreld heen is daar pragtige mense wat die evangelie aan ander bekendstel en baie mense wat die evangelie aanvaar of dalk twyfel of hulle dit moet aanvaar. In sekere wêrelddele is dit ‘n lewensgevaarlike taak vir beide partye. Kom ons bid weer dat die Vader hulle almal onder Sy vleuels sal intrek, sal lei en bewaar.

Dinsdag 22 Augustus: Verslaafdes

Baie volwassenes, jong mense en jong-jong kinders is verslaaf aan dwelms. Ons kan maar net vir God vra om hulle van hulp te wees met genesing. Mag God se gramskap ook fel neerkom op hulle wat die dwelms verskaf sodat hulle eerder smokkelaars van Sy Woord sal word.

Woensdag 23 Augustus:Mediese Wetenskap

Ons bid en dank die Vader vir die hulp en leiding wat Hy aan die mediese wetenskap gee in die ontwikkeling van medikasie. Medikasie wat siekes oor die hele wêreld van ‘n beter lewe verseker. Maar ook vir die voordeel wat ons hier in die Brak daaruit geniet.

Donderdag 24 Augustus: Diens aan oues van dae

In ons gemeenskap is daar dokters, verpleegpersoneel, verpleeg-assistente en omsien peroneel wat na vele van ons gemeenskap omsien. Kom ons dra hulle almal aan die Here op in ons gebede en dank ook die Here dat ons sulke pragtige mense om ons het.

Vrydag 25 Augustus: Vermiste mense en kinders

Ons hoor gereeld van volwassenes en kindertjies so jonk as 10 jaar en selfs jonger wat op een of ander tragiese wyse vermis geraak het. Ons bid vir kalmte en hoop by families en gesinne, maar ook vir die ingesteldheid of vrees wat by die vermistes aanwesig mag wees. Ons vra vir Vader vir hulle veiligheid en spoedige terugkeer.

Saterdag 26 Augustus: Verwaarloosde mense

Daar is vele verwaarloosde mense in ons en in die breër gemeenskap om ons, wat in wanhoop lewe. Laat ons die Vader in ons gebede vra om ook met elkeen van sulke mense te wees. Dat ons as sy bevooregte kinders die moed sal hê om ook na hierdie mense om te sien al is dit net deur ‘n bydrae te maak aan hulle wat daagliks na hierdie mense omsien.

Sondag 27 Augustus: Ons Munisipaliteite

Met meeste munisipaliteite gaan dit nie goed nie. Dienslewering en herstelwerk het tot stilstand gekom, korrupsie vier hoogty, miljarde rande word aan leweransiers geskuld en inwoners ly daaronder. Ons bid tot God om hier in te tree en ‘n verantwoordelikheid by amptenare te skep wat hierdie tragiek moet regstel.

Maandag 28 Augustus:Plaasmoorde

Ons land word geteister met plaasmoorde en sommige politici hits dit aan. Ons gaan die Vader vra om drasties hier in te tree ter beskerming van ons land se boere, maar ook om die hele ingesteldheid van moordenaars en potensiële moordenaars en aanhitsers te verander.

Dinsdag 29 Augustus:Skooldogters

Skooldogters is vandag onder geweldige sosiale druk. Duisende is swanger juis as gevolg van hulle weerloosheid. Kom ons dra hulle almal aan die Here op vir Sy beskerming.

Woensdag 30 Augustus:Ons skole

Dit is van groot belang dat ons jeug goeie skoolopleiding kry. Ongelukkig is dit nie oral die geval nie en is daar groot leemtes. Kom ons pleit by ons Here om ons skolestelsel ter wille te wees en dit sodanig op te hef dat ons dankbaar trots sal wees op die kinders wat dit sal lewer en wat hierdie pragtige land van ons die toekoms sal kan inlei.

Donderdag 31 Augustus: Omgeebediening

Ons dra vandag ons gemeente se omgeebediening aan die Here op deur ons gebede. Ons bid vir Sy seën op al hulle omgeewerk.

Gebedsgids Julie 2023

Gebed

GEBEDSGIDS – JULIE 2023
“Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan [..]
miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra.”
(Lukas 13:8b en 9a)
Saterdag, 1 Julie Getuienisgeleenthede “Here, dankie dat U met ons geduld het, en soos vir die vyeboom nog geleenthede gee om te getuig.” Kom ons word bewus van ander se nood om Jesus te ken.

Lees meer “Gebedsgids Julie 2023”

Gebedsgids Junie 2023

Gebed

1 Junie – Donderdag – Konflik

Bid vir oplossings in konflik situasies en vra dat vrede sal seëvier. Bid ook dat mense mekaar se siening sal insien en nie altyd “reg” moet wees nie, maar dalk die ander kant van die saak ook insien.

2 Junie – Vrydag – Eskom

Ons bid vandag vir ons leiers en die Eskom direksie om die regte besluite te neem en hul gelde reg aan te wend sodat die land se krag weer herstel sal word. Ons bid ook dat alternatiewe metodes van kragopwekking gevind sal word en meer werkskepping sal bevorder en krag sal vernuwe.

3 Junie – Saterdag – Vertroue

Ons bid vandag dat die gemeentelede sal leer om stil te raak en op God te vertrou vir versorging, leiding, wysheid en insig.

4 Junie – Sondag – Biddag vir Ekologie

Ons wêreld raak al hoe droӫr en daarom bid ons vandag dat die mense sal besef dat hul opdrag as mens uitgevoer moet word en dat hulle na die wêreld moet omsien en pro-aktief moet optree ter bewaring van ons bronne.

5 Junie – Maandag – Finansiӫle swaarkry

Ons bid vandag vir alle ouers wat finansieӫl swaarkry en nie altyd kan byhou vir alles wat hul kinders benodig nie. Ons bid ook vir die kinders se aanvaarding met hul ouers se situasie.

6 Junie – DinsdagSending

Ons bid dat die kanale waarop die sendelinge boodskappe kan uitdra soos radio en tv en ander sosiale media, oop sal wees en gebruik sal word om die mense wat in afgeleë plekke leef, te bereik.

7 Julie – Woensdag- Geestelike gesondheid

Bid dat mense wat in hierdie uitdagende tye sukkel met hul geestelike gesondheid die nodige leiding sal kry en ook by die regte plekke sal aanklop vir hulp.

8 Julie – Donderdag – Hulpverlening

Ons wil graag vandag stil raak voor God en die mense wat altyd hulp verleen aan Hom opdra en vra dat daar uit ander bronne baie skenkings sal kom vir behoeftige kinders en dat hul ook die behoefte sal raaksien van die wat hulp benodig.

9 Julie – Vrydag – Paulus se gebed

Ons bid vandag Paulus se gebed in Ef 3: 14-21 – Ons bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

10 Julie – Saterdag – Huis van God

Dank God met ‘n opregte hart en blymoedige gees dat ons in Sy huis kan aanbid sonder dat ons vervolg word en openlik tot Hom kan bid en gesange kan sing.

11 Julie – Sondag – Instandhoudingsfonds

Ons deurkollekte is vandag vir ons kerk se instandhouding en daarom vra ons vandag voorbidding dat gemeentelede met ‘n oop hart en hand sal skenk vir die instandhouding van die perseel.

12 Julie – Maandag – Hoop

Bid vir hulle wat hoop verloor het en wat elke dag net “oorleef” en wat nie meer kans sien om aan te gaan in ‘n wêreld wat geen hoop het in hulle oӫ nie.

13 Julie – Dinsdag – Geestelike gawes

Die Heilige Gees rig ons almal toe met sekere gawes wat in die kerk van God gebruik word. Bid dat die mense hul geestelike gawes sal raaksien en sal besef dat hul dit kan aanwend om God se koninkryk te bevorder.

14 Julie – Woensdag – Die Politiek

Ons bid vandag dat die korrupsie in die land en in die politiek uitgewys sal word en sal verminder en dat hulle die fondse wat tot hulle beskikking is sal aanwend tot opbou van ons land en sy mense en nie vir eie gewin nie.

15 Julie – Donderdag – Onsekerheid

Wag jy vir ‘n antwoord van God en is jy onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet 5: 7.

16 Junie – Vrydag – Jeugdag

Bid vandag vir ons jeug en hul geestelike en emosionele welstand in vandag se tye en dat hulle standvastig sal bly in ‘n wankelende wêreld.

17 Junie – Saterdag – Leraars

Ons bid dat ons leraars die nodige insig en kennis van U sal ontvang om met die gemeente te deel en dat hulle dit op so ‘n ontvanklike manier aan die gemeente kan meedeel dat hulle dit sal verstaan en ook kan uitleef.

18 Junie – Sondag – Vadersdag

“Vader, kom versterk ons Vaders dat hulle ons huishoudings weer as die Koning van die huis sal beharting en die nodige leiding en rigting aan die huisgenote gee en versterk hulle met die nodige insig en begrip om as ware leiers op te tree.”

19 Junie – Maandag- Buitelandse sending

Buitelandse sending vorm ‘n groot deel van ons insamelings en daarom vra ons vandag vir ekstra voorbidding vir die werk wat die sendelinge in die buiteland onder moeilike omstandighede moet doen.

20 Junie– Dinsdag- Siekes

Vader, ons bid vir alle siekes en die wat in pyn is asook mense wat bekommerd is oor die behandeling wat dalk nie die gewenste uitwerking het nie. Seën asb alle dokters en verpleegpersoneel met wysheid om die regte diagnose te maak en siekes met deernis te versorg.

21 Junie – Woensdag – Internet

Tegnologie speel deesdae ‘n groot rol in ons daaglikse lewe. Ons bid dat daar ontwikkelaars vir die internet sal wees sodat die Woord van die Here weer gehoor en gelees sal word en dat die internet ook tot die uitbreiding van die Koninkryk van die Here gebruik sal word.

22 Junie – Donderdag – Besparing

Ons wêreld gaan gebuk onder allerlei spandabelrigheid en daarom bid ons dat die mense ons hulpbronne in ag sal neem en sal kyk waar hulle kan bespaar eerder as verkwis.

23 Junie – Vrydag- Personeel van Kerk en nuwe Dominee

Bid vandag en ook gedurende die maand vir ons Kerk se personeel asook die proses om ‘n nuwe dominee te beroep en dat ons die regte besluit sal neem, maar dat die dominee ook die bevestiging sal kry om hiernatoe te kom.

24 Junie – Saterdag – Onderwysers en Dosente

Ons dra vandag alle onderwysers en dosente aan die Here op en vra dat die Here hulle leiding sal gee om te alle tye so te leef dat Jesus in hul lewe sigbaar is en dat hulle ‘n voorbeeld van ware Christene sal wees. Bid ook dat hulle sal rus in hierdie vakansietyd.

25 Junie – Sondag – Motoriste

Ons bid vandag vir almal op die paaie. Ons bid dat U met hulle sal wees en dat die bestuurders die nodige respek teenoor ander motoriste sal toon asook kalmte op die paaie sal ervaar.

26 Junie – Maandag – Boere

Bid vir ons boerderygemeenskap wat leef met onsekerheid oor grondhervorming en

arbeidsverhoudings. Bid dat die regering hierdie sake met wysheid sal hanteer en dat hul die nodige oplossings vir die vrae sal vind.

27 Junie– Dinsdag – Wil van God

1 Joh.5:14 sê dat as ons iets vra volgens God se Wil, ons dit sal ontvang. Ons bid dat die mense U Bybel sal lees, sal oordink en op hul lewe sal toepas en gereeld na U sal kom om U wil te ontdek en U Woord te bid.

28 Junie – Woensdag – Ongereddes

Ons bid vandag dat die gemeente die ongereddes wat nog nooit van Christus gehoor het nie, sal nader en dat hul nie sal skaam wees om die Woord van God aan hulle te bring nie. Ons bid ook vir ontvanklike harte en dat Christus die weg vir hulle sal voorberei.

29 Junie – Donderdag – Beskermingsdienste

“Jesus, ons bid vandag vir elke lid van die beskermingsdienste wat onbaatsugtige diens lewer in moeilike plekke en tye en bid dat hulle die nodige krag sal ontvang om hul werk met blymoedigheid te kan doen en ook deur hul optrede U woord verder te versprei. 

30 Junie– Vrydag – Roeping

Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping wat jy van Jesus ontvang het, sal uitleef en ook in die proses ander met jou houding na Jesus sal lei.

Gebedsgids Mei 2023

Gebed

GEBEDSGIDS – MEI 2023

In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense” – 1 Timoteus 2:1

MAANDAG 1 MEI – Werkersdag

Bid vir groter hardwerkendheid, arbeidsvrede en versoening by almal wat werk het en arbeidspraktyke waar reg en geregtigheid seëvier.Vra vir uitkoms vir werkloses en armes en dat ons oor hulle besorgd sal wees. Mag mense vreugde in hul arbeid vind.

DINSDAG 2 MEI – Die dag van die Here

“Ditis die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps 118:24). Dit is elke dag die dag van die Here, kom ons loof en dank God vir elke dag wat Hy ons skenk en laat ons hierdie maand elke dag voluit vir Jesus leef.

WOENSDAG 3 MEI – Leef jou Christenskap

Vandag kom dank ons die Vader vir elkeen in die gemeente wat God se lig in ‘n donker wêreld laat skyn – deur voorbeeld, uitreik na hulle in nood, ‘n selfoon-oproep, ‘n handdruk, luisterende oor, glimlag en helpende hand. So leef ons Jesus se gesindheid en voorbeeld uit.

DONDERDAG 4 MEI – MES (Mould, Empower, Serve)

MES in Kaapstad se visie is om die haweloses, armes, hongeres, naaktes en behoeftiges te ondersteun. Bid vir meer vrywilligers om te help met die verskillende programme. Bid vir werksgeleenthede vir die gerehabiliteerdes. Dank die Here vir gelowiges wat selfloos, vrywillige diens lewer en hul tyd afstaan by hierdie bediening.

VRYDAG 5 MEI – Moslem Bediening

Bid asb vir Moslems in SA. Vra dat Christene se leefwyse en getuienisse hulle na Jesus sal lei, dat hulle liefde en nie verwerping sal ervaar nie. Dra almal wat by hierdie bediening betrokke is aan die Here op.

SATERDAG 6 MEI – Sosiale Geregtigheid

Bid dat die Gees vir elkeen van ons kreatiewe maniere sal gee om mense in nood te help en dat ons sal weet waar en hoe om betrokke te raak. Dat ons as Sy kerk sal verstaan dat ons hier is ter wille van ander.

SONDAG 7 MEI – Bid en Getuig

Ons prys U Naam dat ons as gemeente saam kan bid. Ons erken ons diepe afhanklikheid van U. Here Jesus, gee ons asb ‘n passie vir siele dat ons begaan sal wees oor hulle wat nog buite staan. Maak ons gehoorsaam en sensitief vir U stem sodat ons nie geleenthede by ons sal laat verbygaan om vir U te getuig nie”.

MAANDAG 8 MEI – Suid-Afrika se mense en leiers

Bid dat die probleme in ons land ons tot verootmoediging sal lei. Bid dat die lig van die Evangelie ons politieke, sake- en maatskaplike-leiers sal verlig en dat hulle voor Sy almag sal buig en erken dat die Bybel ons hoogste gesag is. Bid vir gelowiges om te erken en te bely dat ons God in beheer is, al lyk dit nie vir ons so nie.

DINSDAG 9 MEI – Ons Gemeente

Dra ons leraar, kerkraad, kommissies, amptenare, leiers en elke lidmaat aan die Here op. Bid vir afgedwaalde gemeentelede; gesinne met probleme, hartseer en pyn. Bid dat ons as gemeente waarlik die lewende liggaam van Christus sal wees en dit uitleef.

WOENSDAG 10 MEI – Verantwoordelike Burgers

Bid vir wysheid en insig sodat ons as gelowiges elkeen elekrtrisiteit, water en ander noodsaaklike hulpbronne met verantwoordelikheid sal gebruik. Dank die Here vir al die voorregte en seëninge wat ons geniet.

DONDERDAG 11 MEI – Verslaafdes

Bid vir so baie mense en jeudiges wat verslaaf is aan drank, dwelms en ander vorms van afhanklikheid. Bid vir gesinne wat geraak word en met die probleme worstel. Vra vir begrip, wysheid, geduld en bo-al vir Goddelike ingryping. Laat God ons toevlug wees.

VRYDAG 12 MEI – Vervolging in Turkye

Christene in Turkye ervaar groot druk van toenemende godsdienstige nasionalisme. Die regering teiken alle Christene en selfs buitelandse gelowiges. Bid dat die Turkse regering sal erken dat Christene ‘n waardevolle deel van die bevolking verteenwoordig.

SATERDAG 13 MEI – Christenskap in Skole

Baie skole wêreldwyd verbied Christenskap. Bid dat Christen onderwysers en kinders in ons land, hul geloof sal uitleef, nie skaam sal wees vir die Evangelie van Christus nie.

Dat hul maats hierdeur die liefde van God in hulle sal sien en ook vir Jesus sal leer ken.

SONDAG 14 MEI – Moedersdag

‘Wat is ‘n huis sonder ‘n Moeder’ is ‘n ou gesegde, maar tog so waar. Kom ons dank God vir die moeders in ons lewens, vir hul sorg en liefde en voorbeeld. Bid dat die Here hulle sal seën en Sy liefde altyd oor hierdie besondere mense, die wag sal hou.

MAANDAG 15 MEI – ‘n Stukkende Wêreld

Vader, ons bid opnuut vir lande wat die afgelope tyd deur oorloë en rampe geteister is – Rusland, Oekraïne, Turkye, Sirië en vele lande in Afrika. Ons dank U vir almal wat betrokke was met hulpverlening en bid dat lydendes hul troos en krag by U sal vind.”

Pray often, for prayer is a shield to the soul, a sacrifice to God, and a scourge for Satan.” John Bunyan

DINSDAG 16 MEI – Ongereddes op aarde

Miljoene “Christene” in die wêreld het geen persoonlike verhouding met die Here Jesus nie. Bid vir predikers om mense op te roep tot bekering. Bid dat God vir ons land evangeliste sal gee wat die evangelie kragtig sal verkondig, asook lidmate wat getuig.

WOENSDAG 17 MEI – Inbrake en Kapings

Huis-inbrake en voertuigkapings vermeerder. Bid asseblief vir die Here se bewaring in tye van inbrake en kapings. Mag die Here Jesus ook in die harte van kwaaddoeners werk om tot inkeer te kom en om van hulle planne af te sien.

DONDERDAG 18 MEI – Hemelvaart

Die Heer regeer, Hy’t opgevaar, Die dood kon Hom nie hou nie.

Sy almag sal ook ons bewaar – wie sal op Hom nie bou nie.

Kom sing dan nou ‘n loflied saam: Hy roep ons na Sy woning.

Kom prys die allergrootste Naam, ons Heer en Koning.” (Lied 429)

VRYDAG 19 MEI – Vervolgde vroue wêreldwyd

In Moslemlande word vroue geteiken om die Christengemeenskap te straf of skade te berokken. As Christene en vroue word hul as minderwaardig geag. Bid dat hulle as opvoeders van die volgende geslag hul waarde in God sal besef en Sy beskerming en seën sal ervaar.

SATERDAG 20 MEI – Voorbereiding vir Pinkster

Pinksterdienste begin more. Kom ons loof en dank God as Heilige Gees. Die Bybel sê in I Kor 12:3b: ‘niemand kan sê “Jesus is die Here” nie behalwe deur die Heilige Gees’. So weet ons dat die Heilige Gees in ons woon en ons Leidsman is. Bid dat ons elkeen dit opnuut sal beleef hierdie Pinkster.

SONDAG 21 MEI – Pinkster

O Heil’ge Gees,o God in ons, ons wil u krag besing:

Die krag wat Jesus op laat staan en lewe in ons bring.

Maak ons oorwinnaars in die stryd wat ons ook nou moet stry.

O Gees van God, getuig in ons, dat ons u kinders bly.” (Lied 439)

MAANDAG 22 MEI – God Regeer

Ons oë is op U gerig, ons prys U wat die hele wêreld in die holte van U hand vashou. Wil U ons Regering aanraak met U vuur, bring hulle asb tot die besef van hul verlorenheid sonder U. Ons bid dat U hul asb sal bevry van magshonger en korrupsie”.

DINSDAG 23 MEI – Bewaring van ons jeug

Bid vir ouers, om hulle doopbelofte na te kom en tyd aan hul kinders te bestee. Bid vir onderwysers, sportafrigters, kategete en almal wat met die jeug werk, dat hul leiding positief en volgens God se Woord sal wees. Vir getrouheid en standvastigheid by die jeug en dat hulle mekaar geestelik sal versterk en saam Jesus se naam sal eer.

WOENSDAG 24 MEI – Die aarde behoort aan die Here

Weeklaag by die Here oor baie mense se ongeërgde houding teenoor die verval van ons natuurlike omgewing. Bid vir nuwe liefde en omgee vir God se skepping, vir insig, verantwoordelikheid en sorg vir die aarde waarop ons deur God se genade leef.

DONDERDAG 25 MEI – Heidense Gewoontes

Bid vir die mense wat betrokke is by die beoefening van toordery, voorvaderaanbidding en okkultiese rituele in landelike gebiede, wat baie arm en niksvermoedende mense lok. Vra die Here Jesus om Homself aan hulle te openbaar en dat hulle Hom sal leer ken en dien.

VRYDAG 26 MEI – Eritrea

Vandag vra ons gebede vir Eritrea, een van die gevaarlikste lande vir Christene om in te woon. ‘n Gelowige daar getuig dat Hy na Christus kyk en weet Hy het erger gely en vervolgers kan nie Hom of die Waarheid van hom wegneem nie.

SATERDAG 27 MEI – Mense in ons diens

Ons bid vandag vir ons huis- en tuinwerkers se welstand. Ons is dankbaar vir hulle getrouheid en bid ook vir hulle afhanklikes en behoeftes. Mag ons optrede teenoor hulle ‘n lewende getuienis wees en Jesus se liefde weerspieël.

SONDAG 28 MEI – Geopende Deure

Tans word meer Christene vir hul geloof dood gemaak as voorheen. Christene word ook vervolg en gemartel. Bid vir die werk van Geopende Deure, sterk hulle hande waar hulle hulp te verleen. Mag ons wat so bevoorreg is, ook mildelik bydra vir hulle werk.

MAANDAG 29 MEI – Die Evangelie aan seemanne

Bid vir hierdie bediening wat in ons land se hawens plaasvind. Dank die Here vir elke Bybel wat aan ‘n soekende siel gegee word en vir elke daad van liefde wat bewys word. Vra vir wysheid en die Gees se leiding wanneer bote besoek word, dat toegang verleen sal word aan die geestelike werkers en dat elke kontak vrugbaar sal wees.

DINSDAG 30 ME I – Werkloosheid

Suid-Afrika se werkloosheidskoers is van die hoogste in die wêreld. Bid asseblief vir almal wat werkloos is en na werk soek, maar nie ‘n werkgeleentheid kry nie. Bid vir ekonomiese groei en entrepreneurs wat met kreatiewe maniere nuwe werksgeleenthede kan skep.Ons Hemelse Vader kan toestande verander.

WOENSDAG 31 ME I – Nog ‘n maand

Here baie dankie vir nog ‘n maand van U liefde en genade wat oor ons wag gehou het. Met ons gebede wil die gemeente, soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het, ook ons amptenare en mede-gelowiges se arms sterk vir hul lewens voor U aangesig.”