GEBEDSGIDS – APRIL 2024
Ef 6:18. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.
Maandag 1 April – Gesinsdag
Gesinne is vir God belangrik. In die Ou Testament vind ons baie voorskrifte dat kinders kennis en godsdienstige gebruike van God se weë met sy volk sal eerbiedig en oordra aan die volgende geslagte. Kom ons bid dat ook ons as gesinne saam die Here sal ken en dien.
Dinsdag 2 April – Die Owerheid
Plaas jou geloof in die Woord wanneer jy vir die “koning” en sy amptenare bid, dat die Here hulle sal lei in elke besluit wat hulle moet neem. Bid vir Christelike norme en waardes. “Die koning se hart is waterstrome in die hand van die HERE: Hy lei dit waarheen Hy wil” (Spreuke 21:1).
Woensdag 3 April – Skole Open
“Here ons dra vandag almal in die onderwys aan U op. Ons bid dat elke skolier die geleentheid sal hê om sy of haar vermoëns optimaal te ontwikkel. Seën alle leerkragte en ander opvoeders met baie liefde, geduld en wysheid in hul taak. Ons pleit ook vir dissipline en wedersydse respek.”
Donderdag 4 April – Radio en TV Uitsendings
Kom ons dank ons Hemelse Vader vandag vir instansies soos Radio-Kansel, Trans Wêreld Radio, Feba Radio, die Televisie en ander moderne tegnologie wat meehelp om die Evangelie tot aan die uithoeke van die wêreld te verkondig – seën elkeen wat by hierdie bedieninge betrokke is.
Vrydag 5 April – Somalië
Hierdie land is tweede op Geopende-Deure se “Wêreldwaarnemingslys 2024” wat die intensiteit van vervolging weerspieël. Al wat vervolgde Christene vra is dat ons vir hulle sal bid. Bid vir Gelowiges wat alles waag om vir Jesus te volg; dat hulle sal volhard om Hom te dien.
Saterdag 6 April – Vergiffenis
As jy onvergewensgesind teenoor jou broer is, gaan lees weer Mat 18:21-35. Jesus sê dat ons sewentig maal sewe keer moet vergewe. Indien jy dit moeilik vind om iemand te vergewe, vra die Heilige Gees om jou te help en seën hom/haar elke keer as jy aan die persoon dink.
Sondag 7 April – Danksegging & Verootmoediging
As kinders van God wat duur gekoop is deur Jesus se offer van Homself en só ons redding en die Ewige Lewe verseker het; hoe kan ons nie in dankbaarheid en verootmoediging voor Hom buig nie? Ons offers vanoggend vir die Teologiese Kweekskool is deel van ons dankbaarheid.
Maandag 8 April – My Lewe voor God
Bid vir ‘n nuwe insig in ons verhouding met God en ons lewe voor Hom. Dat ons as lidmate van Grootbrak Geesvervuld, geloofwaardig sal wees, in waarheid binne die wil van die Here en deur die krag van die Heilige Gees sal leef. Dat ons ‘n biddende, sendende gemeente sal word en alle mense met die liefde van Chritus sal bejeën.
Dinsdag 9 April – Bendegeweld
“Here ons bid teen bendegeweld op die Kaapse vlakte. Open Bendelede se oë om U raak te sien en hul lewens aan U oor te gee. Bewaar asseblief die weerloses, vertroos waar sterftes voorgekom het en staan asseblief die gemeenskap en owerhede by om die bose te oorwin.
Woensdag 10 April – Bedienaars van die Woord
Ons bid vir ons leraars en hul dierbares. Mag hulle elke dag Jesus se liefde ervaar. Dankie dat hulle in U geanker is en hul afhanklikheid van U erken en bely. Seën en sorg vir hulle na liggaam en gees, sodat hulle kan volhard in hul roeping om U woord te verkondig en die gemeente te dien.
Donderdag 11 April – Bedelaars
Is dit nie bedoel dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? (Jes. 58:7) Bid vir wysheid as jy ‘n bedelaar teëkom, vra die Here wat jy moet doen en bid vir redding van oneerlike mense.
Vrydag 12 April – Sentraal Asië
Bid vir Tilana (skuilnaam). Haar Moslem-eggenoot het haar met stokke geslaan toe hy op haar Bybel afgekom het. Sy het vir haar lewe gevrees. Vra God om haar pyn te verlig, haar fisies en geestelik te genees en haar te vertroos. Bid vir die beskerming vir die evangelis wat haar na Jesus gelei het en wie ook deur haar man bedreig word. Bid vir al die Tilanas in Moslemlande.
Saterdag 13 April – Liefde vir Vreemdelinge
Bid dat gelowiges in SA sal uitreik na die vreemdelinge in ons midde, bv. Chinese, Nigeriërs, Somalies & Pakistanies. Vra dat ons met nederigheid, wysheid en baie liefde met alle mense sal omgaan; dat ons altyd Jesus deur ons gesindheid sal verteenwoordig.
Sondag 14 April – FEBA RADIO
Ons spesiale offers gaan vanoggend vir FEBA Radio wat hierdie maand hul Internasionale Raadskonferensie in Korea hou. Bid dat reëlings vir die byeenkoms vlot sal verloop, dat deelnemerrs veilig sal reis en dat God dié byeenkoms sal seën.
Maandag 15 April – Kinderbediening in SA
Dra in gebed alle kinderbedienings in SA aan ons Hemelse Vader op. Daar word nie genoeg gemaak van die mobilisering van kinders vir gebed nie. Kinders bid met ‘n eenvoudige geloof en sien wonderwerke gebeur. Hulle hoor ook maklik die stem van God.
Dinsdag 16 April – Landbou
Bid vir ons boere en hul werknemers. Vra dat daar genoeg voedsel geproduseer sal word en niemand gebrek sal ly nie. Dat elkeen betrokke, met ywer en entoesiasme sal arbei. Vra vir mooi verhoudings, billike vergoeding en winsgewendheid. Bid dat Jesus se liefde op elke plaas geleef sal word en dat Sy Vrede ervaar sal word. “Here gee asseblief reën waar dit nog droog is.”
Woensdag 17 April – Werkloosheid in SA
Die werkloosheidskoers in Suid-Afrika is geweldig en styg al meer. Dit is onrusbarend hoog vir enige nasie. Ons moenie ophou bid vir stabilileit in ons land en dat meer entrepreneurs na vore sal tree nie. Bid vir ekonomiese groei sodat meer werksgeleenthede beskikbaar sal raak, veral vir jongmense.
Donderdag 18 April – Morele waardes
‘n Gemeenskap se morele waardes word bepaal deur wat kinders aanleer wanneer hulle grootword. Bid dat gesinne se waardes op Bybelse beginsels sal rus en kinders sal opgroei met kennis van reg en verkeerd soos in die Woord van God vervat.
Vrydag 19 April – IRAN
Bid vir vier Iranse gelowiges wat in ‘n klopjag op ‘n huiskerk-byeenkoms gearresteer is. Vra vir ’n veilige en gepaste vrylating en dat hulle sal ervaar hoe God se hand aanhou beweeg in hul lewens. Bid dat daar groei in die Kerk van Jesus in Iran sal wees.
Saterdag 20 April – Beskermingsdienste
Bid vir manne en vroue wat die gemeenskap dien. Vir polisie-, brandweer-, noodhulp- en sekuriteitspersoneel. Vra vir insig, wysheid en geduld wanneer hulle voor probleme te staan kom. Bid vir hul veiligheid, beskerming asook die welstand van hul diebares. Vra vir seën en dat hulle Jesus sal ken en tot Sy eer sal optree wanneer hulle ander help.
Sondag 21 April – Mededeelsaamheid
Armoede en hooploosheid is algemene verkynsels in ons land en raak ons as Christene elkeen. Politici se beloftes bring nie oplossings nie. Bid dat elkeen wat ‘n inkomste het, dankbaar vir die voorreg sal wees en volgens Jesus se liefdesopdrag na ons naaste sal omsien.
Maandag 22 April – Getuies wees
As ‘n mens die verantwoordelikhede van Christen wees sou wou opnoem, moet dit sekerlik die opdrag om GETUIES te wees, beklemtoon. Dit was Jesus se opdrag in Joh. 1:8 en geld ook vir ons vandag. Bid vir die Getuienis-kommissie wat vanmidag byeenkom en vra vir seën op hul aksies en besluite. Mag elke lidmaat ‘n lewende getuie van Jesus Christus wees.
Dinsdag 23 April – Kerkraadslede
Bid dat Kerkraadslede met ywer hulle verantwoordelikhede sal uitleef en dat lidmate hulle as gestuurdes van die Here, hartlik en blymoedig sal ontvang en met hulle sal saamwerk om Grootbrak gemeente op te bou.
Woensdag 24 April – Bybelviering
Kom ons dank God vir die Bybel in ons eie taal. Pleit vir elke taalgroep wat nog nie ‘n Bybel in hul eie taal het nie. Bid vir hulle wat besig is met vertalings van Bybels of skrifgedeeltes oral op aarde. Vra vir toewyding, genade, wysheid, baie geduld en die leiding van die Heilige Gees.
Ook dat die Here in die finansiële behoeftes vir die werk sal voorsien.
Donderdag 25 April – Suid-Afrika se Jeug
Ons jongmense leef vandag in ‘n heel nuwe Wêreld met vele uitdagings, verantwoordelikhede en versoekings. Besluite oor studies en loopbane en die vrese dat werkloosheid dalk ‘n werklikheid is, staar hulle in die gesig. Bid dat ouers, onderwysers en ander mentors met wysheid en liefde die jonges op die regte pad sal lei: en die pad is in die Woord. Ps. 119:105.
Vrydag 26 April – LAOS
Vervolging van Christene in hierde land het sterk toegeneem. Laos is een-en-twintigste op die Wêreld-waarnemingslys van Geopende Deure. Bid saam met en vir plaaslike vennote terwyl hulle aan toenemende voorvalle van geweld aandag moet skenk.
Saterdag 27 April – Vryheidsdag & Gemeentefees
Jesus Christus het ons vrygemaak en as sy kinders is ons in Hom waarlik vry en niks of niemand kan ons hierdie vryheid ontneem nie! Dank die Here dat ons daaraan in hierdie politieke onstuimige tyd kan vashou. Vra ook vir seën en vreugde by vandag se Gemeente-fees.
Sondag 28 April – Die Christelike Afhanklikheids Diens C A D
Ons offers gaan vanoggend vir hierdie organisasie. Die CAD ondersteun substansafhanklikes en hul gesinne op fisiese, sielkundige, sosiale en godsdienstige gebied sodat hulle meer produktief en gelukkig kan wees. Bid vir hierdie instansie en die werk wat hulle doen. Mag Jesus se liefde mense verlos van die bose en Sy naam so verheerlik word.
Maandag 29 April – Siekes & Bejaardes
“Hemelse Vader ons bid vir alle siekes en oues van dae, dat hulle sal weet U ken hul pyn en bekommernisse. Mag hulle u nabyheid ervaar en gee asseblief kalmte en genesing waar dit u wil is. Seën versorgers en besorgde dierbares; gee dat hulle met wysheid en geduld u liefde sal uitleef”.
Dinsdag 30 April – Nasionale Verkiesing
Suid-Afrikaners is tereg baie bekommerd oor die toestand in ons geliefde land en wat vir ons voorlê. Kom ons bid dat ons as gelowiges nie op “prinse” sal vertrou nie, maar op ons God wat alle mag in Hemel en op Aarde in sy hande het. Bid vir vrede, kalmte en ‘n geweld-vrye verloop van die verkiesing. Vra dat God vir ons ‘n regering sal gee met mense wat Hom erken en vrees.


