Gebedsgids – Maart 2024

Gebedsgids Maart 2024

Vrydag 1 Maart: Ons Kerk

Ons kerke is by ‘n kruispad. Baie mense verlaat die kerk of woon nie meer eredienste by nie. Kom ons dra dit aan die Here op en bid vir herbesinning en ‘n omkeer.

Saterdag 2 Maart: Eensaamheid

“My God My God waarom het u My verlaat” was Sy woorde met Sy kruisiging. Eensaamheid kan erg wees en daar kan tye kom dat ons ook so mag voel. Kom ons bid tot die Here vir Sy alom teenwoordigheid en nabyheid.

Sondag 3 Maart: Misbruik van kinders (Markus 9:42)

Miljoene kinders van alle ouderdomme word dwars oor die wêreld misbruik en verniel. Hulle word seksueel misbruik, hulle word as slawe verkoop, op allerlei wyses mishandel en verniel. Ons dra die kinders se lot deur ons gebede aan die Here op.

Maandag 4 Maart: Verwoesting van die aarde

Adam en Eva is uit Eden uitgegooi oor ongehoorsaamheid. Ons bly steeds in ‘n Eden en verwoes dit deur ons onverantwoordelike optrede met betrekking tot besoedeling. Bid vir ‘n verandering in gesindheid wêreldwyd.

Dinsdag 5 Maart: Terneergedrukte mense

Vele mense om ons leef om een of ander rede as terneergedruktes. Kom ons dra hulle aan die Here op en vra vir vreugde in hulle lewens.

Woensdag 6 Maart: : Bekommerde mense

In ons gemeenskap kan vele bekommerde geliefdes wees. Bekommerd oor finansies, behuising, gesondheid, kinders, ouers ens. Kom ons dra hulle almal aan Vader op.

Donderdag 7 Maart: : Stop van bendegeweld

Bendegeweld is ‘n groot probleem in ons samelewing. Gepaardgaande daarmee ook baie misdaad en moord. Kom ons vra Vader vir vrede op hierdie gebied en dat Hy dit sal omskakel na iets wat Sy grote naam tot eer sal strek.

Vrydag 8 Maart: : Sending regoor die wêreld

Reg oor die wêreld is daar pragtige mense wat hierdie saak onderneem. In vele gevalle is hulle lewens en die wat hulle bedien in doodsgevaar. Kom ons dra hulle veiligheid en beskerming en sukses aan die Here op.

Saterdag 9 Maart: : Vroue

Ons rig ons gebede tot Vader om sy vleuels van liefde en beskerming oor die ganse vroulike geslag uit te sprei en hulle te seën vir die enorme positiewe bydrae wat vroue oor die wêreld, in die wêreld maak.

Sondag 10 Maart: Plaasmoorde

Ons land word geteister met plaasmoorde en sommige politici hits dit aan. Ons gaan Vader vra om drasties hier in te tree ter beskerming van ons land se boere, maar ook om die hele ingesteldheid van moordenaars en potensiële moordenaars en aanhitsers te verander.

Maandag 11 Maart: Hawelose mense

Dit is winter en snags bitter koud buite. Hawelose mense moet hierdie toestande op sypaadjies trotseer. Kom ons bid dat ons gemeente se program vrugte sal afwerp en dat ons sal help waar ons kan.

Dinsdag 12 Maart: Radelose mense

Vele mense in ons omgewing en in ons land is raadop met omstandighede wat hulle deel is. Dit mag hulle finansies wees, hulle kinders, hulle ouers, hulle vriende en dalk nog hulle kerk ook. Kom ons dra hulle aan die Here op vir verligting van hulle omstandighede.

Woensdag 13 Maart: Ekonomiese oplewering

Miljoene mense in ons land is werkloos. Miljoene se huislike ekonomie is aan flarde. Miljoene kan niks meer bekostig nie en ly gebrek. Ons gaan Vader deur ons gebede vra om ons land se ekonomie sodanig te verbeter dat hierdie tragiese omstandighede die hoof gebied kan word.

Donderdag 14 Maart: Werkskepping

Die Staat en nywerhede kan nie al die werkloses akkommodeer nie. Laat ons in ons gebede die Here vra om die werkloses sodanig met kennis, insig, ywer en entoesiasme te bemagtig dat hulle hul eie werk kan skep en sodoende ook ‘n bydrae tot die land se ekonomie kan lewer.

Vrydag 15 Maart: Ons skole

Dit is van groot belang dat ons jeug ‘n goeie skoolopleiding kry. Ongelukkig is dit nie oral die geval nie en is daar groot leemtes. Kom ons pleit ons Here om ons skolestelsel ter wille te wees en dit sodanig op te hef dat ons dankbaar trots sal wees op die kinders wat dit sal lewer en wat hierdie pragtige land van ons die toekoms sal kan inlei.

Saterdag 16 Maart: Ons Universiteite

Op ons universiteite is daar tans geweldig baie studente. Ons vra Vader om met elke jong mens daar te wees en ‘n verantwoordelikheid te kweek in die sin dat elkeen sal besef dat hy/sy een of ander toekomstige leier sal wees en so ‘n posisie met verantwoordelikheid sal moet beklee wat die Vader se naam ter ere sal wees.

Sondag 17 Maart: Ons plaaslike regerings

Met meeste plaaslike regerings gaan dit nie goed nie. Dienslewering en herstelwerk het tot stilstand gekom, korrupsie vier hoogty, miljarde rande word aan leweransiers geskuld en inwoners ly daaronder. Ons bid tot God om hier in te tree en ‘n verantwoordelikheid by amptenare te skep wat hierdie tragiek sal regstel.

Maandag 18 Maart: Vermiste mense

Gereeld word daar op sosiale media foto’s van volwassenes en kindertjies so jonk as 10 jaar en selfs jonger gesirkuleer wat op een of ander tragiese wyse vermis geraak het. Ons bid vir kalmte en hoop by families en gesinne, maar ook vir die ingesteldheid of vrees wat by die vermistes aanwesig mag wees. Ons vra vir Vader vir hulle veiligheid en spoedige terugkeer.

Dinsdag 19 Maart: Dwelmverslawing

Baie volwassenes, jong mense en jong-jong kinders is verslaaf aan dwelms. Ons kan maar net vir God vra om hulle van hulp te wees met genesing, want dit vra Goddelike krag om van die verslaafdheid ontslae te raak. Mag God se gramskap ook fel neerkom op hulle wat die dwelms verskaf sodat hulle eerder smokkelaars van Sy Woord sal word.

Woensdag 20 Maart: Bybelverspreiding

Die opdrag in Markus 16:15 is duidelik. Kom ons dra almal wat met hierdie taak besig is aan Vader op. Ons bid vir sukses maar ook vir hulle veiligheid.

Donderdag 21 Maart: Verdraagsaamheid

In ons pragtige land is daar ‘n groot mate van onverdraagsaamheid en veral tussen verskillende rasse. God het ons almal saam hier aan die Suidpunt van Afrika met ‘n doel geplaas. Bid God dat Hy deur Sy Heilige Gees ‘n gees van verdraagsaamheid tussen almal hier sal skep sodat ons nie Sy doel sal verydel nie.

Vrydag 22 Maart: Siekes en mense wat terminaal siek is

Jesus het vele siekes genees tydens Sy verblyf by ons. Ons vra Hom deur gebed om ook weer die siekes in ons midde te genees en hulle wat terminaal siek is, styf vas te hou en hulle te oorlaai met Sy liefde, krag en bemoediging, en as dit Sy wil is hulle ook met genesing te bevry van hulle bekommernis.

Saterdag 23 Maart: Beskermingsdienste

Die land se Beskermingsdienste verkeer onder groot druk. Ons dra hulle aan Vader op.

Sondag 24 Maart: Eerbiedwaardige optrede

Ons kan ons soms so skuldig maak aan ruwe en onbeskofte optrede teenoor ons medemens en naaste. Kom ons vra Vader deur gebed om Sy Heilige Gees in ons harte te vestig en dat ons gelei kan word tot eerbiedwaardige en vreugdevolle optrede.

Maandag 25 Maart: Gestremdes

Gestremdheid van watter aard ook al is nie maklik nie. Die gestremde asook hulle gesinne het ‘n swaar las om te dra. Ons smeek God in Sy almag om Sy genade oor gestremdes en hul gesinne in oormaat uit te stort.

Dinsdag 26 Maart: Onrus en oorloë in die wêreld

Die wêreld word geteister deur onrus en oorloë. Miljoene onskuldige mense en kinders word daardeur dood of vreesbevange gelaat. Kom ons vra die Heer om vrede te bring en die wat daarteen stribbel soos in die dae van Israel uiteen te jaag en te verstrooi.

Woensdag 27 Maart: Beskerming van gelowiges in die Midde-Ooste

Ons broers en susters in die Here in die Midde-Ooste het dit geweldig swaar. Word hulle geïdentifiseer, is dood hulle voorland. Ons bid tot God vir ‘n versoenende gees aldaar en dat Hy hulle sal beskerm om Hom vrylik te kan aanbid en dien.

Donderdag 28 Maart: Oues van dae

In ons omgewing is daar vele oues van dae. Hulle woon by kinders, of ouetehuise of sorg sentrums. Van hulle is ook enkellopend en woon alleen. Ons bid vir hulle en vir mekaar en vra ons Almagtige Vader vir Sy liefde en beskerming en dat die laaste jare met vreugde, lag en liefde gevul sal wees.

Vrydag 29 Maart: Klimaatsverandering

Klimaatsverandering is stadig besig om God se Skepping te verwoes. Die mens is direk daarvoor verantwoordelik deur die atmosfeer te besoedel. Kom ons bid vir kennis en ‘n ingesteldheid om dit te bekamp.

Saterdag 30 Maart: Ons land se jeug

U, Here het eenkeer gesê dat die een wat die kinders leed aandoen, dit vir hom beter sal wees om met ‘n meulsteen om die nek in die see gewerp te word. Kom ons bid vir hulle en dat God Sy vleuels van beskerming oor elkeen sal hou.

Sondag 31 Maart: Werkende mense

Ons dank en gebede gaan uit na werkende mense wat ons land in stand hou. Ons vra vir Vader om hulle te onderskraag, ook in so ‘n mate dat hulle Hom nooit sal vergeet nie.