Gebedsgids vir Januarie 2024

GEBEDSGIDS – JANUARIE 2024

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. (Filippense 4:6).

Maandag 1 Januarie – Wees getrou hierdie Jaar

Ons dank God vir getroue bidders en vra vir volharding, wysheid en insig om te soek na Sy wil. Prys die Here vir soveel lewens en gesindhede van mense wat Hy verander as gevolg van volgehoue gebed.

Dinsdag 2 Januarie – Getuienisbediening

Gaan dan en maak dissipels van al die nasies deur hulle te doop…… en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mat. 28:19) Bid dat hierdie opdrag van Jesus, elke lidmaat ‘n getuie in woord, daad en gesindheid sal maak. Pleit vir die betrokkenheid van elke lidmaat om ons geloof te demonstreer en ons roeping as gelowiges uit te leef.

Woensdag 3 Januarie – Verkiesing 2024

Ons weet dat God in beheer is en dat niks buite Sy wil gebeur nie. Kom ons bid vir ‘n rustige, geweldvrye en regverdige aanloop tot die verkiesing. Vra dat politieke leiers diensbaar, opreg en eerlik sal wees, Christelike beginsels, norme en waardes sal nastreef en uitleef.

Donderdag 4 Januarie – Medemense

Vader, mag ons nie vandag ons gesig wegdraai van mense rondom ons wat broodsgebrek ly nie. U seën ons om ander te seën – open dan ons harte, hande en beursies om in hulle behoeftes te voorsien.

Vrydag 5 Januarie – Gelowiges in die Arabiese Skiereiland

In talle lande hier het daar vir geruime tyd geen Christengroepe bestaan nie. Tans groei daar ‘n Kerk en soek mense na die Waarheid. Prys God vir wat Hy daar in die wieg van Islam laat gebeur. Bid dat die Liggaam van Christus in krag en getalle sal groei om Lig te midde van die duisternis te wees.

Saterdag 6 Januarie – Ons Land en sy Mense

Bid ernstig dat al die probleme in ons land ons tot verootmoediging voor God sal lei. Vra dat die lig van die Evangelie ons politieke-, sake- en maatskaplike leiers sal verlig, dat hulle voor God sal buig en erken dat Hy regeer. Bid dat Reg en Waarheid in S.A. sal seëvier.

Sondag 7 Januarie – Sondag Erediens

Wat ‘n wonderlike voorreg en Genade om vanmôre weer as God se volk bymekaar te kom. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig (Heb. 10:25). Dink ook aan persone wat gestremd is en vir wie vanmôre se offers gaan.

Maandag 8 Januarie – Ons Jeug

Jongmense sterf daagliks in Suid-Afrika a.g.v. dwelmverslawing, aborsies, siekte, ongelukke of geweld. Bid dat ons jongmense veilg sal wees, dat die bose nie jongmense se lewens sal verwoes en doelloos sal maak nie. Vra dat elke kind Jesus as Saligmaker sal leer ken en Hom gehoorsaam.

Dinsdag 9 Januarie – Eensaam of Uitsigloos

Wanneer die nuwe, onbekende jaar voor ons lê, dink ons in liefde aan die talle eensames in ons gemeente – hulle vir wie 2024 miskien bleek en troosteloos lyk. Onthou, daar is niks wat ons van die liefde van God in Christus kan skei nie. Mag diè woorde in Rom 8:38 vir hulle troos en krag bring.

Woensdag 10 Januarie – Ongehude Moeders

Daar is vroue wat nie kan swanger raak nie, terwyl ander hulle swangerskappe as ongeleë of ongewens sien. Bid dat vrouens wat swanger is, ‘n persoonlike en lewende verhouding met die Here Jesus sal hê. Bid dat hulle ongeag hulle omstandighede, nie hulle babas se lewens sal neem nie. Bid vir gelowiges om hulle in hul nood by te staan.

Donderdag 11 Januarie – Gebed vir Elke Dag

Ons begin hierdie dag met Ps 115: 1 “Nie aan ons nie, HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, oor U troue liefde, oor U bestendigheid. Amen”.

Vrydag 12 Januarie – Boko Haram

Hierdie groep in die noordooste van Nigerië het reeds duisende mense doodgemaak, waarvan die meerderheid Christene was. Bid vir die redding van hierdie militante, sowel as vir die vrylating van kinders wat hulle as gevangenes weggevoer het. Mag die Heilige Gees hulle oortuig van die geestelike duisternis in hulle harte.

Saterdag 13 Januarie – Bedienaars van die Woord

Kom ons bid vir vir God se seën op elke bedienaar van die Evangelie. Vra dat wysheid, insig, geduld en liefde deel van hul toerusting sal wees. Vra vir goeie gesondheid en die steun van hul dierbares. Mag hulle elke dag Jesus se liefde ervaar en groei in die genade en kennis van God.

Sondag 14 Januarie – Jan Kriel Instituut

Hierdie sentrum inKuilsrivier fokus op die onderrig en opleiding van leerders met spesiale onderwysbehoeftes. Ons as gelowiges kan deur ons bydraes vandag die liefde vir ons naaste bewys.

Maandag 15 Januarie – Die Heerlikheid van God

Bid dat die Heilige Gees ons sal lei tot verootmoediging en vra dat die visie om die heerlikheid van die Vader te sien, die kerk sal vrymaak van die vangstrik van voorspoedsteologie, en die bou van jou eie koninkryk.

Dinsdag 16 Januarie – Ds Charné Viljoen

Kom ons dank die Here dat Hy haar na ons gestuur het. Bid vir haar en haar gesin, dat die reëlings, verhuising en aanpassing sonder

komplikasies en glad sal verloop. Dat hulle baie geseënde jare as deel van ons gemeente sal beleef en dat hulle, saam met ons aan die Kerk van Jesus Christus sal bou en Hom in alles verheerlik.

Woensdag 17 Januarie – Skole heropen

Here ons dra vandag almal in die onderwys aan U op. Ons bid dat elke skolier vanjaar die geleentheid sal hê om sy of haar vermoëns optimaal te ontwikkel. Seën alle leerkragte en ander opvoeders met baie liefde, geduld en wysheid in hul taak. Ons pleit ook vir wedersydse respek.”

Donderdag 18 Januarie – Pensioenarisse

Dierbare Vader, vanoggend wil ons met liefde en deernis dink aan al die pensioenarisse wat swaar trek weens verskillende omstandighede – dikwels buite hulle beheer. Omvou hulle met U liefde en mag hulle nie moedeloos word nie, maar die oog op U gerig hou.

Vrydag 19 Januarie – Egipte

Egipte is oorwegend ‘n Moslem land, maar daar is talle Christen-bekeerlinge al is die lewe vir nuwe Gelowiges ‘n baie uitdagende werklikheid. Bid dat diè nuwe volgelinge van Jesus Christus sal volhard in hul Geloof en sout en lig in hul gemeenskappe sal wees.

Saterdag 20 Januarie – Jesus se Kerk in Grootbrak

Ons loof die Here wat sy kerk in stand hou en dat Hy ons as swakke, maar verloste, lede daarvoor gebruik. Vra dat die Gees elke lidmaat sal toerus en bemagtig om betrokke te raak in ons gemeente se bedieningsaksies om ons talente daar in Christus se diens te stel.

Sondag 21 Januarie – Erediens

Dis Sondag, die dag wat ons weekliks gedenk as die dag van die Here se opstanding. “Here, wat ‘n genade, wat ‘n voorreg, wat ‘n vryheid, om sonder vrees as u gemeente onder die geklank van u Woord saam te kom. Mag die diens net tot u eer wees en vir ons tot seën.“ (Ps.118:24)

Maandag 22 Januarie – (Swak) Onderwys in Suid-Afrika

Reeds in 2016 het die Wêreld-Mededingingsverslag, Suid-Afrika as 140ste uit 140 lande i.t.v. die kwaliteit van wiskunde- en wetenskap-onderwys aangeslaan. Laat ons volhardend uitroep na die Here vir deurbrake in die onderwys in ons land. Bid dat infrastrukture en die gehalte verbeter sal word.

Dinsdag 23 Januarie – Bybelstudie groepe

Vandag bid ons vir elke leier van ‘n Bybelstudie-groep. Dankie vir hulle wat bereid is om leiding te neem en mag hulle met nuwe insig, wysheid en liggaamskragte die nuwe jaar se werksaamhede aanpak. Mag elke deelnemer se geestelike lewe en Woordkennis vernuwe en verryk word.

Woensdag 24 Januarie – Geopende Deure

Geopende Deure se visie is dat geen Christen vervolging alleen hoef te verduur nie. Gelowiges se ondersteuning en gebede sal dié visie voortsit. Ons mag ons broers en suters en veral die kinders nie vergeet nie. Bid en bid gereeld vir volharding, krag, geloof en vir die redding van die vervolgers.

Donderdag 25 Januarie – Volhard in die Geloof

Joel 2:12: “Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie”. Dit is nog steeds die Here se boodskap aan ons. As daar iets is wat jou verhouding met God vertroebel, keer met jou hele hart terug na Hom. Bid en roep Hom aan oor daardie saak en Hy sal die oorwinning gee en die verhouding tussen jou en Hom herstel.

Vrydag 26 Januarie – Oekraïne

Bid asseblief vir FEBA Oekraïne en hul luisteraars. Die span werk hard om aan te hou bedien te midde van die geweld op die front en die lyding tuis. Beraders luister daagliks na talle hartverskeurende stories en bid saam met mense wat die hulplyn skakel. Bid vir die beraders se geestelike- en geestesgesondheid. Bid dat God FEBA Oekraïne se krag elke dag sal vernuwe en hulle sal gebruik om meer mense in hierdie donker tye na Sy lig aan te trek.

Saterdag 27 Januarie – Barmhartigheid

Sag. 7: 9: “Laat reg geskied teenoor alle mense en bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; moenie weduwees, weeskinders, tydelike inwoners en armes verdruk nie, moenie bose planne teenoor mekaar bedink nie”. Vra die Here om vir jou te wys of daar iemand is aan wie jy barmhartigheid kan bewys en of daar areas in jou lewe is waar jy slegte planne teenoor iemand bedink, of hulle dit nou verdien of nie.

Sondag 28 Januarie – Alta du Toit

By hierdie sentrum ontvang volwassenes met intellektuele gestremdhede ’n ontwikkelingsgerigte versorgingsdiens. Hierdie program van BADISA het ons finansiële hulp en voorbidding dringend nodig. Kom ons dra vandag mildelik by. Bid ook gereeld vir hierdie sentrum.

Maandag 29 Januarie – Grootbrak Gemeenskap

Bid vir die gemeenskap waar ons woon en werk: Die Here vertrou ons om juis in hierdie tydsomstandighede en in die gemeenskap waar ons woon en werk, vir Hom ‘n getuie te wees. (Die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. Matt. 5:13,14) So kan ons met ons gebede en optrede ‘n verskil maak.

Dinsdag 30 Januarie – My Lewe voor God

Bid vir ‘n persoonlike begeerte om heiligheid en gehoorsaamheid na te streef eerder as om tevrede te wees met ‘n skyn van geestelikheid. Bid vir getrouheid in huweliksverhoudings en gesonde families, waar Christus gedien word. Bid dat ons as gelowiges die vrug van die Gees sal uitlewe.

Woensdag 31 Januarie – Hoop te midde van hooploosheid

Die implikasies van die droogtes, veldbrande en oorstromings op ‘n nasionale vlak het steeds ‘n groot negatiewe effek op die ekonomie. Daar is boere wat hulle boerderye opgebou het en nou alles of byna alles verloor het. Bid asseblief dat God vir die boere uitkoms sal gee, dat hulle nie moed sal verloor nie en steeds op God sal bly vertrou.