Stof tot nadenke: “Wanneer om te luister?”

Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim – daardie man is ‘n dief en rower. Maar hy wat by die hek ingaan, is ‘n herder van die skape; vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit.”

Joh. 10: 1-3

In hierdie wêreld wat ons leef, is daar so baie stemme en afleidings, dat dit soms regtig moeilik is om te weet wanneer moet ons luister, en wanneer om liewer ‘n dowe oor te gooi, op al die gepraat, waarmee ons elke dag te doen kry. Tog verduidelik Jesus Christus dit so mooi in Joh. 10: 1-3. Wanneer die stemme nie deur die hek van die Woord van God kom nie, is dit diewe en rowers wat probeer inkom, om van God se skape te steel. Ons kan seker weet dat God ons by name ken, en Hom alleen moet ons volg (“Wanneer hy al sy skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van vreemdes nie ken nie.“” (Joh. 10: 4-5)), want by God is daar nie duisternis nie, en het niks nodig om in duisternis plaas te vind nie (“Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Joh. 1:5)).

Dit is duidelik dat mense wat God nie ken nie, nie na sy stem sal luister nie (“Maar die farao het gesê: “Wie is die Here, dat ek na sy stem moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie die Here nie, en Israel sal ek ook nie laat gaan nie.” (Eks. 5: 2); (“Die pad van ‘n sot is reg in sy eie oë, maar ‘n wyse luister na raad. ‘n Sot laat dadelik sy misnoeë blyk, maar ‘n slim mens sien belediging oor die hoof. ‘n Betroubare getuie bring na vore wat reg is, maar ‘n vals getuie net wat bedrieglik is.” (Spr. 12: 15-17); (“Dit is beter om te luister na die vermaning van ‘n wyse, as wanneer iemand luister na die lied van dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder ‘n pot, so is die gelag van ‘n dwaas.” (Pred. 7: 5-6)), en daarom ook nie gehoor gee aan wat God van ons verwag nie. Hulle besef nie dat die hele aarde aan God behoort nie, en verstaan nie Sy almag nie (“As julle dan nou getrou luister na my stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My.” (Eks. 19: 5); (“Luister na die woord van die Here, gesagvoerders van Sodom! Gee aandag aan die wet van ons God, mense van Gomorra!” (Jes. 1: 10)).

Die Bybel gee ons duidelike riglyne oor wanneer ons moet luister, en na wie (“As julle goed luister na my gebooie wat ek vandag vir julle voorskryf, naamlik om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese,…” (Deut. 11: 13); (“Jy moet na die stem van die Here jou God luister en sy gebooie en sy vaste voorskrifte wat ek vir jou voorskryf, uitvoer.” (Deut. 27: 10); (“As jy dan luister na alles wat Ek jou beveel, my paaie volg en doen wat reeg is in my oë deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, soos my dienskneg Dawid gedoen het, sal Ek met jou wees en vir jou ‘n bestendige huis bou, soos ek dit vir Dawid gebou het. Ek sal Israel vir jou gee.” (1 Kon. 11: 38)). Ons word ook gemaan om onpartydig na mindere en meerder, volgens aardse maatstawe, te luister (“Moenie partydig wees in ‘n regspraak nie. Luister na die onbelangrike persoon soos julle na die belangrike persoon sou luister. Moet julle nie deur ‘n mens laat afdreig nie, want die regspraak is ‘n saak van God. ‘n Saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, dan sal ek dit verhoor.’” (Deut. 1: 17)).

Wanneer ons na God se stem luister in stil verootmoediging en deur te luister na die Woord, deur die Bybel te bestudeer, sal ons weet wat is belangrik in hierdie aardse bestaan, en wat is nie belangrik nie (“Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.” (Jes. 55: 2)). Laat ons dus na die stem van God luister en dit gehoorsaam, sodat ons saam met Jesus Christus (“Daar kom toe ‘n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” (Luk 9: 35)) familie kan wees van God die Vader (“Maar Jesus antwoord hulle: “Wie na die woord van God luister en dit gehoorsaam, hulle is my moeder en my broers.” (Luk. 8: 21)). Sodat ons seker kan wees dat ons huis op die vaste Rots gebou is (“Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het.” (Matt. 7: 24)), en dat ons seker kan weet dat ons deel van God se volk is (“…‘Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees! Loop die hele pad wat Ek julle beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.’ ” (Jer. 7: 23)).

Ons moet seker maak dat ons met ‘n geoefende oor luister, sodat ons die Herder se stem sal ken, en kan onderskei wanneer dit nie die Herder is wat ons roep nie (“Let daarom op hoe julle luister. Wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal selfs dit wat hy dink hy het, weggeneem word.” (Luk. 8: 18); (“Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Dit is waarom julle nie luister nie, omdat julle nie uit God is nie.” (Joh. 8: 47)). Weet dat indien jou lewe op die Waarheid gebaseer is, jy na God se stem luister (“…Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” (Joh. 18: 37); (“Petrus en Johannes het egter geantwoord en gesê: “ Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie. “” (Hand. 4: 19)). Ons menslike handelinge wys duidelik of ons volgelinge van Jesus Christus is, of nie (“Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van ‘n mens bewerk nie geregtigheid voor God nie.” (Jak. 1: 19-20)).