15 Junie
Liewe Vriend
Vandag wil God jou troos – Hy verstaan jou diepste gevoelens. Die Bybel wys nou vir jou hoe lief God jou het.
Tema: Elke mens het sy eie geheime, die Here weet alles.
Teks: “Elke mens het sy eie swaarkry. Niemand weet daarvan nie. Vreemdes weet ook nie wat hom bly maak nie.” (Spr. 14:10 – Die Boodskap)
- Die Here sien elke traan en Hy ken jou diepste probleme. Hy is baie naby aan jou as jou hart stukkend is. (Ps. 34:19)
- Ander mense verstaan nie altyd jou swaarkry nie – ook nie die dinge waarmee jy sukkel nie. Die Here God ken jou heeltemal.
- Net soos jou hartseer dikwels ‘n geheim is, is jou diepste blydskap weer ‘n spesiale geskenk tussen jou en God die Here.
- Moenie met jou gevoelens alleen voel nie. Vertel vandag vir God van al jou geheime vreugdes en jou grootste probleme.
Gebed:
Liewe Vader, help my om vandag gemoedsrus te hê, want U ken my hart so goed.
In die Naam van Jesus Christus die Here.
Amen.
© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.


