NGK GBR Gebedgids Februarie 2021

GEBEDSGIDS  –  FEBRUARIE 2021

Hier volg die gebedsgids vir Februarie 2021

Fil. 4: 6 …Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend.

[wpdm_package id=’2074′]

1 Februarie – Maandag – Daaglikse brood
“Gee ons vandag ons daaglikse brood” . ( Matt. 6:11)

2 Februarie – Dinsdag – Mediese Personeel
“Jesus, ons bid vandag dat U alle personeel sal bystaan en die nodige krag en rigting sal gee in hierdie uitdagende tye. Skenk hulle ook die tye waar hulle kan gaan rus om weer hul dagtaak te verrig. “

3 Februarie – Woensdag – Verdrukking
“Here, Laat ons ons verbly in die Hoop wat u gee, laat ons vasstaan in die verdrukking waarin ons nou is en laat ons elke dag met gebed volhard. “

4 Februarie – Donderdag – Alleenheid
Kom ons dra ons mede-gelowiges elke dag aan die Here se sorg op, veral waar ons nou moet probeer om nie bymekaar te wees nie. Laat ons die sosiale media gebruik om mekaar nog steeds te ondersteun en bemoedig.

5 Februarie – Vrydag – Verslawing
Daar is ‘n groot probleem met persone wat een of ander verslawing het met drank, dwelms, sigarette en dies meer. Laat ons bid vir diegene wat sukkel. Dra hulle op aan Here se Leiding en vra dat hulle by die regte rolmodelle sal uitkom.

6 Februarie – Saterdag – Werksgeleenthede
“Ons vra, Here, dat U ons sal wys op nuwe werksgeleenthede vir die mense wat hul werk in die tyd verloor het. Ons bid ook dat hulle hul hoop en vertroue in die HERE Jesus sal plaas, maar ook hulle kant sal bring en sal werk asof vir die Here en nie vir mense nie.”

7 Februarie – Sondag – Sabbatdag
Sondae word nie meer soos in die verlede geheilig nie. Kom ons bid dat die mense weer die dag sal deurbring met die Christus-Gees in gedagte en hulle rus by die Here sal gaan soek.

8 Februarie – Maandag – Woorde
Ons bid dat U Heilige Gees ‘n wag voor ons mond sal plaas sodat ons net woorde sal spreek wat opbouend is en nie ‘n klakous of vuilprater is nie. Maak ons bedag op ons taal en dat ons woorde van lewe sal spreek.

9 Februarie – Dinsdag – Omgeebediening
Ons gemeente is ‘n omgee gemeente en in hierdie moeilike tyd waar mense hulp nodig het vra ons ook dat die Here ons bediening en gemeentelede se harte en hande sal oopmaak om mildelik te gee.

10 Februarie – Woensdag – Seisoen van swaarkry
Baie van ons sit nou in ‘n seisoen van swaarkry en is nou al moeg van al die moeilikheid. Vertel vir God van jou swaarkry en bly hoop en vertrou dat Hy die verandering sal stuur.

11 Februarie – Donderdag – Dank God
Kom ons raak stil vandag en Dank God vir al die seëninge wat HY ons bied al in dit ook in hierdie snaakse en moeilike tye waarin ons nou leef.

12 Februarie – Vrydag – Korrupsie
Korrupsie is aan die orde van die dag. Vandag vra ons dat die land se leiers na die land se welstand sal omsien en kyk dat elke inwoner van Suid-Afrika sal versorg word.

13 Februarie – Saterdag – Treur
In Matt. 5:4 se U; “geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” Ek bid, Here, dat U U vertroostende hand oor die treurendes sal hou en dat hulle U troos sal ervaar en ook vir ander wat sukkel ‘n seën sal wees.”

14 Februarie – Sondag – Biddag vir Jeug
Vra die HERE vandag om spesifiek met die jeug en kategese bemoeienis te maak en dat die Heilige Gees met ouers en ander rolspelers die nodige wysheid en insig sal gee om die boodskap van die Here oor te dra aan ons jeug.

15 Februarie – Maandag – Skole
Verskeie skole maak nou stuk-stuk oop en is dit ons bede dat die onderwysers, kinders en almal betrokke met die nodige versigtigheid en goeie oordeel ons kinders sal opvoed en dat die Covid virus nie angstigheid sal kweek nie.

16 Februarie – Dinsdag – Huwelike
Kom ons bid vir elke getroude paar dat hulle die liefde in mekaar sal aanwakker en die onbenullige klein jakkalsies opsy sal stoot en uit die weg sal ruim wat hul vreugde steel. Mag hul met liefde in hul harte na mekaar uitreik.

17 Februarie – Woensdag – Sekerheid
Is jy gereed vir jou lewe na die dood? Kom ons bid vandag dat die Heilige Gees jou sal aanraak en leiding sal gee vir volle sekerheid en indien jy nog nie seker is nie, dat jy die nodige leiding sal gaan vra of op die pad van iemand geplaas sal word.

18 Februarie – Donderdag – – Leraars
“Here, wil U met ons Leraars gaan waar hulle nou in uiterste moeilike omstandighede positief moet bly en U boodskap verkondig. Maak die mense se harte ontvanklik vir u boodskap en gee dat die Leraars die boodskap met passie en oorgawe aan die gemeente kan oordra. Gee ook dat die gemeente die boodskap ter harte sal neem en weer sal toepas in hulle daaglikse lewe en so U woord lewendig hou.”

19 Februarie – Vrydag – Huisgesin
Huisgesinne is deesdae baie meer bymekaar in een plek opgebondel. Bid vir goeie samesyn en liefde teenoor mekaar en dat hulle mekaar se verskille sal kan hanteer.

20 Februarie – Saterdag – Polisiemag
Vader, wees met elkeen van ons polisielede dat hulle reg sal optree en met die nodige gesag en ook met simpatie en empatie ‘n situasie sal behandel .

21 Februarie – Sondag – God se Genade
Partymaal dwaal ons van die pad af, of vergeet van God se onverdiende goedheid en genade teenoor ons, maar selfs dit sal nie verander hoe God na ons kyk nie. Sê vandag Dankie vir Sy groot genade teenoor jou as sondaar.

22 Februarie – Maandag – Krag van die Gees
In Ef 3:16 bid Paulus dat ons geestelik ons man sal kan staan waar ons so sukkel om die goeie te doen. Bid vir gelowiges om staande te bly in ons gebroke wêreld teen die aanslae van die duiwel en dat, waar ons sukkel, ons op die krag van die Heilige Gees sal staatmaak.

23 Februarie – Dinsdag – Eerlik met God
God soek ‘n hart wat oop en gebroke is teenoor Hom. Dit is vir Hom baie meer waardevol as mooi woorde en verskuilde motiewe. Maak vandag jou hart teenoor Hom oop en vertel Hom eerlik hoe jy voel asof soos teenoor jou vriend.

24 Februarie – Woensdag – Redding
Is jy bereid om jou kruis op te neem en vir Jesus te volg? Bid vandag dat jy bereid sal wees om jou kruis op te neem en gehoorsaam aan sy Woord op te tree.

25 Februarie – Donderdag – Inbrake
Inbrake en diefstal is aan die orde van die dag en nou nog meer as ooit omdat daar ‘n groot groep mense is wat nie ‘n inkomste het vir die nodige lewensmiddele nie. Bid dat die maatskaplike probleme sal verbeter sodat hulle menswaardig sal voel en ‘n ander se goed met respek sal behandel.

26 Februarie – Vrydag – Depressie
“O Heer, vat al my negatiewe gedagtes weg en vervang dit met U vrede, reinheid en krag. Vervul my met u teerheid, deernis en genade teenoor ander. “

27 Februarie – Saterdag – Kunstenaars
Dit is ‘n groot uitdaging om in die kunste te wees en nog steeds ‘n salaris te bewerksellig. Bid dat hulle met nuwe idees vorendag sal kom en vra vir seën in hulle werk.

28 Februarie – Sondag – Toekoms
“Jesus, ons vra U om in beheer van ons toekoms te wees. Ons wil nie drome droom as dit nie van U is nie. Ons wil nie planne maak as U nie daarin is nie. Ons vertrou dus ons toekoms aan u toe in die wete dat ons toekoms veilig in U hande is.”