GEBEDSGIDS – NOVEMBER 2021
“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” (1 Tess 5:8)
Maandag, 1 Nov Verkiesing
Here, vandag bid ons baie ernstig dat U ons land sal regeer en dié persone laat verkies wat U wil sal soek. Bid ook vir
die regte leiers in ons Munisipaliteite.
Dinsdag, 2 Nov Beplanning deur politici
Vandag word begin met die samestelling van verskillende politieke komitees. Bid dat gelowiges op elke bestuur
betrokke sal wees en dat korrupsie in ons land sal verdwyn.
Woensdag, 3 Nov Blokbyeenkoms Tergniet-Wes
Kom ons bid vir Tergniet-Wes, dat mense met vrymoedigheid aan gebed sal deelneem. Bid dat ons wyksbyeenkomste
ons om die Woord sal saambind.
Donderdag, 4 Nov Dankbaarheid
Dit is nie geluk wat ons dankbaar maak nie, maar dankbaarheid wat ons gelukkig maak. (Albert Clark) As my hart seer
is, of ek kry een of ander teenspoed, Here, help my asseblief om dan steeds dié dinge te tel waarvoor ek dankbaar kan
wees.
Vrydag, 5 Nov Omgee-mense
Ds Danie se gebed, 19 September: “Here, maak ons waaksaam dat ons vir Jesus sal raaksien in die nood en swaarkry
van ander; dat ons liefde sal bewys.”
Saterdag, 6 Nov Bid vir vyande
In Matteus 5:44 Kry ons die opdrag: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg.” Vra
eers: Wie is my vyande? Persone met wie ek nie lekker saamwerk nie? Mense wat my beledig? Hulle wat ons land
nie na ons sin regeer nie? Bid vir elkeen.
Sondag, 7 Nov Geopende Deure / Kerkraad
Kom ons bid dat ons Kerkraadslede wat vandag bevestig word, God se wil sal doen en só in elke wyk Hom sal
verheerlik. Bid ook vir die volhardende en dikwels gevaarlike werk van Geopende Deure, dat die werkers nie
moedeloos sal word nie.
Maandag, 8 Nov Bid vir Gelowiges
In Efesiërs 6:18 kry ons die opdrag: “Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.” Dink in besonder aan ons
leraars en kerkraadslede, kategese-onderwysers en kantoorpersoneel.
Dinsdag, 9 Nov Bybelstudiegroepe | Bestuurspan
Die inperkings as gevolg van Covid 19 het verhoed dat ons groepe hierdie jaar getrou ons Bybelstudie kon bywoon.
Dank die Here dat ons vandag saam kan afsluit. Bid asseblief ook vir ons Bestuurspan wat vandag vergader.
Woensdag, 10 Nov Blokbyeenkoms Pienaarstrand tot Heroldsbaai
Dankie Here dat ons geleenthede soos hierdie het om saam te bid. Seën ons wyk met gehoorsaamheid aan U en liefde
en omgee vir mekaar.
Donderdag, 11 Nov Bid vir individue
Simon, die towenaar, vra in Handelinge 8:24 dat die apostels vir hom moet bid. In elkeen van ons se lewens is familie
of vriende van wie sommige nog nie die Here ken nie. Kom ons bid ernstig vir hierdie individue.
Vrydag, 12 Nov Teenmiddels
Ons is dankbaar vir die mediese wetenskap wat so ver gevorder het met entstowwe teen Covid 19. Bid dat die wêreld
weer sal terugkeer na normaal en God sal dank.
Saterdag, 13 Nov Gevolge van Covid 19
Ons bid vir só baie mense wat negatief geraak is deur Covid 19: bekendes, familie, huisgesinne en selfs egpare. Ons
bid vir genesing en vir die heling van verhoudings, ook in die politiek en elke plek waar mense saamkom. Kom ons kyk
na Jesus as voorbeeld.
Sondag, 14 Nov Biddag vir Beskermingsdienste
Ons Beskermingsdienste het ‘n enorme werk! Bid asseblief dat hulle goeie opleiding van kenners sal ontvang om
hulself en die res van ons te beskerm. Bid ook dat hulle nie by wanpraktyke betrokke sal raak nie.
Maandag, 15 Nov Danksegging
Paulus skryf aan die Filippense (1:4): “Ek bid altyd in al my gebede met blydskap vir julle almal.”. Paulus sit in die
tronk maar, dít leer ons van hom: ons kan met dankbaarheid en blydskap vir mekaar bid.
Dinsdag, 16 Nov Kerkraadsvergadering
Here, ons bid dat elke besluit wat ons Kerkraad vanaand neem, alleenlik tot eer van U Naam sal wees.
Woensdag, 17 Nov Blokbyeenkoms Reebok tot Mosselbaai
Sommige van hierdie lidmate woon ver van ons kerk af. Ons bid dat dit vir hulle moontlik sal wees om die
Blokbyeenkoms by te woon.
Donderdag, 18 Nov Verslawing
Ons bid vandag vir alle mense in ons land wat op een of ander wyse verslaaf is aan iets wat ‘n houvas op hulle het: bv
drank, dwelms, pornografie, slegte gewoontes.
Vrydag, 19 Nov Vry gemaak | Gered
Dankie Here, dat ons, deur in Christus te glo, vry gemaak is en werklik vry kan wees. (Galasiërs 5:1) Ons bid dat die
Here ons ‘n positiewe gesindheid sal gee teenoor ons meerderes sowel as ons minderes en ook teenoor die owerhede.
(Fil 2:5)
Saterdag, 20 Nov Droogte | Brande
In groot dele van ons land is dit nog baie droog ook as gevolg van groot brande op plase en boere moet hulp kry om
hul diere te voer. Ons bid vir uitkoms daar en sê baie dankie vir goeie reëns by ons en baie ander dele.
Sondag, 21 Nov Kankerlyers
So baie van ons familie en vriende kry swaar as gevolg van siekte. Covid het sy tol geëis, maar kanker bly ‘n
bangmaakding vir baie van ons. Bid vir geloof en ook vir berusting by die wil van God. Ons dra elke kankerlyer aan die
Here op.
Maandag, 22 Nov Skepping
Ons bid dat die Vader ons gesindheid teenoor die skepping drasties sal verbeter, veral ten opsigte van besoedeling,
vernietiging van die natuur, aardverwarming.
Dinsdag, 23 Nov Geweld |Polisiemag
Here, ons bely dat geweld al hoe erger word. Ons bid vir ons Polisiemag. Bewaar ons polisie en gee vir hulle wysheid
om in alle omstandighede reg op te tree.
Woensdag, 24 Nov Afganistan | Noord-Korea
Bid vir Afganistan. Veral die vroue kry baie swaar nadat Amerika daar onttrek het en die Taliban oorgeneem het.
Noord-Korea is die gevaarlikste plek op aarde vir Christene. Bid ernstig vir ons vervolgde broers en susters.
Donderdag, 25 Nov Huis- en tuinwerkers
Vandag bid ons spesifiek vir ons huis- en tuinwerkers. Ons bid vir hulle, wat so ‘n belangrike rol in baie huishoudings
speel, se welstand en ook vir hulle gesinne. Here, gee vir ons as U kinders die vrymoedigheid om met ons optrede U
liefde te bewys.
Vrydag, 26 Nov Oupa’s en ouma’s
Ons gebede gaan vandag uit na grootouers wat so ‘n belangrike rol in kinders en kleinkinders se lewens speel. Ons bid
vir kinders se opvoeding, liggaamskragte, onderskeidingsvermoë onder alle omstandighede, en dat hulle Jesus, die
Verlosser sal leer ken.
Saterdag, 27 Nov Werkloses
Kom ons bid vir almal wat finansieel swaarkry, veral omdat hulle sedert Covid 19-inperkings hul werk verloor het. Bid
die Here se leiding vir elkeen wat nie werk het nie en wie se kinders as gevolg daarvan ook swaarkry.
Sondag, 28 Nov Kerssangdiens (Lied 376:2)
Jesus, U aan God gelyk, U kom na die menseryk.
U, die Heer, het niks ontsien – U word kneg, U kom ons dien.
Gee aan ons dieselfde gees – om tot diens bereid te wees.
Maandag, 29 Nov Gebed
Here, ons weet nie hoe en wat om te bid nie. Dankie vir Paulus se raad aan die Romeine in 8:26 – “…die Gees pleit self
vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
Dinsdag, 30 Nov Jaareinde
Die jaar 2021 spoed ten einde. Dit is ‘n jaar wat skokgolwe deur ons gemeente en hele land gestuur het, maar ons kan
sing: Lied 571:4
As U guns ons hier benede, sóveel lewensvreugde bied, watter saligheid en vrede sal ons eens by U geniet.
As ons deur u Gees se leiding, met die diepste hartsverblyding van U, Heer, ontvang die kroon, voor u heil’ge hemeltroon!