Vandag is AsWoensdag – die begin van die 40 dae lydenstyd voor paasnaweek. Lydenstyd is ‘n tyd vir selfondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed en diens aan ander. Dit is ‘n tyd om selfs nog meer as gewoonlik die Woord te lees en te oordink. Deur dit alles berei ons ons voor vir die Paasfees. Wat een van die hoogtepunte van die kerklike jaar is. Die gebruik is om palmtakke van die jaar tevore se Palmsondag te verbrand. Vandaar die AS. Gelowiges smeer dan die as aan hul voorkop of pols om jou te herinner aan dit wat Jesus gely het. Om as oor jou kop te strooi was ook ‘n teken van boetedoening in die Bybelse tye. Ons verootmoedig onsself ook met die oog op Lydenstyd.
Aswoensdag geloofsgewoonte:
Dink aan drie dinge die afgelope tyd in jou lewe waaroor jy regtig JAMMER is.
- Vra God se vergifnis
- Aanvaar God se vergifnis
- Aanvaar dat God jou onvoorwaardelik liefhet.
Nog ‘n gebruik onder gelowiges is om tydens Lydenstyd te vas. Onthou: Vas is nie werk met meriete voor God nie. Dit help ons net om op God te fokus. Dit plaas ons in ‘n posisie om meer met God besig te wees en daarin geseen te word. Daarom kan ons op verskillende maniere vas. Dink bv.: Wat kan jy tydens lydenstyd offer om jou te herinner dat hierdie ‘n tyd van verootmoediging is. Die vas wat die Here van hou het ook meer te make met geregtigheid as onthouding van kos of iets dergeliks. Dink dus ook aan iemand wat in nood verkeer en dink hoe jy daardie persoon in hierdie lydenstyd spesiaal kan bystaan. Doen dit sommer nou.
Lydenstyd gebed:
Here, mense ly rondom my maar ek voel nie saam hulle lyding nie.
Here wees my genadig
Here, ek verontskuldig myself maklik en ken nie my sonde nie.
Here wees my genadig
Here, ek leef vir my eie belange
Here, wees my genadig
Here, ek vergewe nie ander nie en betoon nie genade nie
Here, wees my genadig
Here, ek wil so graag beter as ander wees
Here, wees my genadig
Here, ek is so dikwels te gejaag en te moeg om vir ander om te gee
Here, wees my genadig
Here, ek luister nie in liefde na ander nie
Here, wees my genadig
Here, my motiewe is dikwels so liefdeloos en my agenda so verskuil.
Here, wees my genadig
Amen


