Afkondigings 5-12 Junie 2022

Afkondigings - NGK Groot-Brakrivier

Ned. Geref. Kerk  Groot-Brakrivier

5 Junie – 12 Junie 2022                                                             

Vandag – Sondag 5 Junie 2022: 

  • Baie welkom by vanoggend se erediens.
  • Nagmaal.
  • Ons skriflesing vanoggend kom uit Prediker 3 verse 1 tot 15.  Die tema van die prediking is: Aanvaarding en berusting?
  • Geen kategese.
  • Sinodale deuroffer vir Jeugwerk.

Nuwe lidmate in ons gemeente: 

Ons nooi nuwe lidmate om asb. na die erediens tot voor die kansel te kom waar ons u graag wil ontmoet.  In die voorportaal is ook vorms beskikbaar wat u kan voltooi sodat ons u vinnig kan leer ken.  U is welkom om ons te kontak of te kom inloer by die kerkkantoor Maandae, Woensdae & Vrydae tussen 08:00 & 13:00. 

Eredienste

Eredienste word op Sondae om 10:00 in die kerkgebou en die saal, indien nodig, gehou.  Daar sal aan die vereistes van Covid19 regulasies voldoen word by die aanbieding van die eredienste.  Skakel gerus die kerkkantoor (044 620 2205) indien u enige verdere inligting verlang.

Gebedsgidse:

Gebedsgidse vir Junie 2022 is beskikbaar in die voorportaal.  

Die gebedsgidse, dankofferkoeverte en Kerkbode is ook by die traliehek van die kerk-kantoor beskikbaar.

Blokbyeenkoms – 8 Junie 2022 

Blokke 11A en 11B (Pienaarstrand tot Heroldsbaai) se gesamentlike blokbyeen-koms vind Woensdagaand, 8 Junie 2022, om 18:00 plaas by Helgaard en Cecile Müller, Gleniquarylaan 243, Outeniquastrand).  

Kontak: Kobus Huysamen (044 879 0084).

Sondag – 12 Junie 2022

  • Biddag vir Jeug en Kategese.
  • Kategese om 09h00.
  • Prediker:  Ds. Danie Goosen (kerkgebou) en Ds. Basie Fourie (Groenkloof)
  • Spesiale offer vir Gemeente Instandhoudingsfonds.
  • Bevestiging van nuwe kerkraadslede.

Behoeftes vir Getuienisprojekte

Die voorsiening van materiaal, gare, borduur-gare, keramiek en wol is ook ‘n deurlopende behoefte en ons gee gereeld terugvoer van die produkte wat die mensies maak d.m.v. fotos wat op die webblad geplaas word.

Getuienisbediening
✓ pot of soup free vector eps, cdr, ai, svg vector illustration graphic art

Wolwedans boodskap, sop en brood bediening.

  • Die datums vir die tweede kwartaal se uitreike is 15 & 29 Junie 2022.
  • Die voorsiening van sop is ‘n deurlopende behoefte. Baie dankie vir die getroue ondersteuning.

Ons wil net baie dankie sê vir die positiewe reaksie op ons versoek – ons het nie net ‘n sitstootwaenjie ontvang nie maar sommer ‘n rolstoel ook.  Die rolstoel gaan gebruik word vir ‘n behoefte in Wolwedans wat nog nie sigbaar gemaak is nie. Ons kan maar net op ons knieë gaan en die Here loof en prys vir Sy voorsiening.

Selfone

Met Woensdag se uitreik na Wolwedans is aan ons bekendgemaak van twee van ons leiers wie se selfone gesteel is.  Ons wil hoor of daar dalk iemand is wat kan help met twee ou selfone.  Kontak asseblief vir Emile Hurter (082 554 1979) indien u kan help.

Naam vir Nie-winsgewende maatskappy

Die kerkraad het die registrasie van ‘n nie-winsgewende maatskappy in beginsel goedgekeur.  Dit gaan gebruik word om buite befondsing te bekom vir projekte wat ons in deernis wil bedryf in Groot-Brakrivier.  

Ons wil julle uitnooi om te help met ‘n naam vir die maatskappy.  Die naam moet aanduidend wees van wat ons doen.  

Vir die person wie se naam gebruik gaan word is daar koffie en koek by die Ou Pastorie Teetuin vir 2 persone.  

Stuur voorgestelde naam na emile.hurter@gmail.com of per WhatsApp of SMS na 082 554 1979.

Bloedskenking – 9 Junie 2022

Ons herinner u aan die bloedskenkingsgeleentheid, Donderdag 

9 Junie 2022, vanaf 15:00 tot 19:00 in die kerksaal.

(Navrae:  Christo Smit 083 447 9891)

Omgeebediening

Die omgeebediening voorsien maandeliks kruidenierswarepakkies aan behoeftige gesinne.  Kontak asseblief die kerkraadslid / kerkkantoor indien u bewus is van wykslede wat swaarkry weens finansiële of emosionele omstandighede.

U is welkom om ‘n bydrae te maak.  Enige nie-bederfbare produkte soos suiker, pasta, rys, konfyte, blikkieskos, seep, tandepaste, koffie, tee ens. is baie welkom asook winkelplastieksakke vir verpakking.

Ook enige klere, beddegoed, handdoeke, gordyne ens. is baie welkom vir die “Klerekas” waarvandaan dit weer versprei word aan diegene in nood.

Bydraes kan geplaas word binne die houers in die voorportaal van die kerkgebou op ‘n Sondagoggend of alternatiewelik op Maandae, Woensdae of Vrydae by die kerkkantoor afgegee word tydens kantoorure.  

Skakel Corrie Pieters (082 327 9527) vir verdere inligting.

KLUB-50+

Klub-50+ se volgende uitstappie is na Die Shweshwe Stop in Friemersheim, waar hulle ons vertel van die geskiedenis van Friemersheim.

Daar sal items beskikbaar wees om te koop wat deur die plaaslike vroue gemaak word van shweshwe materiaal.  Ons gaan ‘n koppie tee geniet, saam met ‘n eetdingetjie @ R40 per kop.  

Datum:  Woensdag, 8 Junie 2022

Koste:  R40 per person (bring asseblief saam die oggend van die uitstappie)

Vertrekpunt:  NG Kerk Groot-brakrivier 

(Ons kan sommer saam met mekaar ry om brandstof te spaar.)

Tyd: 9h30 vm.

RSVP:  Maandag, 6 Junie 2022 met Mariana 082 922 9291

Dankies

Ds. Paul & Hettie Roodt wil hiermee hul opregte dank betuig aan die kerkraad en die hele gemeente vir die afskeidstee op 8 Mei.  Ons het die geleentheid geniet, en waardeer al die moeite wat gedoen is.

Lynette de Jager – Eilande Sending ( kwartaallikse bydrae)

“Baie dankie vir die bydrae. Dit kom altyd op die regte tyd.“

YouTube Eredienste

YouTube eredienste is elke Sondagoggend om 07:00 beskikbaar op YouTube deur middel van die skakel wat per WhatsApp aan u gestuur word.  Al die dienste van ons gemeente wat voorheen op YouTube uitgesaai is, is steeds beskikbaar op YouTube.  U kan dus te enige tyd na vorige dienste kyk.  Die skakel na die YouTube dienste is ook op ons gemeente se webwerf beskikbaar.  https://www.nggrootbrak.co.za

Alfreda Stander (Skiba-kassier) is met verlof vanaf 7 tot 21 Junie 2022.

Ons dank u vir u volgehoue bydrae en ondersteuning van die werk van die Here.

Leraar: Danie Goosen (079 525 3624)

Posbus 9, Groot-Brakrivier, 6525          🕾 044 620 2205      Faks:  044 050 1532

e-pos: ngkgbr@mweb.co.za / tilliengk@live.co.za

  Webbladadres:  https://www.nggrootbrak.co.za

Bankbesonderhede:  FNB tjekrekening

Rek Nr.  530 831 865 11

Takkode 210314

Gebedsgids vir Junie 2022

Gebed

“Waar 2 of 3 bymekaar is, daar is U.”
Woensdag, 1 Junie – Pinksterbiduur (vervolg)
Ons bid vandag vir volgehoue opkoms by die pinksterbiduur en dat hulle sommer nog mense na die biduur toe nooi.
Donderdag, 2 Junie – Pinksterbiduur (vervolg)
“Here, mag u vandag die vlam in die harte van die mense wat die biduur bywoon, aanvuur om die wil van U uit te dra.”
Vrydag, 3 Junie – Prys God
Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.
Saterdag, 4 Junie – Leraars
Met die oog op die Pinksterfees in gemeentes bid ons vir ons Leraars om die boodskap wat God wil oordra aan die gemeente aan hulle sal openbaar en om hulle getrou te maak om die boodskap uit te dra soos God dit wil.
Sondag, 5 Junie – Pinksterfees
Ons hou vandag fees oor die feit dat Jesus vir ons sondes gesterf het, maar nou opgestaan het en sit aan die Regterhand van God en vir ons plek in die hemel regmaak.
Maandag, 6 Junie – Jeugwerk
Gister was die Sinodale Kollekte vir Jeugwerk en ons bid dat die offer op die regte plekke aangewend word.
Dinsdag, 7 Junie – Gevangenes
Mag ons vandag bid vir alle gevangenes dat hulle deur die sendingwerk van ons gemeentelede ook die Gees van God sal aanvaar en God sal leer ken en Hom sal aanvaar as hul Heer en Meester.
Woensdag, 8 Junie – Skoliere
Kom ons raak stil en tree in vir al ons skoliere dat hulle hul kant sal bring en sal besef dat hulle nie leer vir hulself nie, maar om God se Naam te verheerlik.
Donderdag, 9 Junie– God se Liefde
God het die mens so lief gehad dat Hy sy Enigste Seun vir ons sondes gegee het. Bid en dank God dat Hy ons so lief het en dat Hy sal gee dat ons dit ook aan ander sal vertel.
Vrydag, 10 Junie – God se sorg
Ons bid vandag dat ons vir God sal vertrou vir Sy sorg vir al ons behoeftes en dat ons sal onthou Hy sorg vir die veld en so sal Hy ook vir die mens voorsien.
Saterdag, 11 Junie – Beskerming
In Heb. 13:5 sê die Here dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Bid dat ons na Hom toe sal gaan vir skuiling en beskerming en dat ons nie bedreig sal voel nie.
Sondag, 12 Junie – Standvastigheid
Bid vandag dat ons God se standvastigheid in ‘n wankelrige wêreld sal raaksien en Hom sal dank en eer daarvoor.
Maandag, 13 Junie – Onsekerheid
Wag jy vir ‘n antwoord van God en is onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet. 5:7.
Dinsdag, 14 Junie – Covid gevolge
Kom ons vat vandag hande en vra dat die Here vir ons wys waar is hartseer, hoop verlore mense wat net ‘n skouer nodig het of hulp om weer hoop te kry om aan te gaan met besighede wat nie inkomste deur die Covid tyd gehad het nie en wat net weer ‘n bietjie selfvertroue benodig.

Woensdag, 15 Junie – Jeugdag
More is dit Jeugdag en bid ons vir die jeug en dat hul Jesus sal ontmoet maar ook vir leiers, ouers, onderwysers en ander in die jeug se lewe om hulle op die regte pad te lei.
Donderdag, 16 Junie – Fasiliteringsgeleentheid
Bid vandag vir Dr Frans Hancke wat die geleentheid lei en vra die Here se leiding, sodat hy ook vir ons gemeente die pad wat Hy wil hê ons moet volg, sal uitwys.
Vrydag, 17 Junie – Polisiemag
Jesus, ons wil vandag kom intree vir elke polisiebeampte en bid dat U hulle sal beskerm waar hulle elke dag in gevaar hul werk onverskrokke moet verrig en ons landsburgers beskerm.
Saterdag, 18 Junie – Prostitusie
Bid asseblief sonder ophou dat diegene wat in hierdie web vasgevang is, bevry sal word en bid dat huisgesinne nie deur hierdie optredes onherstelbaar vernietig word nie.
Sondag, 19 Junie – Vadersdag
“Vader, U is groot Vader wat vir ons sorg. U sorg ook vir ons vaders en wil ons vandag hulle aan U opdra sodat hulle die koningskap van hul huishouding sal opneem.”
Maandag, 20 Junie – Verpleegsters
Verpleegsters werk onbaatsugtig en wil ons vandag aan hulle harde werk dink en vra dat hulle die krag en lus sal hê om pasiënte te behandel.
Dinsdag, 21 Junie – Kerkraad
Ons dra die kerkraad en hul besluite aan die Here op en glo die fasiliteringsbesluite sal nou toegepas sal word en dat almal eensgesind sal wees oor hulle besluite.
Woensdag, 22 Junie – Eensames
Kom ons bid vandag aan alle mense wat alleen is en iemand aan die dood afgestaan het. Ons bid dat hulle God se teenwoordigheid en liefde sal aanvoel deur die optrede van ons ander lidmate.
Donderdag, 23 Junie – Gesondheid
God is ons Geneser. Sy helende Hand salf ons wonde, dra ons laste en droog ons trane af. Bid vir goeie gesondheid uit God se wonderwerkende Hand en glo en dank Hom vir Sy genesing onbeperk.
Vrydag, 24 Junie – Geloof
Bid sonder ophou vir onwankelbare geloof in Jesus en dat die ongelowiges tot Jesus gelei sal word en sal glo dat Hy ons enigste Redder is.
Saterdag, 25 Junie – Roeping
Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping van Jesus ontvang, sal uitleef en jou drome sal los vir Jesus se groot droom en roeping vir jou lewe.
Sondag, 26 Junie – Toegewyd
Buig jul knieӫ en bid dat die mensdom weer toegewyd aan God sal wees en so sal besef dat hulle niks is sonder Hom nie en dat hul getrou elke dag Sy Woord sal opsoek en oordink.
Maandag, 27 Junie – Covid
Daar is weer opnuut ‘n opvlam van Covid gevalle en met die naderende winter en koues bid ons dat almal sal gesond word en versigtig met omgaan van ander sal wees.
Dinsdag, 28 Junie – Sending
Kom ons vou ons hande saam en dra al ons sendelinge aan die Here op. Ons vra dat Jesus hulle sal lei maar ook versorgers sal stuur sodat hulle nie moed verloor nie, maar die roeping moedig sal voortleef en die Woord van God versprei aan die ongelowiges.
Woensdag, 29 Junie – Politici
“Here, ons wil vandag ons leiers van die land aan U opdra en vra dat hulle Suid-Afrika weer sal opbou tot ‘n wêreldleier en dat hulle sal kyk na ons bronne en dit uitbou tot die beste in die wêreld.
Donderdag, 30 Junie – Kinders
“Jesus, U was baie lief vir kinders. Beskerm asseblief hierdie vakansie ons kinders en omarm hulle met U liefde en gee dat U Gees elke dag met elkeen van ons geliefde kinders is”.