Gebedsgids vir Junie 2022

“Waar 2 of 3 bymekaar is, daar is U.”
Woensdag, 1 Junie – Pinksterbiduur (vervolg)
Ons bid vandag vir volgehoue opkoms by die pinksterbiduur en dat hulle sommer nog mense na die biduur toe nooi.
Donderdag, 2 Junie – Pinksterbiduur (vervolg)
“Here, mag u vandag die vlam in die harte van die mense wat die biduur bywoon, aanvuur om die wil van U uit te dra.”
Vrydag, 3 Junie – Prys God
Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.
Saterdag, 4 Junie – Leraars
Met die oog op die Pinksterfees in gemeentes bid ons vir ons Leraars om die boodskap wat God wil oordra aan die gemeente aan hulle sal openbaar en om hulle getrou te maak om die boodskap uit te dra soos God dit wil.
Sondag, 5 Junie – Pinksterfees
Ons hou vandag fees oor die feit dat Jesus vir ons sondes gesterf het, maar nou opgestaan het en sit aan die Regterhand van God en vir ons plek in die hemel regmaak.
Maandag, 6 Junie – Jeugwerk
Gister was die Sinodale Kollekte vir Jeugwerk en ons bid dat die offer op die regte plekke aangewend word.
Dinsdag, 7 Junie – Gevangenes
Mag ons vandag bid vir alle gevangenes dat hulle deur die sendingwerk van ons gemeentelede ook die Gees van God sal aanvaar en God sal leer ken en Hom sal aanvaar as hul Heer en Meester.
Woensdag, 8 Junie – Skoliere
Kom ons raak stil en tree in vir al ons skoliere dat hulle hul kant sal bring en sal besef dat hulle nie leer vir hulself nie, maar om God se Naam te verheerlik.
Donderdag, 9 Junie– God se Liefde
God het die mens so lief gehad dat Hy sy Enigste Seun vir ons sondes gegee het. Bid en dank God dat Hy ons so lief het en dat Hy sal gee dat ons dit ook aan ander sal vertel.
Vrydag, 10 Junie – God se sorg
Ons bid vandag dat ons vir God sal vertrou vir Sy sorg vir al ons behoeftes en dat ons sal onthou Hy sorg vir die veld en so sal Hy ook vir die mens voorsien.
Saterdag, 11 Junie – Beskerming
In Heb. 13:5 sê die Here dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Bid dat ons na Hom toe sal gaan vir skuiling en beskerming en dat ons nie bedreig sal voel nie.
Sondag, 12 Junie – Standvastigheid
Bid vandag dat ons God se standvastigheid in ‘n wankelrige wêreld sal raaksien en Hom sal dank en eer daarvoor.
Maandag, 13 Junie – Onsekerheid
Wag jy vir ‘n antwoord van God en is onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet. 5:7.
Dinsdag, 14 Junie – Covid gevolge
Kom ons vat vandag hande en vra dat die Here vir ons wys waar is hartseer, hoop verlore mense wat net ‘n skouer nodig het of hulp om weer hoop te kry om aan te gaan met besighede wat nie inkomste deur die Covid tyd gehad het nie en wat net weer ‘n bietjie selfvertroue benodig.

Woensdag, 15 Junie – Jeugdag
More is dit Jeugdag en bid ons vir die jeug en dat hul Jesus sal ontmoet maar ook vir leiers, ouers, onderwysers en ander in die jeug se lewe om hulle op die regte pad te lei.
Donderdag, 16 Junie – Fasiliteringsgeleentheid
Bid vandag vir Dr Frans Hancke wat die geleentheid lei en vra die Here se leiding, sodat hy ook vir ons gemeente die pad wat Hy wil hê ons moet volg, sal uitwys.
Vrydag, 17 Junie – Polisiemag
Jesus, ons wil vandag kom intree vir elke polisiebeampte en bid dat U hulle sal beskerm waar hulle elke dag in gevaar hul werk onverskrokke moet verrig en ons landsburgers beskerm.
Saterdag, 18 Junie – Prostitusie
Bid asseblief sonder ophou dat diegene wat in hierdie web vasgevang is, bevry sal word en bid dat huisgesinne nie deur hierdie optredes onherstelbaar vernietig word nie.
Sondag, 19 Junie – Vadersdag
“Vader, U is groot Vader wat vir ons sorg. U sorg ook vir ons vaders en wil ons vandag hulle aan U opdra sodat hulle die koningskap van hul huishouding sal opneem.”
Maandag, 20 Junie – Verpleegsters
Verpleegsters werk onbaatsugtig en wil ons vandag aan hulle harde werk dink en vra dat hulle die krag en lus sal hê om pasiënte te behandel.
Dinsdag, 21 Junie – Kerkraad
Ons dra die kerkraad en hul besluite aan die Here op en glo die fasiliteringsbesluite sal nou toegepas sal word en dat almal eensgesind sal wees oor hulle besluite.
Woensdag, 22 Junie – Eensames
Kom ons bid vandag aan alle mense wat alleen is en iemand aan die dood afgestaan het. Ons bid dat hulle God se teenwoordigheid en liefde sal aanvoel deur die optrede van ons ander lidmate.
Donderdag, 23 Junie – Gesondheid
God is ons Geneser. Sy helende Hand salf ons wonde, dra ons laste en droog ons trane af. Bid vir goeie gesondheid uit God se wonderwerkende Hand en glo en dank Hom vir Sy genesing onbeperk.
Vrydag, 24 Junie – Geloof
Bid sonder ophou vir onwankelbare geloof in Jesus en dat die ongelowiges tot Jesus gelei sal word en sal glo dat Hy ons enigste Redder is.
Saterdag, 25 Junie – Roeping
Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping van Jesus ontvang, sal uitleef en jou drome sal los vir Jesus se groot droom en roeping vir jou lewe.
Sondag, 26 Junie – Toegewyd
Buig jul knieӫ en bid dat die mensdom weer toegewyd aan God sal wees en so sal besef dat hulle niks is sonder Hom nie en dat hul getrou elke dag Sy Woord sal opsoek en oordink.
Maandag, 27 Junie – Covid
Daar is weer opnuut ‘n opvlam van Covid gevalle en met die naderende winter en koues bid ons dat almal sal gesond word en versigtig met omgaan van ander sal wees.
Dinsdag, 28 Junie – Sending
Kom ons vou ons hande saam en dra al ons sendelinge aan die Here op. Ons vra dat Jesus hulle sal lei maar ook versorgers sal stuur sodat hulle nie moed verloor nie, maar die roeping moedig sal voortleef en die Woord van God versprei aan die ongelowiges.
Woensdag, 29 Junie – Politici
“Here, ons wil vandag ons leiers van die land aan U opdra en vra dat hulle Suid-Afrika weer sal opbou tot ‘n wêreldleier en dat hulle sal kyk na ons bronne en dit uitbou tot die beste in die wêreld.
Donderdag, 30 Junie – Kinders
“Jesus, U was baie lief vir kinders. Beskerm asseblief hierdie vakansie ons kinders en omarm hulle met U liefde en gee dat U Gees elke dag met elkeen van ons geliefde kinders is”.