Liewe Gemeente,
Die kerkraad het besluit om geloofsonderskeidend die moontlikheid van ’n standplaasverwisseling tussen ds. Danie Goosen (NG Kerk Groot-Brakrivier) en ds. Leon Cronjé (NG Kerk Stellenbosch Welgelegen) te begin ondersoek. Ons wil die gemeente vra om saam met ons te bid en te onderskei wat die Here se stem is vir die pad vorentoe.
Wat is ’n standplaasverwisseling?
’n Standplaasverwisseling is ’n beroepingsproses waar die uiteinde sou kon wees dat twee spesifieke predikante standplase (bedieningsgemeentes) verwissel (in hierdie geval Leon Cronjé na Groot Brakrivier en Danie Goosen na Stellenbosch-Welgelegen).
Hoe het dit gebeur? (Danie se storie)
Danie het die Bestuurspan tydens ‘n strategiese sessie verlede jaar ingelig dat hy die moontlikheid ondersoek om nader aan Stellenbosch te probeer vestig, aangesien sy persoonlike omstandighede verander het. Hy het egter onderneem om ‘n paar strategiese sake af te handel en vir voorbidding gevra. Rondom die einde van die eerste kwartaal het Danie vir Leon Cronje geskakel om te hoor of hy nie bewus is van ‘n persoon of self dalk standplaasverwisseling ondersoek nie.
Leon het gesê dat hy die hand van die Here in die proses ervaar en ongeveer 9 maande gelede al gevoel het om Danie te kontak. Hy het egter gewag en vertrou Danie sou met hom praat as die saak ook op sy hart gelê is deur die Here.
Danie is gelukkig in die gemeente van Groot-Brakrivier en die proses is nie maklik vir hom nie. Hy leef in afhanklikheid voor die Here, en glo dat na ongeveer 14 jaar in die gemeente, sy gawes ook ‘n dienende bydrae in Stellenbosch Welgelegen kon beteken. Hy dink ook dat standplaasverwisseling die moontlikheid oopmaak vir leraars en gemeentes om vernuwend voor die Here te bly leef. Hy vertrou alle partye sal dit as ‘n geskenk uit God se hand kan beleef. Vernuwende denke en roepingsbewustheid is die sleutels vir die pad waar God ons ookal mag lei. Danie vertrou saam met elkeen dat ons duidelikheid sal hê.
Hoe werk die proses nou verder?
Die proses wat nou voorlê is dat die onderskeie kerkrade van die moontlike nuwe standplase van die predikante onderhoude met hulle het om meer oor hulle unieke gawes en persoonlikhede te leer ken om te bepaal of hulle ’n vrugbare bedieningspad saam met die nuwe gemeentes sal kan loop.
Hierna, sal beide gemeentes se kerkrade ’n beroepingsvergadering hê om biddend te besluit of hulle die ander predikant wil beroep.
Vir ’n standplaasverwisseling om suksesvol te gebeur, moet beide gemeentes oortuig wees hulle hoor by die Here dat die nuwe predikant beroep moet word. Enige kerkraad kan op enige punt besluit dat hulle die proses wil beëindig.
Dit is hoekom dit so belangrik is om geloofsonderskeidend oor die saak te dink sodat ons besluite neem wat ons oortuig is die Here lei ons in. Ons vra daarom dat julle as gemeente asseblief in gebed sal intree in die volgende tyd wat ons besig is met hierdie proses as kerkraad. Bid vir:
- die onderskeie gemeentes se kerkrade dat ons na die Here se stem en leiding sal soek en
- slegs treë sal neem waarheen ons voel God self ons lei;
- bid ook vir die onderskeie leraars betrokke en hulle gesinne;
- en bid ook vir die twee gemeentes wat hierdie pad loop en dat die Here die grond binne hierdie geloofsgemeenskappe sal voorberei vir die uiteinde van die proses wat Hy wil hê, wat dit ook al mag wees.
Navrae
Kontak my gerus met enige vrae in die verband.
Danie is bereid om met enige lidmaat oor die saak te gesels en onderneem om die pad met integriteit te loop.
Die Sinode en onderskeie ringe ondersteun en begelei die kerkrade in die proses.
Mag die Here ons almal hierin lei!
Die uwe,

Willem du Preez
Voorsitter van die Kerkraad

