“En meteens het ‘n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun or wie Ek My verheug.””
Matt. 3: 1720
Christus, die geliefde Seun van die Vader
In Matt. 3: 1720 spreek God sy liefde uit vir Jesus Christus, net nadat Hy deur Johannes die Doper gedoop is. Dis ‘n baie bekende gedeelte in die Bybel, en word ook in Markus en Lukas goed beskryf, of na verwys. As gevolg van Jesus Christus se opdrag hier op aarde, moes Hy egter ook versoekings deurstaan, om ons menslike swakhede te oorwin.
Hierna word Hy deur die Gees die woestyn ingelei, waar Hy vir veertg dae en veertig nagte lank vas. In hierdie verswakte fisiese toestand kom die versoeker nader en versoek Hom driemaal. Ten spyte van sy fisiese verswakte toestand, het Christus egter geweet, daar is een manier om die versoeking te weerstaan, nl. Kennis van die Woord van God.
Teksverse:
“Hierna is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei om deur die Duiwel versoek te word. Veertig dae en veertig nagte lank het Hy gevas, en later honger geword.” (Matt. 4: 1-220);
“Toe het die versoeker nader gekom en vir Hom gesê: As u die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode moet word. Maar Hy antwoord: “Daar staan ook geskryf,” ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.’ ” ” (Matt. 4: 3-420)
Versoekings van Christus
Wie van ons was al vir so lank van voedsel ontsê? Wie van ons weet regtig hoe swaar dit is om vir veertige dae en nagte niks oor ons lippe te neem nie? Nie ‘n enkele brokkie nie. Sou ons die versoeking en aanslag kon teenstaan? Sou ons daaraan gedink het om na ‘n aanhaling uit die Bybel te gryp, wanneer ons so versoek word? Ken ons die Bybel goed genoeg om sonder om eers daaroor te dink, teen enige versoeking wat na ons geslinger word, spontaan daarop te reageer?
Tweedens het die Duiwel Jesus probeer versoek deur vir Hom te laat verstaan dat God se engele Hom sou red as Hy van die tempelgebou afspring. Hy sou geen skade opdoen nie. Dit was gedoen deur ‘n aanhaliing uit die Bybel in Ps. 91: 11-1220. Hierop het Christus geantwoord dat ons nie vir God mag versoek nie, want dit staan so geskryf. Hoe dikwels word ons versoek deur die woorde van ander, wat ons paai en sagkens hanteer, maar met duiwelse agendas? Voel jy bestand daarteen? Kom die antwoorde op hierdie versoekings vinnig genoeg?
Derdens het die Satan Jesus Christus al die prag en praal van die koninkryke van die wêreld gewys, en beloof om dit vir Hom te gee indien Hy voor hom sou neerkniel en hom aanbid. Hierop het Jesus Christus vir hom gesê: “Gaan weg Satan! Want daar staan geskryf, “ ‘Die HERE jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’” (Matt. 4: 1020)
Teksverse:
“Hy het jou nederig gemaak, jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy nie geken het nie en jou voorouers ook nie geken het nie, sodat Hy jou kon laat verstaan dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens sal leef van elke uitspraak uit die mond van die HERE. ” (Deut. 8: 320);
“Julle mag nie die HERE julle God uitdaag soos julle by Massa gedoen het nie.” (Deut. 6: 1620);
“Vir die Here jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer.” (Deut. 6: 1320)
Hoe kan ons weerstand bied?
Indien ons volkome op die Heilige Gees vertrou, en die Woord van God in nederigheid en ontvanklikheid bestudeer, sal ons die krag ontvang om teen aardse versoekinge weerstand te bied. Want soos Johannes Calvyn dit so goed stel: ‘Ware onderskeiding tussen reg en verkeerd hang nie af van die skerpheid van ons intelligensie nie, maar van die wysheid van die Gees.’
Dan sal ons ook in die voetspore van Jesus Christus, vol van die krag van die Heilige Gees, weerstand kan bied. Net so het Jesus sy volgelinge voorberei teen swaarkry en versoekinge in Mark. 13: 1120, waar Hy belowe het dat as hulle onder die leiding van die Heilige Gees staan, sal Hy vir hulle woorde in hulle mond lê. Laat ons ook so onsself oorgee om deurdrenk van die Heilige Gees te wees, soos Paulus skryf in 1 Kor. 12: 1320, sodat ons Jesus Christus se voorbeeld om versoekings te weerstaan kan navolg.
Teksverse:
“Vol van die krag van die Gees, het Jesus na Galilea teruggegaan, en die nuus oor Hom versprei.” (Luk 4: 1420);
“Wanneer hulle julle gevange neem en julle oorlewer, moet julle nie bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.” (Mark. 13: 1120);
“En ons is tog almal deur die een Gees deurdrenk.” (1 Kor. 12: 1320);
“…wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie.” (1 Thes. 5: 18-1920)


