]
GEBEDSGIDS – MEI 2020
Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Jer 29:12
Hier volg die gebedsgids vir Mei 2020
[wpdm_package id=’2059′
Vrydag 1 Mei – Werkersdag
Bid vir arbeidspraktyke dat reg en geregtigheid sal seëvier; vir groter hardwerkendheid, arbeidsvrede en versoening by almal wat werk het. Bid vir die georganiseerde Arbeidsbediening van ons Kerk in ons sinodale gebied en gemeenskappe,
Saterdag 2 Mei – Covid-19
Dis ‘n ongelooflike tyd waarin ons ons bevind. Bid dat God, wat in beheer is, ons sal lei om in hierdie tyd van afsnyding dankbaar te wees en raak te sien wat Hy nog vir ons doen. Om stil te word en ons in Sy Woord ons lewenssin en -waardes te herontdek. God is groot en sy gedagtes is nie ons s’n nie. Bid vir hulle wat arm, honger en radeloos is,
Sondag 3 Mei – Sinodale Sending
Ons offers gaan vandag vir sendingwerk in Zambië, Malawi en Mosambiek wat in baie opsigte deur ons sinode ondersteun word. Dank die Here wat sy Kerk in stand hou en vra vir sy seën op alle gelowiges in hierdie lande. Mag hulle Hom dien met vreugde.
Maandag 4 Mei – Grootbrak Gemeente
Bid en dank die Here vir ons leraars, die kerkraad met sy kommissies, kantoorpersoneel, koster, orrelis en koor, tuinwerker en skoonmaker en tegniese operateurs. Mag hulle elkeen hul take met vreugde en blydskap uitvoer en die Here se seën ervaar.
Dinsdag 5 Mei – Jeugsake
Bid vir Grootbrak se kinders, die skoliere studente en veral vir jongmense wat werkloos is. Vra vir hul beskerming teen ledigheid, dwelmverslawing en misdaad. Bid vir projekte en inisiatiewe om hulle by te staan en in die vrees van die Here te lewe.
Woensdag 6 Mei – Christelike Media
Die Invloed van Christelike Media in Suid-Afrika is onder druk. Bid dat bestaande
radiostasies hulle lisensies sal mag hernu, dat hulle die nodige befondsing sal hê om aan te hou uitsaai om die evangelie van Jesus Christus in die krag van die Heilige Gees te proklameer.
Donderdag 7 Mei – Verhoudings
Egskeiding, konflik in gesinne en spanning by die werk, lei daartoe dat baie mense
alleen, verlore, ongeliefd en wanhopig voel. Bid vandag dat diegene wat worstel met ‘n diep verlange na liefde en versorging, vervulling sal vind in die liefde van Jesus en sy verlossing. Bid vir versoening in verhoudings lin elke huis. (Johannes 14:1).
Vrydag 8 Mei – Sirië en Irak
Amper nege jaar van burgeroorlog in Sirië en jare van konflik in Irak het daartoe gelei dat Christenskap besig is om te te kwyn. Bid vir ons mede-gelowiges wat getrou bly, vra vir vrede, standvastige geloof, krag en volharding in hulle stryd.
Saterdag 9 Mei – Gesinsgeweld
Dit is moeilik om saam met ‘n geweldadige (fisies en verbaal) persoon te leef. Vra die Here om hulle harte aan te raak met Sy liefdevolle goedheid en bid ook vir verlossing van vernietigende gedrag en woorde. Bid dat hulle die liefde van Jesus vir hule sal ervaar en hulle lewens aan Hom sal oorgee. (Spreuke 15:1).
Sondag 10 Mei – Verslawing
Daar is so baie persone in ons land wat aan een of ander vorm van verslawing ly: drank, dwelms dobbelary, pornografie asook sekere gewoontes. Hierdie mense het ons voorbidding en hulp nodig. Vandag se offers gaan vir Ramot, ‘n organisasie vir die rehabilitasie vir sulke mense voorsien. Bid en gee vrymoediglik vir hierdie saak.
Maandag 11 Mei – Plaaslike Owerhede
Die funksionering van munisipaliteite bly oral ‘n groot probleem. Bid dat amptenare
lojaal en eerlik in hulle werk sal wees, hulleself nie sal bevoordeel nie en hul pligte getrou sal uitvoer. Vra vir wysheid in die hantering van protesoptredes.
Dinsdag 12 Mei – Kerkraad
Dank die Here vir Kerkraadslede wat in ons gemeente dien. Bid vir vanaand se vergadering, dat dit in ‘n goeie gees en met wysheid sal plaasvind. Dat die fokus op die Koningsheerskappy van God sal wees en nie in eie belang nie.
Woensdag 13 Mei – Depressie
Bid vandag vir individue wat aan depressie, angs en ander sielkundige siektes ly. Vra dat hulle die stem van God in hulle lewens sal herken en dat hulle hul vertroue in Hom sal stel vir verlossing en genesing. Bid dat hulle hul skeppingsdoel en hoop in Jesus Christus sal vind. (Psalm 42:6).
Donderdag 14 Mei – Persoonlik
Word vandag stil voor God. Dank Hom vir sy liefde, geduld en genade aan ons bewys.Vra dat ons nie ons gebedslewe sal verwaarloos nie en dat ons sy beeld sal vertoon deur ons liefde, ons woorde, handelinge en gesindheid. Loof Hom in alles.
Vrydag 15 Mei – Vervolgde Christene
In Noord Korea, Afganistan en Somalië ervaar Christene, volgens die nuutste Geopende Deure-organisasie se wêreldse waarnemingslys, die ergste vervolging a.g.v. hul geloof. Bid asb.ernstig en aanhoudend vir die lydende Kerk. Kom ons maak dit ‘n gewoonte om Vrydae vir hierdie broers en susters aan die Here op te dra.
Saterdag 16 Mei – Ons kinders / Kleinkinders
Ons wil vandag spesiaal dink aan alle instansies wat na ons kinders omsien: skole, kleuterskole, dagsentrums, nasorgsentrums en alle ander plekke waar kinders versorg word. Rus asseblief elke versorger toe met baie liefde, geduld, wysheid en die nodige liggaamskragte om ons kosbare kinders, vir wie God baie lief is, op te voed en te lei om hulle volle potensiaal in Christus te bereik. Seën hulle en hulle dierbares baie ryklik.
Sondag 17 Mei – Senior Lidmate
Baie bejaardes kry swaar, Kom ons bid veral vir hulle wat nie vanmôre saam met ons, die Here kan loof en die gemeenskap van Heiliges kan ervaar nie. Vra vir genade, blymoedigheid, geduld en dankbaarheid. Dank die Here vir versorgingsoorde en gelowiges wat bejaardes bystaan.
Maandag 18 Mei – Keer Terug na God
Joël 2:12-Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep.
Kom ons bid dat die Here Suid-Afrika na Hom sal laat terugkeer.
Dinsdag 19 Mei – Verhoudings op plase
Ons bid vir God se beskerming op plase en vir regeringsoptrede om veiligheid op plase te verseker Bid vir goeie verhoudings tussen boere en hul arbeiders, dat arbeidspraktyke reg en billikheid tot gevolg sal hê en dat geskille sinvol opgelos sal word. Bid dat boere en werkers saam die Here sal dien en besef dat Hy regeer en hulle liefhet..
Woensdag 20 Mei – God se Skepping
Weeklaag by die Here oor ons ongeërgde houding teenoor die verval en verwaarlosing
van ons natuurlike omgewing. Bid vir nuwe liefde en omgee vir God se skepping en die
aanvaarding van ons verantwoordelikheid en sorg daarvoor. Bid vir alle Christene se
betrokkenheid by omgewingsorg en vra vir die moed en gewilligheid om ‘n eenvoudige
leefstyl te kies en te handhaaf.
Donderdag 21 Mei – Hemelvaart
“Ons sing nou bly ons vreugdelied en juig in onse Here
Dis Hy wat hemelvreugde bied ons sing sy Naam ter ere
Die Heer het waarlik opgevaar ons weet sy Woord bly ewig waar
Hy is ons Hoof en HERE” KOM ONS LOOF HOM !!! Lied 426
Vrydag 22 Mei – Arbeiders in die oesland
Ons bid vir sendelinge wêreldwyd, mag hul daagliks krag en wysheid ontvang om Jesus aan ‘n stukkende, gebroke wêreld te verkondig. Bid vir elke getuienis en boodskap, dat God harde harte sal verander. Bid vir werkers se geliefdes, goeie gesondheid en hul lewensonderhoud. Seën dié wat hulle uitstuur en finansiëel onderhou.
Saterdag 23 Mei – Onderwys en Opvoeding
“Here ons bid vir die opvoeders in Suid -Afrika. Dat hulle ons kinders met deernis, wysheid en liefde sal leer om saam met kennis ook verantwoordelikheid, dissipline, selfstandigheid en eerlikheid aan hulle oor te dra en en self ook sal tentoonstel. Dat Christelike en Bybelse beginsels as basis van die opvoeding sal wees.”
Sondag 24 Mei – Pinkstertyd
Bid dat elke Woordverkondiger in hierdie Pinkstertyd die leiding en inspraak van die Heilige Gees sal afbid en ervaar wanneer hulle besig is met voorbereiding. Seën asb elke byeenkoms wat plaasvind en vra dat die Heilige Gees in ons, sy lede,sal werk.
Maandag 25 Mei – Lyding
Bid vir siekes, eensames, uitgeworpenes, armes, almal wat swaarkry en wat hoop en moed verloor het. Bid vir hulle wat hul blydskap en verwondering verloor het. Vra dat ons die nood om ons sal raaksien en barmhartigheid en liefde sal betoon soos Jesus.
Dinsdag 26 Mei – Mense van ander gelowe
Kom ons bid vir die gewilligheid en toewyding van ons as Christene om vriende met aanhangers van ander gelowe te maak en om die Evangelie teenoor hulle uit te leef en getuies van ons Lewende Here te wees. Vra dat ons met liefde, geduld en nederigheid teenoor ander sal optree en altyd Jesus Christus se verteenwoordigers te wees.
Woensdag 27 Mei – Christelike Radio en Televisie
Dank die Here vir die TWRadio, Feba-Radio, SAT-7-TV en ander bedienings wat miljoene in die Midde–Ooste en Noord-Afrika bereik. Vra dat die Heilige Gees luisteraars al meer ontvanklik vir die Lewende Woord sal maak en dat hulle verlossing in Jesus Christus sal vind.
Donderdag 28 Mei – Makhathini en Msinga in KZN
Bid vir die geestelike groei en selfstandighei van hierdie twee VGK gemeentes wat deur ons sinode ondersteun word. Mag hulle standvastig wees teen dwaalleringe en –leraars, bid vir vrede in hierdie gebiede, waar misdaad al meer kop uitsteek.
Vrydag 29 Mei – Jemen en Eritrea
Bid dat Christene guns by die regerings sal vind vir hul voortbestaan in hierdie lande. Dra ook Christelike nie-regeringsorganisasies aan die Here op wat die mense van Jemen en Eritrea bedien. Bid vir beskerming, vertroosting en lewensonderhoud.
Saterdag 30 Mei – Gestuurde Gemeente
“Here gee ons ‘n Bybelse visie van kerk wees en ons roeping as getuies vir U. Vader gee dat ons ‘n biddende, gestuurde en stuurende gemeente sal wees in lewe en aksies. Gee dat elke lidmaat Jesus sal liefhê en sal uitreik na afgedwaaldes en mense in nood”.
Sondag 31 Mei – Pinksterfees / Nagmaal / Jeug
Kom ons bid vir ons skoliere en studente. Dat hulle in hierdie moderne tyd met al sy afleidings en versoekings, hul hoop en vertroue in Jesus Christus alleen sal stel. Dat hulle mekaar sal bemoedig en vermaan om getroue volgelinge van Jesus te wees.
Dank die Here vir Sy Gees wat Jesus aan die Kerk belowe het.
Op ‘n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor, op die
dag wanneer Ek
wil red, sal Ek jou help” Jes 49:8.


