“Waar 2 of meer is, daar is Ek”
Woensdag, 1 April – Lydensweek
Die groot Lydensweek nader sy klimaks en ons is dankbaar dat U die pad van lyding, pyn en vernedering, ja, selfs Godverlatenheid en uiteindelik die dood vir die wêreld en ook vir my gestap het.
Donderdag, 2 April – Voete was
“Vader, op hierdie Donderdag het U die dissipels se voete gewas en my gebed is dat U my ook nederig sal hou in diens van my medemens.”
Vrydag, 3 April – Volmaakte Voorbeeld
Here, ek kyk na die kruis en sien die volmaakte voorbeeld van liefde en vergifnis en ek bid dat ek ook bereid sal wees om my lewe opnuut aan U diens te wy.
Saterdag, 4 April – Stil Saterdag
Op hierdie stil Saterdag wag ons met opgewondenheid ,want ons weet, U gaan die dood oorwin!
Sondag, 5 April – Opstandingsfeesdag
Here, Ons harte juig op hierdie opstandingsfeesdag . Dankie vir die dag waarop U die dood oorwin het en uit die graf opgestaan het sodat ons sonder vrees die toekoms tegemoet kan gaan.
Maandag, 6 April – Aardse Huisgesin
Dankie here dat ons vandag weer kan besef dat u ons deel gemaak het van ‘n aardse huisgesin en ons gebed is dat dit ‘n voorspel sal wees tot ons ewige verblyf.
Dinsdag, 7 April – Seëninge
Ek kyk rondom my Here en ek besef dat ek soveel het om voor dankbaar te wees, meer as baie ander. Dankie dat U my so seën.
Woensdag, 8 April – Jeug
Here, met die skole wat vandag open, bid ons vir ons jeug se verstandelike groei, hulle liggaamlike ontwikkeling, maar ook vir hulle geestelike ontluiking tot vrugbare volwassenheid.
Donderdag, 9 April – Sinvolle lewe
Dankie Here dat U tot in my ouderdom daar is vir my. Dankie dat u my steeds dra en my gebed is dat ek steeds sinvol en vreugdevol sal lewe in U teenwoordigheid.
Vrydag, 10 April – Nuwe moontlikhede
Dankie Here vir n nuwe dag met nuwe uitdagings, maar ook met nuwe geleenthede en moontlikhede. Dankie dat ons kan behoort aan ‘n huisgesin, ‘n gemeenskap, ‘n gemeente maar veral aan U, ons hemelse Vader.
Saterdag, 11 April – Gholfdag
Waar dit vandag ons gholfdag is, dank ons U vir gesondheid en liggaamskragte en bid ons dat ons in oorwinning en nederlaag ‘n sportmens vir Christus sal wees.
Sondag, 12 April – Verpleegkundiges
Vandag dra ons die hele spektrum van verpleegkundiges aan U op en bid dat hulle met sagte harte en deernisvolle oë na elke pasiënt sal omsien.
Maandag, 13 April – Besig
Aan die begin van ‘n nuwe week is ons gebed dat ons nie so besig sal raak met groot dinge dat ons mag vergeet van klein geleenthede en pligte nie : simpatie, liefde, belangstelling en hulp.
Dinsdag, 14 April – Eensames
Vader, ons aanbid U vandag as die Vriend van die eensames, die Trooster van die treurendes en die Hoop van die sterwendes. In U is alles wat ons nodig het vir vandag en vir altyd.
Woensdag, 15 April – Goeie daad
Here, mag ons aan die einde van hierdie dag terugkyk en dankie sê die elke vriendelike gebaar wat ons aan ander kon betoon, elke goeie daad wat ons kon doen en elke versoeking wat ons kon weerstaan.
Donderdag, 16 April – Heilige Gees versterk my
Ek skaam my, Here, vir die hoenderhaan wat so gereeld in my ore kraai. Heilige Gees, Versterk my om in alle omstandighede ‘n getuie vir U te wees.
Vrydag, 17 April – God-by-ons
U is God-by-ons. Dankie dat U aan ons U Gees gegee het om by ons te wees. Ek is nooit alleen nie.
Saterdag, 18 April – God se Wil
U is nie van ons instemming afhanklik nie. U doen wat U weet goed en reg is vir U kinders. Ons loof U daarvoor. Al verstaan ons U so dikwels verkeerd. U Wil is altyd tot ons beswil.
Sondag, 19 April – Radio FEBA
FEBA radio verkondig die goeie boodskap aan die uithoeke van die wêreld. Here, seën hulle werk in U Naam. Asseblief, behoed en bewaar almal wat betrokke is.
Maandag, 20 April – Skynheiligheid
Hoe maklik verval ons in skynheiligheid Here! Bekeer my elke dag tot U wil. Maak my getrou om ;n getuie vir Jesus by ander te wees.
Dinsdag, 21 April – My gedagtes
Here, my verhouding met U maak my skatryk. Rig my gedagtes voortdurend op U sodat my gedagtes vernuwe mag bly.
Woensdag, 22 April – Blokbyeenkoms
Op Woensdae is dit blokbyeenkomsdag in ons gemeente. O Here, hoe bevoorreg is ons om saam te mag kom tot U eer.
Donderdag, 23 April – Singende gemeente
Ons dank U vir die klenk van die orrel, vir die lofsingende gemeente en vir begaafde gelowiges. Dankie dat U die blêrstem van elke verlore skaap hoor bo al die lofliedere van verlostes.
Vrydag, 24 April – Here se Liefde
Ek wil die Here prys! Want aan Sy Liefde is daar geen einde nie!
Saterdag, 25 April – Ons Land
Here, ons bid vir die Land waarin ons woon. Dit is ‘n pragtige land wat ons ryklik voorsien. Ons kon egter nog nooit sonder U genade nie. Dankie Liewe Heer.
Sondag, 26 April – Sondag
Here God, Dit is vandag Sondag. Hierdie dag het U geskep sodat ons kan rus in U en ons kan weer ons kragte by U voete kom opbou. Ontvang ons Lof en Eer aan U, Heer.
Maandag, 27 April – Vryheidsdag
Genadiglike Heer, ons lewe deur U gees. Laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal en help ons om alle kulture te verstaan en in vrede saam te leef.
Dinsdag, 28 April – Vriendskap
Vandag bring ons ‘n groot dankie vir familie, vriende en bure. Dankie vir hul vriendskap, omgee en aanvaarding. Seën hulle ook sodat hul nooit sal moeg word om uit te reik en om te gee nie.
Woensdag, 29 April – Ons gemeente
Ons bid vandag vir ons gemeente , ons dorp en ook ons land. Help ons, Here, as U koninkrykskinders, om diensbaar te wees en ons land en dorp op te pas.
Donderdag, 30 April – Wederkoms
Here Jesus, wat ‘n troos om te weet dat U weer sal kom om ons te kom haal, ons te kom heelmaak en ons aanvaar net soos ons is. Dit alles is net genade en Liefde. Ons prys U wonderlike Naam!!


