Ek weet al vir baie lank dat daar iets besonder gebeur in saam-wees. Dink maar aan koffie kuiers om die kombuistafel wanneer jy na n lag ruk weer by familie of vriende gaan kuier. Daar vorm hegte bande sonder dat dit geforseerd is, sonder dat mens te veel moet doen.

Saam-wees
Saam-wees herinner ons aan ons menslikheid, aan ons behoefte om te “connect” – nie net met mekaar nie, maar ook met God.
Ek het die week n sessie bygewoon waar ons gepraat het oor egtheid en dat ons vir mense woorde moet gee, belewenisse kan skep onder die leiding van die Heilige Gees, waar ons eg kan wees, nie hoef voor te gee nie. Die voorbeeld van n skare by ‘n musiekgroep vertoning, waar almal woord-vir-woord saam sing sonder dat daar lirieke op n bord verskyn, is gebruik. Mense het in daardie oomblik n egte belewenis van saam wees. Sommige geleerdes gebruik die woorde: “crowd psychology” en sê dat dit maak dat mense n belewenis saam met ander ervaar.

Hoe dit ookal sy, ek is oorweldig deur die egtheid van hierdie saam-wees. Dit is ongelooflik om te hoor hoe 650 dominees saam “My God is so groot, so sterk en so magtig…” saam sing en die bewegings doen.
Dit is merkwaardig om te beleef dat daar plek vir elkeen is en ons kan mekaar liefhê. So, het ek die liefde van God die week beleef…

Ek is dankbaar om deel van die Kerk te wees. Ek is trots op die NG Kerk. God gee nuwe hoop!
“U laat ons profeteer oor elke dorp, in elke hart en huis.
Wys ons wat kan gebeur, deur U Gees.
Gee nuwe drome Heer!”
Ds. Charné Viljoen
Nog meer: Stemme, stories en beelde vanaf SAAMtrek by Goudini (24-28 Aug)

