“Julle moet vol vreugde wees in die teenwoordigheid van die Here julle God,…”
(Deut. 12: 12)
Elkeen van ons vind vreugde deur ons aardse bestaan. Die oorsprong daarvan is nie altyd dieselfde nie. Een mens vind vreugde in die samesyn van baie mense, terwyl ‘n ander vreugde vind in die alleenwees in die natuur. Nuwe aardse dinge gee elkeen van ons kortstondige vreugde. Die anonieme aanhaling ‘Vreugde is vrede wat dans, vrede is vreugde wat rus.’ gee mens ‘n kykie in die ervaring wat mens beleef wanneer vreugde aan jou voordeur kom klop, wat ookal die oorsaak daarvan mag wees.
“’n Mens ervaar vreugde met die gepaste antwoord uit sy mond; ja, ‘n woord op sy tyd – hoe goed is dit nie! ” (Spr. 15: 23);
“Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk, want dit is sy beloning. Ja, wie kan hom daartoe bring om te sien wat ná hom sal gebeur?” (Pred. 3: 22)
Maar, wat is dit wat werklike permanente, innerlike vreugde verskaf, selfs te midde van swaarkry en seer? Wat is dit wat maak dat ons kan bly sing van vreugde in moeilike tye? Soveel van ons vind vreugde in die kortstondige, verslawende genietinge van hierdie lewe. Maar die verslawings effekte wil maar nie langdurig bly nie, en moet gedurig aangevul word om ons in ‘n valse beswyming van vreugde te bevind. Dat ons wel vreugde moet vind, word dikwels genoem in die Woord van God. Die lewe kan wel ‘n lied wees wanneer ons dit in die teenwoordigheid van God vind. In die Woord word ons telkens daaraan herinner dat ons vreugde in die teenwoordigheid van God, volkome is.
“Julle moet vol vreugde wees in die teenwoordigheid van die Here julle God,…” (Deut. 12: 12);
“Jy moet vol vreugde wees voor die Here jou God oor alles waaraan jy jou hand waag.” (Deut. 12: 18);
“Indrukwekkend is die werke van die HERE, ‘n bron van nadenke vir almal wat vreugde daarin vind.” (Ps. 111: 2);
“In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie.” (Ps. 119: 16);
“Die lig van regverdiges straal vreugde uit,…” (Spr. 13: 9);
“U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense se koring en nuwe wyn volop is. In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, Here, laat my veilig woon.” (Ps. 4: 8-9)
Die aanhaling deur Jacob Boehme stel dit so mooi: ‘Ons is almal strykinstrumente in die simfonie van God se vreugde. Sy Gees raak aan die snare van ons hart en dit begin sing tot Sy eer.’ Dit is wanneer ons as orkes saam en in harmonie vreugde vind in die Here, dat ons tot God se eer kan sing met lofsang en aanbidding. Aan die voete van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, dit is waar ons vreugde en vrede kan vind.
“Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde.” (Ps. 31: 8);
“dié wat deur die HERE vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees.” (Jes. 35: 10);
“Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.”” (Luk. 2: 10);
“Maar vir die Seun sê Hy: “U troon, o God, is vir ewig en ewig, en die septer van geregtigheid is die septer van u koninkryk! U het geregtigheid lief, en U haat wetteloosheid; daarom, o God, het u God U gesalf met olie van vreugde, meer as u vriende.”” (Heb. 1: 8-9)
Ons moet bly vashou aan die vaste hoop, wat alleenlik by God te vinde is, selfs te midde van swaarkry en beproewing. Want wat hier op aarde met ons gebeur, is slegs tydelik. Die erfenis wat ons sal ontvang, wat onverganklik is, is waarop ons oë gerig moet wees. Laat ons dan uitgaan en doeners wees van die evangelie, soos Jesus Christus aan ons kom demonstreer het. Laat ons die Vader aanhou loof en prys in danksegging, met alles wat ons het, onder leiding van die Heilige Gees.
“Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.” (Jak. 1: 2);
“Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.” (Jak 1: 25);
“Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – ja, vir julle wat, deur geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word. Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.” (1 Pet. 1: 3-6)


