Stof tot nadenke: Geloof, Genade en Gewete

Hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely”.
1 Tim. 1: 19

Waar kom ons vermoë vandaan om ‘n goeie gewete te hê? Hoe behou ons ‘n goeie gewete? Paulus verseker ons in 1 Tim. 1: 19, dat ons geloof en ons gewete gekoppel is. Dis wanneer ons geloof tot niet gaan, wat ons gewete ook by die deur uitvlieg. Dan onderdruk ons ons gewete, en redeneer dat die dinge wat ons doen goed en reg is. Dis dan wat dit waar word van mense dat hul gewete toegeskroei is (“Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. ” (1 Tim. 4: 2)). Ons moet ons nie besig hou met verdigsels en eindelose geslagregisters nie, aangesien die dinge aanleiding gee tot twis en verwydering (“Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee. Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom.” (1 Tim. 1: 4-5)). Mense sonder gewete het duidelik teen Christus besluit (“Wie die goeie voor oë het, soek aanvaarding, maar wie kwaad nastreef – dit haal hom in.” (Spr. 11: 27); “…en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. ” (2 Tes. 2:10)). Daar is dus ‘n duidelike konneksie tussen geloof en ‘n mens se gewete.

Jesus Christus wys die fariseërs wat met verskuilde agendas kom om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry om Hom aan te kla, op hulle skuldige gewetes. Jesus het rustig Sy antwoord geformuleer en hulle daarop gewys dat hulle nie skoon gewetes het nie; Hy het geweet dat hulle met agteraf idees gekom het om Hom te versoek (“Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.”” (Joh. 8: 6-7)). Ons moet dus waak daarteen dat ons nie ‘n geveinsde vroomheid in ons lewens laat posvat nie, wat ons ‘n valse sekuriteit in geloof gee nie. Want as ons saam met Christus in ons sondige natuur gesterf het, is ons nie meer deel van hierdie wêreld nie (“As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie?” Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en ligaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard. ”(Kol. 2: 20-23)).

Ons gewete is dus nou gekoppel aan ons geloof, en daamee saam moet ons soos Paulus besef dat dit alles deur die genade van God die Vader, die verlossing van die Seun, Jesus Christus en onder leiding van die Trooster, die Heilige Gees vir ons moontlik is om met ‘n skoon gewete te leef. Dit is nie uit eie krag nie, maar omdat God ons so lief gehad het, en toe ons die keuse gemaak het om Hom te volg, het Hy belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie. (“teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in diens te stel, al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.” (1 Tim. 1: 12-14); (“Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer” (Heb. 9: 14); (“…laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immer gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.” (Heb. 10:22)). Dit is dus vir elke mens moontlik om ook soos Paulus, wat ook ‘n feilbare mens was, net soos elkeen van ons, te kan getuig dat hy ‘n skoon gewete het (“Paulus het die lede van die Joodse Raad vierkantig in die oë gekyk en gesê: “Broers, ek het heeltemal ‘n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het.”” (Hand. 23: 1)). Dit is ook deur die dankbaarheid vir die genade wat ons ontvang het, dat ons alles in ons vermoë moet doen om ‘n skoon gewete te hê (“Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd ‘n skoon gewete voor God en die mense te hê. ” (Hand. 24: 16)).

Hoe behou ons ‘n skoon gewete? Ook hierin is daar vir ons riglyne vasgelê in die Bybel, en kry ons leiding (“In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volkgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees” (Rom. 9: 1-3)). Ons moet besef dat ons dienaars van God is, en dat dit nie belangrik is wat mense van ons sê of oordele oor ons uitspreek nie. Ons kan onsself nie eers beoordeel nie, want dit kom God toe; in die woorde van Paulus. (“So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheiminisse van God toevertrou is. Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom. ” (1 Kor. 4: 1-6)).

Ons moet ook besef dat ons soms verantwoordlik is vir ‘n ander se gewete, veral die wat reeds ‘n swak gewete het. Paulus waarsku ons dat ons nie enigiemand moet laat struikel nie, en dat ons ons van sekere dinge moet onthou, sodat ons nie die val van iemand anders sal veroorsaak nie. (“As jy wat hierdie kennis het, in ‘n afgodstempel gaan eet en iemand met ‘n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit ‘n broer vir wie Christus gesterf het. Deur so teen die broers te sondig en ‘n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie” (1 Kor. 8: 10-13)). Deur so te leef voel ons dat ons van ons vryheid beroof word (“Ek bedoel nou nie jou gewete nie, maar dié van die ander man. “Waarom,” sou jy vra, “moet my vryheid beperk word deur ‘n ander man se gewete? As ek iets met danksegging geniet, waarom word daar van my kwaadgepraat oor iets waaroor ek God dank?” Of julle eet en of drink of wat julle ookal doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan die Jode of aan die Grieke of aan die gemeente van God nie. Maak soos ek: probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van ander, sodat hulle gered kan word.” (1 Kor. 10: 29-33)).

Laat ons ook soos Paulus kan sê dat ons trots is op ons gewete, in die wete dat dit in diep afhanklikheid is van God, die Vader, Jesus Christus se Verlossing en die leiding en bystand van die Heilige Gees (“Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Daarin is ons nie deur die wysheid van mense gelei nie, maar deur die genade van God” (2 kor. 1:12)). Laat ons lewe nie net lippetaal wees nie, maar laat ons die liefde van God leef (“Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en dat ons gewete voor Hom tot rus bring. As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan;” (1 Joh. 3: 18-21)).