Oekraïne: Nuusbrief 23 November 2021

Hiermee Michele se maandelikse nuusbrief met gebedsversoeke vir julle inligting en voorbidding asb. Die stryd rakende die gebou word net erger, maar ons glo dat die Here vir hulle veg en wat daar gebeur is onwettig. Die stryd gaan al vir langer as 15 jaar aan – maar dit klink vir my op die oomblik dat hulle Ockert se dood nou sien om hulle dreigemente werklik uit te voer. Ons kan maar net saam met Michele – hulle bid.

Liewe familie en vriende

Ek wil net begin om dankie te se vir al die boodskappe, woorde van bemoediging, ondersteuning en gebede in hierdie tyd. Elke boodskap of liedjie kom net op die regte tyd en die Here praat met my deur dit en dit dra my. Dit beteken vir my so baie en waardeer elke brief. Ek weet nie hoe mens deur so iets gaan sonder die ondersteuning van vriende en familie nie. 

Die Here is goed. Elke dag is Hy getrou en dra Hy ons. Elke oggend is Sy genade nuut en Sy lig skyn in die donkerste plekke en verdryf die duisternis. Hy is die die Koning van die konings en Hy regeer. 

Party dae oorweldig die verlange na Ockert my so, dat dit in die nag voel asof ek wegsink in dryfsand en asof alles net te veel word. Die realiteit dat Ockert nie meer hier is nie, oorweldig my soms so en die seer is net te veel om te dra. Maar die volgende oggend gee die Here my vreugde en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek sien die Here se liefde in elke klein blommetjie en in elke sonsondergang. 

Wanneer die wolke mooi is, stroom die trane, want my Maker is so naby. Elke goeie gawe is van Hom. Hy lê dit op Daniel en Nicolette se harte om vir my sonneblomme, te laat aflewer.  Net Vader weet hoe ek en Ockert hierdie laaste somer in Oekraine, deur goudgeel sonneblom lande gery het.  Hoe ek vir Ockert gesê het dat sonneblomme, nou weer, my gunsteling blom is, omdat hulle altyd vrolik lyk en na die lig opkyk. Vader ken ons harte. 

Of die sagste pienk en wit blomme wat Mari-Alena gister vir my na skool bring. Lelies, rose in die sagste skakerings. 

Al die mooi om ons, wys Vader Sy volmaakte liefde. Hy dra ons wanneer ons op ons swakste is. 

Hierdie afgelope maand was ‘n omtrent soos oorlog. ‘n Fisiese en geestelike stryd. Die seer hier binne is te veel, die verlange word net te veel en juis in hierdie tyd word my geloof tot die einde getoets.  Ek weet dat die Here uitkoms gaan gee en dat Hy vir ons veg.

Die stryd vir ons gebou neem toe. 

Valia, die direkteur van ons gebou, het ‘n brief en oproepe van ‘n sekere “Evgeni Sergeivich” ontvang wat haar en haar gesin met die dood dreig. 

Evgeni is die middelman waardeur Kolya en Aliona werk. Kolya het steeds die aandele vir Univermaak, ons gebou, waarvoor Ockert 20 jaar gelede betaal het. Ons hou nie aan Univermaak vas nie. As die Here sê dat ons die gebou op die altaar moet sit, dan sal ons dit doen en laat gaan. Maar in my binneste voel ek dat die vyand net wil kom om te steel en vernietig dit wat die Here vir ons gegee het. Ons moet veg. Die Here herinner ons aan Josafat: Moenie bang of moedeloos wees as gevolg van hierdie groot leer nie. Want die stryd is nie joune nie, maar God s’n.” Maar partykeer wens mens net dat die Here nou moet optree. 

Univermaak is ons Kerkgebou, die “Light coffee shop” en die plek van waar ons al die bedieninge bedryf. Op die tweede vloer is kantore wat beset word deur Grisha en Lilla. Kantore wat Ockert amper verniet weggee het aan ons “goeie vriende.” Hulle het later aandele opgekoop by kleiner aandeelhouers. 

Grisha en Kolya se aandele saam, is meer as Ockert se 42%, maar met Kolya se 30% wat eintlik aan Ockert behoort, het Ockert meer gehad. Net nadat die Here vir Ockert kom haal het, het Aliona en Kolya besluit om die gebou oor te neem, met die hulp van Grisha. Grisha wou eers nie saam met hulle werk nie, omdat hy geweet het dat Kolya eintlik Ockert se aandele het en wat hy probeer doen oneerlik  is. 

Grisha en sy gesin is met die dood gedreig. Evgeni het vir hulle gese dat hy hulle en hulle kinders gaan uithaal soos hy glo vir Ockert “uitgehaal” het, (wat ‘n leuen is).

Grisha het ‘n dokument onderteken waarin Kolya, Aliona en Grisha sê dat hulle Univermaak oorneem en dadelik die sleutel wil hê en die slotte gaan verander. 

Oekraine is maar baie soos die Wilde Weste..

Valia het vir my uit haar kantoor gebel, terwyl die mense in die gang gestaan het, gereed om die sleutel van Univermaak te vat en die slotte te verander.

Hulle het vir Valia gese, dat hulle alles van haar en haar kinders weet en dat hulle haar ook uit die weg gaan ruim as sy nie die sleutel oorgee nie.

Ek het op daardie oomblik, hier in Suid-Afrika, op my knieë gaan staan en die Here aangeroep. Ek kan nie hierdie geveg ook veg nie! Ek en Valia is twee vroue teen hierdie boosheid.

Ek het vir Valia gevra om net daar te sit en wag en op die Here te vertrou en om nie die sleutels vir hulle te gee nie, al moet sy dit by die venster uitgooi!

Ons het saam gebid. Die Here gee vir my 2 Samuel 22. Die Here is ons toevlug en Hy veg vir ons!

Net daar voel ek dat die Here vir my  sê om op te staan en drie oproepe te maak en direk met hierdie mense te praat.

Eerstens het ek met Grisha gewaarsku hom om nie saam met Kolya en Aliona teen ons te draai nie. Ek het vir hom gese dat die gebou aan die Here behoort en dat hierdie mense, met wie hy nou saamwerk, ons mense met die dood dreig. Hy het gese dat hy dit weet, maar hulle het ook vir hom gesê, dat hulle alles van sy gesin weet en hy bang is vir sy kinders se lewens. Hy het geweet dat hulle verkeerd doen, maar hy vrees vir sy gesin. Ek het vir hom gese dat hierdie mensies klein, wat teen ‘n groot Almagtige God opstaan en dat God hom en sy gesin sal beskerm as hy die regte besluit neem en nie saam met hierdie mense werk nie. Maar Grisha is te bang en het oorgegee.

Daarna het ek vir Kolya en Aliona gebel. Ek kon werklik voel hoe die Here woorde in my mond sit. Ek het vir hulle gesê, dat ek hulle vergewe vir die jare wat verby is, vir soveel probleme wat hulle vir Ockert probeer maak het, maar dat ek vra dat hulle nou die regte ding sal doen, om ons aandele terug te gee. Dit behoort aan die Here, dit is Sy kerk, dit is Sy gebou. Ons het dit lankal aan die Here toegewy. Maar dit was soos as om met die ou vyand self te praat. Hulle harte is so vol haat en bitterheid. Hulle dreig my ook,  dat ek die gebou moet laat gaan, anders gaan  hulle Ockert se naam gaan swart smeer in die hele Reni en Oekraine. Ek het haar gewaarsku dat sy teen die Here draai en dat Hy vir ons veg, vir die weduwee en vir Sy gemeente. Sy het die telefoon doodgedruk.

Die derde oproep was vir Andre. Hy is ‘n Christen broer en besigheidsman wat die Here al soveel kere in ons lewens gebruik het. Ek weet nie watter kontakte hy het nie, maar die Here gebruik hom om keer op keer vir ons te veg. Andre het dadelik ‘n advokaat in Reni gebel en gese dat sy ons moet help. Direk daarna het die burgemeester van Reni ook die advokaat gebel om ons te help en sy het met Valia kontak moet maak. Intussen het die mense wat gestuur is om die sleutels te kom vat in die Coffee shop gaan wag, met ‘n gereedskapskissie. Almal in die winkel kon hoor hoe Aliona oor die telefoon skree dat hulle die polisie moet bel, as Valia nie die sleutels wil oorgee nie. Die polisie het gekom en Valia en ons nuwe advokaat het ingekom en vir die mense wat die sleutels wou vat gese dat hulle medepligtig is, om die gebou onwettig oor te neem. Die Advolaat het vir almal gese dat geen veranderings aangebring mag word sonder ‘n wettige vergadering nie en ook nie voor ses maande na Ockert se afsterwe word enige veranderings aanvaar nie.

Twee weke het verby gegaan, maar vanmore begin Aliona weer vir my briewe aanstuur. Vanmiddag was die, wat die slotte wil omruil, weer daar. Die keer was Grisha by en aan hulle kant. Valia het haar man gestaan en weer die wette herhaal en almal huistoe gestuur. Bid asseblief. More gaan ons advokaat in my naam ‘n saak by die polisie maak teen Kolya, Aliona en Grisha.

Bid asseblief vir Kolya en Aliona vir oorgawe, bekering en dat hulle oë sal oopgaan. Bid asseblief vir Valia en haar gesin se beskerming en teen vrees vir hierdie mense wat hulle met die dood dreig. Bid dat die Here vir ons sal veg en dat ons vyande teen mekaar sal draai, wanneer ons Hom loof en prys!

Bid asseblief vir Benjamin Cor wat reeds alleen in Reni is. Hy het solank vooruit gegaan om met die jeug te help. Bid vir sy beskerming in hierdie tyd. Ek glo met my hele hart dat die Here nie sal toelaat dat ons die gebou sal verloor nie. Al lyk dit nou so moeilik, weet ek dat die Here vir ons oorwinning gaan gee. Ek weet dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, daarom vra ek julle om saam met ons te staan in geloof en te bid vir uitkoms.

Ons is so dankbaar dat Raduga oop is, al is al die ander kleuterskole in Reni toe. Daar is genoeg hout om ons deur ‘n groot deel van die winter te dra. Ons het heelwat nuwe kindertjies bygekry!

Bid ook asseblief saam met ons, vir ‘n borg vir elke kindjie. Die bediening onder die weduwees van Reni gaan voort met tuta Moesia en Ina wat hulle weekliks besoek. Hulle besoek juis die weduwees wat alleen is en niemand het, om vir hulle te sorg nie. Een vir een kom hulle tot bekering en word deel van ons groot familie. 

Vandag het ons, ons visum aansoeke gaan indien. Die Here het vandag weer ‘n wonderwerk gedoen en soveel guns gegee. Die uitnodiging vir die tipe visum vir Ivan, moet in Oekraine gedoen word. Dit beteken dat ek eintlik alleen Oekraine toe moes vlieg en daar vir Ivan ‘n uitnodiging moes maak en weer terugvlieg om die aansoek in te dien. Maar die Here is so goed en die konsulaat het gese dat ek steeds Ockert se uitnodiging kan gebruik al is hy nie meer met ons nie! Ek en Ivan vlieg D.V 15 Desember na Oekraine en Cilliers en Mari-Alena die 14 de Desember. Op die oomblik bly ons by Jan en Petro, wat jare terug vir my en Ockert aanmekaar voorgestel het. Bid ook dat die Here hulle sal seen vir al die goedheid en gasvryheid wat hulle in hierdie tyd met ons deel.

Bid asseblief vir al ons kinders, wat voor groot besluite staan oor waar hulle gaan werk kry en woon en waar die Here vir hulle deure oopmaak. Bid vir die regte plekke en geleenthede van die Here.

Bid asseblief vir my en die leiers in Reni, vir eenheid, wysheid, vertroosting. Ons bid vir die Here se wil in 2022. Ons beplan reeds Night to shine, vir die gestremdes in Reni, Love Reni projek met die skole en Masada jeugkamp. 

Luda en haar drieling is by die huis ontvang en selfs die Reni televisie stasie was daar. Agneta het vir Luda ‘n babawaentjie vir ‘n drieling geskenk. Ons Rita van Gateway to life sentrum kon ook getuig hoe sy vir Luda oortuig het om die babatjies te behou. Almal het teen Luda gedraai toe sy besluit het om nie ‘n aborsie te ondergaan nie. Nou is almal so bly oor die geboorte van die pragtige drieling. Die Here is goed!

Dankie dat julle saam met ons staan in hierdie tyd in geloof en saam die Here loof en prys vir Sy oorwinning. Soos Josafat, gaan ons uit voor die leërmag met lofprysing en weet dat die Here vir ons veg. Hy is goed en getrou! 

Onthou asseblief om nie meer Ockert se Nedbank rekening te gebruik vir enige inbetalings nie. Die rekening word gesluit. 

Vir persoonlike bydraes gebruik asseblief:

Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010

Bydreas vir die bediening of Raduga is steeds die Standard bank, nuwedag rekening.

Baie liefde en seën 

Michele Potgieter

Reni, Ukraine