Gebedsgids – Augustus 2024 NG Kerk Groot-Brakrivier

GEBEDSGIDSAUGUSTUS 2024

Donderdag, 1 Augustus – Vrouemaand

Hierdie maand is die fokus op die welstand van vroue in ons samelewing. Ons bid dat vroue nie net in hierdie maand , maar deur die jaar met respek en liefde behandel sal word.

Vrydag, 2 Augustus – Radio Feba

Radio Feba is ongeveer 75 jaar oud en werk in verskeie oorsese lande. Hulle bereik ongeveer 10 miljoen mense wêreldwyd. Bid dat mense deur gebed hierdie mense dra, maar ook geldelik bydraes lewer om hul werk verder te laat groei.

Saterdag, 3 Augustus – Mediese Personeel

Hulle versorg gemeentes se lidmate en hulle families tydens ernstige krisisse – medies en emosioneel – in die hospitale en in spreekkamers. Bid ook vir die hospitaalleraars asook ons gemeente se leraars om met groot liefde hierdie belangrike bediening te behartig.

Sondag, 4 Augustus – Bejaarde Sorg

Ons deuroffers gaan vir die Plaaslike Bejaardesorg en daarom dink ons aan al die bejaardes wat afhanklik is van versorging en ons bid dat die versorgers met liefde, passie en deernis hulle taak sal verrig.

Maandag, 5 Augustus – Beskerming

In Heb. 13:5 sê die Here dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Bid dat ons na Hom toe sal gaan vir skuiling en beskerming en dat ons nie bedreig sal voel nie.

Dinsdag, 6 Augustus – Regering van Nasionale Eenheid (RNE)

Ons bid vir ons land en die leiers wat deel is van die RNE om gefokus te bly op die doelwitte wat gestel is om die lewe en omstandighede van die SA bevolking te verbeter.

Woensdag, 7 Augustus – Dankbaarheid

Kom ons staan vandag stil en maak ‘n lysie van dankbaarheid. Daar is altyd iemand met wie dit slegter gaan. Bid ook vir daardie persone.

Donderdag, 8 Augustus – God se Liefde

God het die mens so Lief gehad dat Hy sy Enigste Seun vir ons sondes gegee het. Ons dink vandag daaraan dat Hy ook die Heilige Gees vir ons gegee het om elke dag by ons te wees.

Vrydag, 9 Augustus – Nasionale Vrouedag

Kom ons bid vir gesonde verhoudinge waar vroue met die respek en deernis deur hulle gesinne, geliefdes asook in die werkplek behandel sal word.

Saterdag, 10 Augustus – Gesinsverhoudinge

Die gesin is die kern van die samelewing. Ons bid vir gesonde gesinsverhoudinge en ook ingryping waar verhoudinge skeef geloop het.

Sondag, 11 Augustus – Nuwe Geloofsgemeenskap ontwikkeling

Sending en evangelisasie is die heilshandeling van die Drie-enige God waardeur Hy uit die ganse menslike-geslag vir Hom ‘n gemeente deur sy Woord en sy Gees vergader. Die kerk is daarom in sy wese missionêr, en is sending en evangelisasie wesentlik deel van die dienswerk en getuienis van die kerk. Ons Sinodale Offer gaan vandag vir Nuwegeloofsgemeenskap ontwikkeling (NGGO).

Maandag, 12 Augustus – Dank vir Kos

Dank God vir dit wat jy het om te eet. Vra die Here om jou bewus te maak van diegene wat dit vir jou moontlik gemaak het om die kos op die tafel te kan hȇ (van die boer tot die sjef).

Dinsdag, 13 Augustus – Soeke na God

Dank die Here vir die feit dat ons nie deur aardse behoeftes/begeertes vrede vind nie. Vra die Here om jou bewus te maak van jou ware soeke na God.

Woensdag, 14 Augustus – Verlossing van Pyn en Hartseer

Lȇ jou seer voor God se voete neer. Dank God vir die feit dat Hy saam met jou treur oor die seer wat jy beleef/al beleef het.

Donderdag, 15 Augustus – Bewuswording van ander se se Omstandighede

Vra die Here om jou bewus te maak van omstandighede van ander om sodoende ‘n helpende hand uit te reik waar nodig en vra dat God jou sal lei na daardie persone in nood.

Vrydag, 16 Augustus – Polisiemag

Jesus, ons wil vandag kom intree vir elke polisiebeampte en bid dat U hulle sal beskerm waar hulle elke dag in gevaar hul werk onverskrokke moet verrig en ons landsburgers beskerm.

Saterdag, 17 Augustus – Prostitusie

Bid asseblief sonder ophou dat die gene wat in hierdie web vasgevang is, bevry sal word en bid dat huisgesinne nie deur hierdie optredes onherstelbaar vernietig sal word nie.

Sondag, 18 Augustus – Dwelm- en Alkoholverslawing

Ons bid vir diegene wat vasgevang is in die greep van dwelm – en alkoholverslawing. Dit is die siekte van ons tyd en ons vra dat God diegene sal bevry en hoop op ‘n beter lewe sal gee.

Maandag, 19 Augustus – Onsekerheid

Wag jy vir ‘n antwoord van God en is onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet. 5:7.

Dinsdag, 20 Augustus – Standvastigheid

Bid vandag dat ons God se standvastigheid in ‘n wankelrige wêreld sal raaksien en Hom sal dank en eer daarvoor.

Woensdag, 21 Augustus – Eensames

Kom ons dink vandag aan alle mense wat alleen is en iemand aan die dood afgestaan het. Ons bid dat hulle God se teenwoordigheid en liefde sal aanvoel deur die optrede van ons ander lidmate.

Donderdag, 22 Augustus – Gesondheid

God is ons Geneser. Sy helende Hand salf ons wonde, dra ons laste en droog ons trane af. Bid vir goeie gesondheid uit God se wonderwerkende Hand en glo en dank Hom vir Sy genesing onbeperk.

Vrydag, 23 Augustus – Geloof

Bid sonder ophou vir onwankelbare geloof in Jesus en dat die ongelowiges tot Jesus gelei sal word en sal glo dat Hy ons enigste Redder is.

Saterdag, 24 Augustus – Roeping

Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping van Jesus ontvang, sal uitleef en jou drome sal los vir Jesus se groot droom en roeping vir jou lewe.

Sondag, 25 Augustus – Kindersorg

Ons spesiale offer gaan vandag aan Kindersorg. Ons dink veral aan al die kinders wat onder moeilike omstandighede groot word en bid dat daar met sorg na hulle omgesien sal word.

Maandag, 26 Augustus – Politieke partye

“Here, ons wil die regering van die dag en al die politieke leiers wat ons verteenwoordig aan U opdra sodat hulle kan insien dat hulle gekies is om ‘n verskil in die mense se lewens te maak en nie op hul eie lewens gefokus mag wees nie.

Dinsdag, 27 Augustus – Plaaslike Sending

Kom ons vou ons hande saam en dra al ons sendelinge aan die Here op. Ons vra dat Jesus hulle sal lei maar ook versorgers sal stuur sodat hulle nie moed verloor nie, maar die roeping moedig sal voortleef en die Woord van God versprei aan die ongelowiges.

Woensdag, 28 Augustus – Prys God

Sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seӫninge en dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.

Donderdag, 29 Augustus – Skoliere

Kom ons raak stil en tree in vir al ons skoliere dat hulle hul kant sal bring en sal besef dat hulle nie leer vir hulself nie, maar om God se Naam te verheerlik en dat hulle ook God dank vir hul breinkrag waarmee Hy hulle geseën het.

Vrydag, 30 Augustus – Gevangenes

Mag ons vandag bid vir alle gevangenes dat hulle deur die sendingwerk van ons gemeentelede ook die Gees van God sal aanvaar en God sal leer ken en sal aanvaar as Hul Heer en Meester.

Saterdag, 31 Augustus – Leraars

Kom ons begin vandag deur daaraan te dink om elke dag ons Leraars aan die Here op te dra sodat Hy Sy boodskap wat Hy wil oordra aan die gemeente aan die Leraars sal openbaar en maak hulle getrou om die boodskap uit te dra soos God dit wil.