Deur: Dr. Frans Hancke
Op pad terug van Bokspits na Tsabong het ons by ʼn klein village, Kolongkwaneng, gestop. Oupa Frank Otlhadisang, ʼn lidmaat van Tsabong-gemeente, woon hier. Hy is vanjaar 100 jaar oud, blind en byna heeltemal doof weens ouderdom. Hy wou hê TC, sy Moruti, moes hom met Nagmaal bedien. ʼn Familielid het vertaal wat TC gesê het – sy het letterlik in die ou dowe ore geskreeu. Hoeveel hy gehoor het weet ons natuurlik nie, maar dat hy geweet het ons is daar, is verseker. Ek het ook geweet ons was op ʼn besondere manier in die Here se teenwoordigheid. Toe die familielid hom help en die broodjie in sy mond sit, het emosie my byna oorweldig. Geen ingewikkelde Teologie, geen verdelende dogma, geen geredekawel – net die byna rou eenvoud van ‘dit het Hy vir ons gedoen’.

