Sendingnuus: Gerrie en Arlene Coetzee – November 2026

Gerrie en Arlene - Bersig George

Gerrie en Arleme Coetzee is Uitgestuurde Sendelinge van NG Gemeente George-Bergsig. Hul ondersteuning vind plaas op ‘n geloofsbasis, deur gemeentes en individue.

Markus 16:15

“En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

November 2026

Liewe Vriende, dit is opnuut ‘n voorreg om julle te groet in die Naam bo alle name, die naam van onse Here Jesus Christus!

Ons lees as volg in Efesiërs 1:18 (NLV): “Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ‘n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ‘n erfdeel verkry het.”

ETHNOS (EMI)

Ons laaste EMT (Opleidingskursus) vir 2026 het sopas tot ‘n einde gekom. Die Here het weereens wonderlik gewerk in die harte en lewens van die 8 studente en ons kon oor die laaste 10 weke duidelik sien hoe hulle getransformeer word! Dit was ‘n pragtige groep waarvan 2 uit Zambië, 1 uit Malawie, 1 Oostenryker en 4 Suid Afrikaners was.

EMI (Ethnos Movement International), waarby ons betrokke is sedert ons terugkeer na George in 2021, is tans besig om deur ‘n proses van verandering te gaan en sekere bedieninge bly in George terwyl ander na die Noordkaap verskuif. Alle detail is nog nie uitgeklaar nie en die nuwe jaar sal meer duidelikheid bring.

Arlene is steeds besig met die bediening by The Haven. Sy wil die volgende getuienis deel: Arlene het baie tyd met ‘n sekere ou dame deurgebring wat aanvanklik baie ongeduldig en moeilik met almal om haar was. Mettertyd het sy versag en vriendeliker geword. ‘n Paar maande voor haar dood het sy getuig dat sy die teenwoordigheid van God ervaar en ook dat God ‘n direkte gebed van haar verhoor het wat haar laat verklaar het dat sy toe besef het dat God leef! By haar begrafnisdiens het haar seun, asook diegene wat haar versorg het, gesê dat sy baie verander het in die tyd voor haar dood waarna die matrone na vore gegaan het en verklaar het dat die dame se verandering die uitvloeisel was van die feit dat sy Jesus as haar Verlosser en Here aanvaar het deur die hoor van die Evangelie wat Arlene aan haar gebring het! Alle eer aan die Here!! Dit bly steeds Arlene se passie en voorreg om daar te dien en God se liefde met die verswakte oues te deel.

Nuus van Geopende Deure (Open Doors)

Gerrie het die geleentheid gehad om die werk van Geopende Deure en die realiteit van die omvang van die vervolging van gelowiges op ‘n lokale radiostasie, Eden FM, bekend te stel gedurende ‘n vroegoggend uitsending. Die voorneme is dat dit ‘n kwartaalikse instelling sal word!

Die Arise Africa petisie van Geopende Deure, wat as oogmerk het om ‘n miljoen stemme teen die vervolging van gelowiges in Sub-Sahara Afrika te kry, het reeds die miljoen-kerf verby gesteek en is reeds aan die Afrika Unie voorgelê en ‘n voorlegging aan die VN sal binnekort plaasvind.

Op ‘n meer persoonlike vlak kan ons net getuig van God se voorsiening en liefde in alle aspekte van ons lewens. Beide van ons se gesondheid is nog redelik goed en ons prys die Here daarvoor. Ons was in Oktober bederf deur ‘n kort besoekie van ons kinders (en kleinkinders) wat in Engeland woon!

Gebedspunte:

  • Vir die EMT studente se pad vorentoe soos hulle inskakel by hulle bepaalde rigtings en bedieninge wat die Here vir hulle aandui.
  • Bid asb steeds vir Christen gelowiges wêreldwyd wat onder toenemde vervolging gebuk gaan.
  • Vir ons vir die vermoë om God se stem te hoor mbt enige besluite wat ons moet neem vir die toekoms.

Ons wil ook nou opnuut vir elkeen wat ons vir nog ‘n jaar ondersteun het met gebed en ook vir diegene wat ons finansieel ondersteun bedank – wees verseker dat ons julle ondersteuning opreg waardeer! Ons loof die Here vir julle getrouheid!!

Verder wil ons ook vroegtydig vir almal wat ‘n welverdiende vakansie gaan hou, ‘n veilige reis toebid, en mag julle almal ‘n Geseënde Kersfees en Nuwe Jaar vol van God se goedheid ervaar!!

Efesiërs 1:2 “Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees” (NLV)

Vrede en liefde

Gerrie en Arlene

Bankbesonderhede:
NG Kerk Bergsig – SAAWE.
ABSA
Spaarrekening 93 5202 1094.
Takkode 63205