Missie Japan 17 Nov 2021: Weg en Terug en weg

Beste Vriende

Wanneer ons in Suid-Afrika is mis ons Japan: die opregte toewyding van ons broers en susters in die RCJ, goedkoop sushi, warmwater bronne … Maar wanneer ons in Japan is verlang ons harte intens na Suid-Afrika: na ‘n drafpaadjie langs die river met ‘n uitsig op die branders, uit-volle-bors lofsange in die kerk, sit om die braaivleis vuur met regte hout (nie steenkool soos in Japan nie). Maak nie saak in watter land ons is nie, ons is altyd vol verlange na die ander. Asof ons nooit werklik tuis is nie.

WEG EN TERUGTERUG EN WEG   
Tog dink ek hierdie gevoel van heimweë na die ‘ander’ huis, is goed vir ons. Dit help ons om perspektief te behou oor waar ons ware tuiste is. Dit help ons om te verstaan – al is ons omring deur geliefdes in ons eie tuiste – hoekom ons nog so dikwels gevul word met ‘n onbeskryflike verlange …’n rusteloosheid. Hierin is ons natuurlik nie alleen nie. Augustinus van Hippo het dit so beskryf: “Here, U het my vir Uself geskep, en my hart is rusteloos totdat dit rus vind in U.” Of in C.S. Lewis se woorde: “If we find ourselves with a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that we were made for another world.”  
 
Ons is pas terug in Kobe ná 5 maande in Suid-Afrika. Vandag is die voorlaaste dag van ‘n baie streng 14 dae van kwarantyn. Met die eerste kans wat ek kry, stap ek om die blok onder die laaste roesrooi herfsblare. My voete mik om die kraakblare raak te trap … Einde Mei vanjaar moes ek myself keer om nie die drafpaadjies lang Stilbaai se rivier, of die om-die-braaivleis-vuur-sit te visualiseer nie. Anders sou die opgewondenheid ontembaar word. Ironies genoeg gebeur dit weer net voor ons vertrek na Japan – 5 maande later. Ek kan nie waag om die Liquidambar bome in hul herfsglorie op te roep, of die drafpaadjies langs ryslande, of die tipiese soja geure van Japan nie … anders raak die uitsien te erg. 
 
Maar met elke verlange en uitsien is daar die bitterheid van afskeid. En die trane het of geloop of vlak gelê, twee weke voor ons vertrek al. Veral noudat ons (ek en Stéphan) albei se ouers al hoe ouer raak en ons ook miskien bietjie meer wysheid bygekry het, voel ons die vlietenheid van alles aan ons lywe en diep in ons harte.
 
Maar nou is ons terug, en dankbaar vir ons huis in Kobe met sy boeke en sy koffie en sy kerse. Vir die klein groepie Christene hier vir wie ons kan bid en wat ook vir ons bid. Partykeer saam in bidure, partykeer in ons eie stiltetyd. En ons is dankbaar vir 5 maande van diep gesprekke met familie, vriende en mede-Christene. Dankbaar vir die ryk mengelmoes van Suid-Afrika waar onbekendes vinnig vriende raak en waar intimiteit so voor die hand liggend is. Want al is die Japanese bekend vir hulle onberispelike maniere, is intieme menseverhoudinge verseker nie ‘n gegewe nie. Die teendeel is dikwels waar, selfs tussen man en vrou of ouer en kind. Dus het ons regtig, na 4 ononderbroke lang jare in Japan, heling en troos en diep gemeenskap ervaar met bloed en -kerkfamilie in Suid-Afrika.  
 
Al het ons duisende kilometers afgelê en meer as 30 gemeentes en groepe besoek … en al was ons soms té uitgeput om nog ‘n keer tasse vir 6 mense te pak en weer in die kar te klim … was die ontmoetings met vriende en kerke baie nodig en regtig bemoedigend. Ons het weereens diep onder die indruk gekom van die verskille tussen Suid-Afrika en Japan. Maar terselfdertyd het die boodskap van Efesiërs 4 ons weereens oortuig van die eenheid tussen Suid-Afrika en Japan se Christene. “Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.” 
 
Ons weet Japan is ver en soms onverstaanbaar en vreemd. Ons weet ook dat Japan ‘n eerse wêreldland is met duur kospryse en ‘n 99% geletterdheidsyfer. Maar die kerk in Japan is klein (deel van slegs 1% Christene in ‘n bevolking van 126 miljoen) en jonk (die RCJ is net 70 jaar oud), terwyl die kerk in Suid-Afrika groot is met ‘n ryk geskiedenis. Die twee lande is ver verwyderd met onoorbrugbare klowe tussenin. Is dit regtig onoorbrugbaar?
 
Daar is reeds meer as ‘n halwe eeu se bande opgebou tussen die NG Kerk familie en die RCJ: ‘n brug wat sterk vorm aanneem. Noudat ons weer terug is wil ons weereens baie dankie sê aan julle wat ons help om brûe te bou tussen die kerke in Suid-Afrika en Japan. En ook tussen die Christene en nie-Christene in Japan. Ons sal binnekort meer oor hierdie bruê vertel, maar vir nou wil ons net baie dankie sê vir julle liefde en bemoediging. ありがとうございました!
“Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne.” Romeine 1:12  

Geskryf deur Carina (namens die Van der Watt gesin) cvdwatt@gmail.com 

Our mailing address is:

Mission Japan

Kita Ku

Shobu Ga Oka 3-1-3

Kobe City, Hyogo Prefecture 651-1306

Japan

Discover more from NG Kerk Groot-Brakrivier

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading