Teen dié tyd van die jaar in Japan voel ek soms die winter kaalheid en kouefronte kan gerus nou end kry. Maar daar lê gewoonlik nog heelwat bibberweer voor die deur. Dan moet ek myself staal. Gelukkig is dit ook net mooi dan wanneer die Wintersoet (ook bekend as Wax Plum in Engels, Rōbai in Japannees = 蝋梅) helder blom in die snerpende koue. Asof die opstandings-Lig rééds deur die krake van Lydenstyd inskyn in Japan … Vanjaar weer, in die parkeer terrein teen ons huis, het die Wintersoet boom teen einde Januarie nie teleurgestel nie. Saam met Nagtegaal se eerste spitsvondige gesang, ná ‘n lang winterstilte, sien en hoor ons nou die vroeë tekens van lente oral om ons. Wat ‘n vreugde!
Lydenstyd en iets van alles in die bediening
Dis ook tekenend van wat ons beleef het in die wel en weë van bedieninge in die kerk in Japan die afgelope tyd. Daar’s te veel om hier te deel, maar kom ek vertel net van enkele ervaringe. Einde Januarie is ek onverwags gevra om te preek by ‘n sukkelende gemeente waar die leraar op siekverlof is met geestesgesondheids-probleme. Grepies uit die erediens, met slegs sewe bywoners daardie Sondag, bly inge-ets in my hart: die leraar se vrou se slotgebed te midde van haar moedige hartseer, die ywerige opgewondenheid van ‘n tienermeisie wat vir die eerste keer ooit in ‘n erediens was, die dankbaarheid van ‘n bejaarde vrou wat twee dekades laas ‘n Bybel boodskap saam met haar geloofsfamilie gehoor het. En die besef: sewe is net so belangrik soos sewe duisend. Christus het immers nie gekom vir die gesondes en sterkes nie (Markus 2:17).
Op dieselfde dag, in ons tuisgemeente in Kobe, vertel Carina van ‘n man wat die afgelope jare soms kerk toe kom, wat weer daardie Sondag saam aanbid het. Hy reis amper drie uur lank tot by ons gemeente. En tydens die kuier ná die erediens sê hy dat, al is hy nie ’n Christen nie, die preke en die Bybel besig is hom om te verander. Soveel só dat hy wens hy elke week kan kom. Christelike etiek en die manier waarop Christene oor die lewe dink, dwing hom om sy eie lewe te herevalueer, veral die gedagte om ander mense te help. Dis die realiteit van ‘n klein maar lewenskragtige liggaam van Christus in Japan. Wanneer God mense se lewens begin verander, bring dit dikwels ’n ernstige, diep toewyding mee.
Die afgelope Sondag het ek gepreek in die plek van ‘n ander, geliefde en ervare leraar wat skielik ernstig siek geword het. Die gemeente waar hy bedien, en veral ook sy vrou, is diep geruk deur die skielike terugslag. Sy woorde (in ‘n epos ná die erediens) bly my by: Sedert verlede Woensdag het ons Lydenstyd betree. Net soos die Pasga ons uittog vanuit die dood na die lewe inlei, so lei Jesus se lyding en kruisdood ons na die viering van nuwe lewe in sy opstanding. Deur hierdie siekte sal ek waarskynlik weer die misterie van die geloof — hierdie oorgang van dood na lewe in Christus, met wie ons verenig is — dieper begin smaak en verstaan, terwyl ek tree vir tree deur hierdie seisoen gelei word.
Ander hoogtepunte en dieptepunte (met foto’s hierbo en onder)
· Tobie en Annalie De Wet het intussen verhuis van Niihama (foto hierbo) na Tokushima. Hulle is tans in Suid-Afrika op besoek en keer einde April terug om ‘n nuwe termyn van bediening te begin by RCJ Tokushima-Wes gemeente.
· Ons het twee groepe tieners/studente aan huis ontvang vir goeie geleenthede om saam te groei in geloof en vriendskap.
· Twee begrafnisse het ons onkant gevang. Een lidmaat uit ons gemeente en een pas afgetrede leraar uit ons omgewing is oorlede. Hulle troosdienste was diep bemoedigend en geleenthede wat sterk getuig het van Christelike hoop.
· KRTS het drie nuwe studente gekeur wat in April by ons begin studeer. Dankbaar vir hulle wat hierdie roeping opneem!
· ‘n Belangrike lesing en byeenkoms rondom die tema van ‘n toename in Christen Sionisme in Japan, was baie leersaam.
· Vier verskillende groepe studente, dosente en kerkleiers uit Suid-Korea het ons kweekskool se gange en eetsaal gevul. Dis ‘n teken ons diep verbintenis met verskillende kerke daar, en hopelik ook ‘n stimulus vir nuwe student wat by ons wil studeer in die toekoms.
· ‘n Aanlyn vergadering met leiers van RCJ Oos-Kantō ring, in opvolg van ons vorige gesprekke (Nov. 2025) oor die nuwe samewerkings-moontlikhede tussen Missie Japan en dié ring uit Tokio omgewing.
· Dit was ’n voorreg en ’n plesier om verlede week in Tokio aan gesprekke oor noodverligting tydens rampe deel te neem, aangebied deur die Japan Evangelical Missionary Association (https://jema.org). Ons was as ‘n uiteenlopende groep kerkleiers en getuienis vennote van regoor die wêreld bymekaar. Geereed om ’n gekoördineerde impak te maak t.w.v. almal wat deur natuurrampe in Japan geraak word. Een foto sluit Dr. Norimichi Yokota in (Direkteur, Kyūshu Christ Disaster Relief Center), wat twee aanbiedings oor hierdie temas met groot passie en nugter wysheid gelei het. Rampverligting in Japan is nie net humanitêre werk nie, maar deel van God se lewegewende hoop in ons brose wêreld. Dit open deure vir getuienis oor goeie nuus t.m.v nood en pyn. Baie kerkleiers in Japan is deur hulle direkte betrokkenheid by rampe gevorm en het in tye van krisis diep lesse geleer oor veerkragtige geloof en Christelike medelye. Ons bly waaksaam vir wanneer die volgende groot ramp kan tref.
My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. (Jakobus 1:2-4)

Met die bogenoemde sake in gedagte, dank die Here saam met ons en vra vir Sy voorsiening, leiding en krag vir wat voorlê. Jou gebede en ondersteuning dra ons!

Ons oudste kind en enigste dogter Annlie het ‘n hoogtepunt geniet toe sy die hoofrol (as swaan) in haar ballet konsert vertolk het. Dit was ‘n lekker vreugde om te sien hoe heelhartig sy dit geniet het, in haar element! Seker ook omdat die einde van haar skoolloopbaan om die draai lê …
Facebook: https://web.facebook.com/missiejapan
Copyright (C) 2026 Mission Japan. All rights reserved.
Our mailing address is:
Shobu Ga Oka 3-1-3, Kita Ku, Kobe City, JAPAN, 651-1306


