Lydingstyd: “Visio Divina” 4de Sondag in Lydenstyd

VISIO DIVINA #26

4de Sondag in Lydenstyd

Teen hierdie tyd weet jy al, Sondae is ‘n dag van viering. Elke Sondag vier ons opstandingsdag. Sondae is nie deel van die 40-dae Lydensreis nie. Dit is so nodig dat ons deur die 40 dae in Lydenstyd nadink oor ons lewens. Wie is ons? Wie s’n is ons? Waarop is ons hoop werklik ingestel? Wat is ons roeping? Leef ons dit uit? Leef ons as beeld van God en verteenwoordiger van Jesus?

Lydenstyd is tyd vir selfondersoek en stilraak voor God: Here, U ken ons deur en deur. U weet dát ons U volgelinge is, maar U ken ook ons afdwaalpaaie.

So begin ons die reis op Aswoensdag met: ‘n kruis van as op ons voorkop. Met nadenke. Met skuldbelydenis. Vir ses Sondae is daar telkens ‘n onderbreking: om ons op te lig uit “sak en as.” Mag ons net nooit vergeet nie – al is ons besig om met eerlikheid te bid, “Skep in my ‘n nuwe gees en ‘n nuwe hart”, is ons opstandingsmense, Die genade is ons reeds aangebied. Ons doen selfondersoek, nie omdat die genade nog moet kom nie; maar omdat die genade vrylik gegee word. Maar mag ons nie dit as vanselfsprekend aanvaar nie – dit het esus sy lewe gekos!

Ivanka Demchuk is ‘n jong 33-jarige ikonograaf uit Kiev, Ukraïene. Sy en haar man, Arsen Bereza, het ‘n opdrag gekry om ‘n kerk in Granada se ikone te skilder. En hierdie ikoon van die opstanding is die volle muurgrootte, teen die voorste muur van die kerkruimte. Wanneer jy Sondae instap in die binneruimte, is dit waarna jy kyk terwyl jy jou plek in die banke inneem: die bande van die hel is gebreek. Sy verduidelik dat dit die rooi ruimte is waaruit Jesus tree. Die kruis is leeg. As jy die foto vergroot sal jy onder in die hoek ‘n sleutel en oopgesluite slot sien. Mense wat die gevangenes van die bose is, is vrygelaat.

Paulus skryf dat ons dood was “deurdat julle gesondig het.” Maar God “het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.” (Kol 2:13-14). En juis daarom vra Paulus: “Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort?” (Kol 2:20)

Dit bly die vraag: waarom?

GEBED:

Opgestane Here, U het alles wat boos is verslaan; ook dit wat in my is.

The Acapella Company – Psalm 51: “Create in me a clean heart.”

Vir die vierde Sondag van Lydenstyd in ons reeks #Lectio Divina, luister ons na ‘n lied wat al etlike kere geplaas is, maar so gepas: The Acapella Company se weergawe van die bekende Psalm 51: “Create in me a clean heart.”

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.