Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 9

VISIO DIVINA #9

Deel 1

Nikola Sarić is ‘n kontemporêre ikonograaf wat hierdie verstommende verhaal visueel uitbeeld: In Februarie 2015 het ISIS 21 christene op die strand in Libia onthoof. (Vandaar die naam van die ikoon: “Ikoon van die heilige martelare”). Knielende mans, geklee in oranje “tronkuniforms” (om uit te beeld dat hulle gevange geneem is); op die bors van die voorste mans se klere is ‘n kruis. 20 swart gemaskerde mans hou elke met ‘n arm uitgestrek die nekke van die christene vas. In die 2 voorste en 2 agterste mans se hande hou elk ‘n mes vas. ‘n Rooi lyntjie van bloed loop al om die 21 mans se lywe, af tot aan die golwe van die see.

Die oë van die martelare draai almal na Christus. Asof Hy hulle by ‘n tafel ontvang (soos Psalm 23:5 leer, “U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.”)

Wat is die boodskap vir ons christene vandag?

VISIO DIVINA 9

Deel 2

TEKSVERS:

“Want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?” (Mark 8:35-46).

Die moeilikste les om te leer is dat die “Blye Evangelie” deur die Poort van Lyding na ons gebring word. Dat Jesus sy lewe vir ons opoffer – natuurlik – daaroor is ons so dankbaar! Dit is vir ons die Goeie Nuus. Maar dat die Goeie Nuus van ons vra, “Volg My voorbeeld”, dit bring ons jaar-na-jaar by Lydingstyd waar ons moet uitroep, “Kyrie Eleison.”

Die woorde van Paulus ken ons dalk uit ons hoof: “Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf” (Gal 2:20, uit die NLV). Die vraag is of ons dit na-praat, en of ons dit na-leef? My en jou sterf-aan-onsself lyk dalk veel anders as 21 Egiptiese christene wat in Libië onthoof word; maar ons roeping is dieselfde – om “dienaars t.w.v. die Kruis” te word.

Die christelike geloof is ‘n “vreemde” geloof: jy ontvang deur weg te gee; jy leef deur te sterf. “Geseënd is julle”… terwyl niks op die oog af na iets lyk om oor bly te wees nie. Is die krag van Christus juis sigbaar in my lewe wanneer ek op my swakste en broosste is (vgl 2 Kor 12:19)?

Verstaan jy waarom ons so herhalend beklemtoon: Lydingstyd is ‘n tyd vir diepe selfrefleksie. Wat is dit wat ek werklik glo? Leef ek daarvolgens?

GEBED:

Ek lê myself bloot voor U, my Here. Vorm my net soos U wil.


Bernard Sexton “GOD WILL WIPE AWAY ALL TEARS.”

Op Dag 9 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons Bernard Sexton se komposisie, “GOD WILL WIPE AWAY ALL TEARS.”

Uit die lirieke:

God will wipe away all tears
God will bring you home
To the place he has prepared for you
You shall never be alone
Storms may gather, evening fall
Daylight turn to shade
And when you earthly work is done
Do not fear, be not afraid.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Bannier-van-NG-Weltevreden1

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.