Stof tot nadenke: Wie kies jy?

“…want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.”
Joh. 12: 43

Jesus Christus roep uit in Joh. 12: 44-46 “Wie in My glo, glo nie net in my nie, maar ook in Hom wat my gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat die wat in my glo, nie in die duisternis sou bly nie.”

Jesus Christus het deur elke moontlike helse kondisie gegaan hier op aarde sowel as om vir ons sonde te sterf aan die kruis. Die mense wat hom kort voor Sy dood met eer en gejuig ontvang het toe hy met die donkie in Jerusalem ingery het het, het hom kort daarna uitgejou en veragtend behandel, net soos ons mense so goed weet hoe om te doen. Sien ons dit nie so dikwels in hierdie lewe nie.

Daarmee saam sê Christus dat hy nie gekom het om ons te veroordeel nie, maar om te red. Ons moet net die keuse maak om hom te volg. Om sy voorbeeld, wat vir Hom deur die Vader voorgeskryf is, te volg. Christus beklemtoon in Joh. 12: 50 dat Hy weet dat God se opdrag die ewige lewe beteken. Hy laat ons dus voor die keuse om te besluit wie ons kies. Kies ons die mense of kies ons vir God?