Stof tot nadenke: Verwondering

…en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare vol verwondering was toe hulle sien dat doofstommes praat, kreupeles gesond word, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel verheerlik.

Matt. 15: 3120

Wat is dit wat jou in verwondering laat? Die definisie vir verwondering is “om met verwondering na iets te kyk; verbaas of verstom te wees. Lied 464 verwoord die verwondering van die mens by aanskoue van God se skeppingswerk. So verwoord ook Ps. 8 en 104 die verwondering van die psalmdigter by aanskoue van God se skeppingswerk en die natuur. Ons grootste verwondering as gelowiges van die evangelie van Jesus Christus, lê egter daarin dat ons verwondering ervaar wanneer ons tot die besef kom dat God die Vader ons so lief kon hê, ons wat swak en nietige mense is, dat Hy sy unieke Seun na hierdie wêreld laat kom het. Sodat ons sy wonderdade, deur die ervarings van almal wat daar was, van bewus kan wees deur die woorde in die Bybel. Die menige vertellings van mense wat wonderwerke aanskou het; mense wat gesond gemaak is; mense waarvan geeste uitgedryf is deur bevele van Jesus Christus.

“Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.” En toe hulle dit doen, het hulle soveel vis gevang dat die nette wou skeur. Hulle het vir die makkers in die ander boot beduie om hulle te kom help. Toe hulle daar aankom, het hulle albei bote so vol gemaak dat dit begin sink het. Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.” Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp oor die klomp vis wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg.” (Luk. 5: 5-1120);

”In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!“ Hy het hom aan sy regterhand gegryp en opgehelp. Onmiddelik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring, regop bly staan, rondgestap, en toe saam met hulle die tempelterrein binnegegaan, terwyl hy loop en spring en God prys. Die hele volk het gesien hoe hy God loop en prys. Hulle het hom erken as die een wat by die Mooipoort van die tempelterrein gesit het met die oog op aalmoese, en hulle was vol verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het.” (Hand. 3: 6-1020)

So dikwels ervaar ons as mense ‘n angstigheid wanneer dinge wat ons nie verstaan of kan verklaar nie. Net soos Petrus en sy mede vissermanne ervaar het toe Christus oor die stormsee na hulle toe aangekom het. Hy het die mag gehad om selfs die storm tot stilte te dwing. Ook Moses het so ‘n ervaring gehad by die brandende doringbos. Met die uitstorting van die Heilige Gees was die mense verstom en verbaas oor die spreke in hulle eie tale, sodat hulle kon verstaan wat daar gepraat word. Vir ons lei sulke ervarings of insidente nie altyd na verwondering nie. So dikwels staan ons blasé oor vreemde gevalle en dit laat ons met meer twyfel en agterdog. Selfs Christus se opstanding uit die dood het vrae by die mense gelaat, wat nie dadelik besef het wat gebeur het nie. Dis eers nadat hulle uiteindelik besef het wat Jesus Christus vir hulle vir so lank probeer vertel het, dat hulle dit aanvaar het vir wat die was, en het dit hulle in verwondering gelaat.

Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ‘n spook, en hulle het hard geskreeu; want hulle almal het Hom gesien en was vreesbevange. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!” Hy het toe by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was uitermate verbaas, want hulle het nie begryp wat met die brode gebeur het nie, omdat hulle harte verhard was. ”(Mark. 6: 49-5220);

Petrus egter het opgestaan en na die graf gehardloop. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke. En hy het teruggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.” (Luk. 24: 1220);

”Na veertig jaar het ‘n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van ‘n brandende doringbos. Toe Moses dit sien, het hy hom oor die visioen verwonder, en toe hy nader gaan om dit te bekyk, het die stem van die Here gesê, ‘Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.’ ” (Hand. 7: 30-3220);

Almal was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Wat is besonders omtrent hierdie man se woorde, dat Hy die onrein geeste met soveel gesag en mag gebied, en hulle dan die mense verlaat?” Die nuus oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei.” (Luk. 4: 36-3720);

Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie?” (Hand. 2: 720);

Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal. DIe gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was uiters verbaas dat die Heilige Gees selfs op die heidene uitgestort is.” (Hand. 10: 44-4520)

Jesus Christus het ons in Sy eie woorde, die versekering gegee dat Hy deur die Vader gestuur is. Dat Hy volmag ontvang het en lewe in Homself gehad het. God het Hom as Sy Seun geëien by sy doop deur Johannes die doper, deur die Heilige Gees oor Hom te laat kom. Dit alles het Hom in staat gestel om al die wonderwerke en genesings in hierdie wêreld te kon doen. Ons kan net in verwondering bly staan voor die grootsheid en almag van God die Vader, in sy skepping en in sy troue liefde, wat ons nooit verlaat nie. Hy is altyd by ons, ons moet net tot Hom nader in gebed en verootmoediging. Alles wat ons doen moet tot eer en verheerliking van Hom wees.

Want soos die Vader lewe in homself het, so het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het aan Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom ‘n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling.” (Joh. 5: 26-2920);

Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele vir Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. En meteens het ‘n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.“(Matt. 3: 16-1720)