VISIO DIVINA #16
Deel 1
Hierdie ikoon (uit Noord-Masedonië) is getiteld “Die Omhelsing.” Die meeste mense assosieer die ikoon met Adventstyd: die swanger Maria het vir drie maande by haar Tant’ Elisabeth (toe ses maande swanger) gaan bly (Luk 1:56). Maar tog wonder ek of dit nie juis ook ‘n Lydenstydikoon is nie? Hoe min het hierdie twee vroue geweet wat vir hulle (en hul twee seuns) gewag het nie! Simeon het dan reeds vir Maria by die tempel (in Luk 2:35) gesê: “En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”
Hoeveel keer in hul lewens het hierdie twee vroue mekaar nie dalk omhels nie! Ja, sekerlik toe hulle albei besef hulle is swanger. Maar het Maria ook haar tante omhels nadat haar seun (Jesus se neef, Johannes die Doper) deur Herodus onthoof is? Het Elisabeth haar susterskind, Maria, omhels toe Jesus gekruisig is?
Vir my is “Die Omhelsing” ‘n troos-ikoon. Hoe het ons mekaar nie nodig nie! In goeie tye; maar ook in hartseertye.
Deel 2
TEKSVERS:
“En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. So sal Hy julle innerlik sterk maak” (1 Tess 3:12-13).
Ek hoor dit gereeld: “Ek deel graag, maar ek sukkel om te ontvang.” Of, “Ek wil tog net nie van mense afhanklik wees nie.” Of, “Ek sukkel om te vra vir hulp.” Op die wyse onderhou ons die illusie dat ons mekaar nie nodig het nie. Wanneer Paulus met die gemeente in Tessalonika praat, begin hy die hoofstuk deur te vertel dat hy vir Timoteus na hulle toe stuur Timoteus, “…om julle in julle geloof te versterk en moed in te praat sodat nie een van julle onder die vervolginge sou begin wankel nie” (1 Tess 3:2-3). Ons het mekaar se steun (of dit ‘n teregwysing of ‘n vertroosting, ‘n bemoediging of ‘n vermaning is) nodig.
In die Nuwe Testament praat ons van die sg. “mekaar-beginsels”. “Bid vir mekaar” (Jak 5:16). “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar” (Kol 3:13). Ek sou nog baie kon opnoem. Maar laat ons nie hierdie een vergeet nie: “Dra mekaar se laste” (Gal 6:2). Die mekaar-beginsels herinner ons dat ons ons geloof nooit in isolasie kan uitleef nie. Christenskap impliseer betrokkenheid in mekaar se lewens. Dit vra oop voordeure, en oop harte. Dit vra luister en omgee; trane afdroog en moed inpraat. Dit vra dáár wees.
Dit vra Ek wonder vir wie ons vandag ‘n “troosikoon” kan word?
GEBED:
Here, ek staan in U omhelsing, en ek voel dit deur die arms van ander mense. Dankie dat U ons saam so versterk.
———–
Charles Popper, “We are not alone.” Die solis is Sandy McAuley
Op Dag 16 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die pragtige lied van Charles Popper, “We are not alone.” Die solis is Sandy McAuley

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.


