VISIO DIVINA #14
Deel 1
Die kunswerk van Johannes Vermeer oor Lasarus se twee susters: Marta en Maria, is in 1655 geskilder. As iemand dalk glad nie die verhaal ken waar Jesus by hulle aan huis gaan kuier nie (in Lukas 10:39-42), wat sou uit hierdie kunswerk afgelei kon word?
Jesus is duidelik baie tuis in hulle geselskap. Kleur in kuns kommunikeer altyd iets: Jesus dra die goddelike koninklike kleur – purper – as ‘n onderkleed; en ‘n blou bokleed – die hemelse kleur. “Toevallig” dra net die sittende vrou ook die hemelse kleur. Die een vrou se moue is opgerol; die ander een s’n nie. Die een vrou kyk opwaarts; die ander vrou kyk af. Jesus praat met die vrou by sy skouer (met varsgebakte brood wat sy aanbied), tog dui sy hand in die sittende vrou se rigting.
Daar is geen veroordeling in Jesus se lyftaal nie. Die kunstenaar nooi jou bloot uit om dieper te kyk en vir jouself ook ‘n posisie te kry. Kan jy?
Deel 2
TEKSVERS:
“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge …” (Luk 10:41).
Hoe het Jesus gedink moes kos op die tafel kom! En meer nog, die sosiale reëls was dat vroue hulself eenkant van mans sou hou. Dit is dus die hele huishouding van Lasarus se goeie naam wat op die spel geplaas word. (En as jy dít verloor, verloor jy alles!) Die ergste is, Jesus het dit geweet. Waaroor gaan dit dan hier? Tog nie oor “ora et labora” (bid en werk) nie, want dit is nie “of … of” nie; dit was nog altyd “en … en”.
Dit is ‘n skok om te besef dat daar gelyktydig in ons ‘n Marta en ‘n Maria is. Elkeen van ons het iets in ons wat die heilige harmonie van God versteur. Ons maak mensgemaakte reëls om sekere mense binne te hou en ander buite. En dit is presies waarmee Jesus Marta konfronteer: jy is meer ingestel op die kulturele reëls as op die heelheid wat God wil bewerk. Soos Paulus skryf, “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie” (Gal 5:1).
Hoe maklik wil ons nie die status quo in stand hou nie, terwyl Jesus ons wil bevry van selfgemaakte wette. Maria het dit verstaan; Marta het nie. Die vraag is wat is “ons Marta’s” wat ons weerhou van God se heelheid.
GEBED:
Here, is daar dalk selfgemaakte reëls wat my (of ander) keer om U voluit te dien?
———–
Marta en Maria:“Solo Committee”.
Op Dag 14 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n musikale verwerking van die verhaal van hierdie twee susters, Marta en Maria, soos gesing deur die groep “Solo Committee”.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.


