VISIO DIVINA #22
Deel 1
In 1433 het ene “Daniel van Urank” ‘n Armeense miniatuur Evangelie(tjie) geïllustreer in ‘n bykans naïwe manier! Sewe figure (die getal van volkomenheid) is by ‘n tafel: ses dissipels (vandaar die stralekrans) en Jesus (sy kleedskleure en die kruis in sy stralekrans dui dit aan). Al die oë is na Jesus gedraai; en Jesus se oë is boontoe gerig. Dit is duidelik ‘n nagmaaltafel, maar Jesus staan bo-op die tafel. Waarom?
Elke dissipel het een broodjie; Jesus hou twee vas. Dit is nie vir hulle nie; dit is om uit te deel. Tel die broodjies en vissies in elke kelk – nie een van die verhale in die Bybel praat van drie vissies en drie broodjies nie. Waarom dan? Maar, jy weet: drie is die Goddelike getal. Op die tafel – weerskante lê 2 x 7 broodjies.
Die nagmaal en die verhaal van Jesus wat die skare voed – alles in een klein illustrasie, om ons te herinner: God deel oorvloediglik uit!
Deel 2
TEKSVERS:
“En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk” (2 Kor 9:8).
Net een wonderwerk verskyn in al vier evangelies, en dit is daardie een waar Jesus die honger skare voed (Matt 14:15-21; Mark 9:1-10; Luk 9:12-17; Joh 6:1-13). Elke evangelieskrywer gee sy eie weergawe van die verhaal, maar daar is veel meer aan hierdie gebeurtenis as maar net Jesus wat honger mense jammer kry en vir hulle kos wil uitdeel. Jesus doen veel meer! Dit is ‘n illustrasie van wat wag! Hy gee nóú reeds ‘n proesel van die feesmaal wat ééndag gehou gaan word (aldus Openb 3 en 19). Selfs Dawid kon daaroor juig: “U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid” (Ps 23:5).
Daar is etlike beskrywende woorde vir God in die Bybel: genadige; liefdevolle; goeie; sterke, ens. Maar, die woord wat dit alles vir my omsluit, is dat God die vrygewige God is. Lees net weer 2 Kor 9:8. Kyk net hoe kies Paulus sy woorde: alles; in oorvloed; alle opsigte; altyd; van alles; genoeg; volop. God hou niks terug nie!
Maar net soos in die wonderverhaal waar Jesus by die dissipels wil weet wat húlle by hulle het om te eet; gaan 2 Kor. 9 ook oor óns wat kry om te gee. Gaan lees vandag 2 Kor 9 en kyk weer na Daniel van Urak se illustrasie, en vra jouself af: is jou beskrywende woord ook soos díé van God – vrygewige? Jy is immers beeld van God.
GEBED:
Maak van my ‘n vrygewige mens, Heilige Gees, omdat ek so vrygewiglik van U ontvang.
Du bist gesegnet, ein Segen bist du” (Jy is geseën, ‘n seëning is jy) deur Helge Burggrabe
Op Dag 21 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons “Du bist gesegnet, ein Segen bist du” (Jy is geseën, ‘n seëning is jy) deur Helge Burggrabe. Dit is so maklik om saam te sing, omdat dit ‘n enkelfrase lied is.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.


