Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 21

VISIO DIVINA #21

Deel 1

In 2007 het die Amerikaanse kunstenaar, Michael Dudash, die skildery gemaak, getiteld: “Not by bread alone.” Dit sou ook seker getiteld kon wees, “Not by work alone.” Want is dit nie ons groot “probleem” nie! Vra iemand hoe dit gaan, en die antwoord is iets soos, “aan die hardloop…”.

Soveel keer lees ons in die Bybel dat Jesus “soos sy gewoonte was” (Luk 22:39) homself afgesonder het om te gaan bid. “Hy het alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen” (Matt 14:23).

Dudash (wat self in die berge van Vermont leef) kontrasteer die ruheid van die berge (is dit dalk simbolies van die lewe?) met die sagte, vloeiende wit van Jesus se kleed, ‘n postuur van kalmte.

Lydenstyd is ‘n tyd van afsondering en luister. Ek het herhaal my eie motto aan myself: “die sekerste manier om nie God se stem te hoor nie is ‘n besige lewe.”

Deel 2

TEKSVERS:

“Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” (Ps 91:4).

Vandag se meditasie het eintlik anders om begin: eers het ek – toevallig – op die musiek van Melissa Dittrich oor Psalm 91 afgekom. Terwyl ek na die woorde luister, is dit nie ons menslike vrese en behoefte na veiligheid waaraan ek eerste gedink het nie, maar aan Jesus s’n. Is dit dalk waarom Hy Homself daagliks afgesonder het om te bid? Soms ‘n ganse nag lank!

Die Psalms was die gebede van Jesus se tyd. Hoeveel keer het Hy dalk Psalm 91 opgesê (wat Hy – as ‘n Joodse man – uit sy hoof sou ken). Ek kan my indink, hoe nader Jesus aan daardie Donker Vrydag gekom het, hoe groter sou sy begeerte na tyd met God geword het. Ons weet nie wat Jesus gebid het as hy homself so afgesonder het nie. Maar ek hoor Hom in sy moedertaal bid: “El Shaddai … Abba …”. Allerhoogste God … Vader…

En terwyl ek Psalm 91 weer lees, sien ek weer die ikoon van Rublev se drie engele met hul vlerke (of “vleuels”) wat aan mekaar raak; ‘n muur agter hulle vorm. Soos Dawid skryf: “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” Geen opening waardeur ons kan val. Veilig. Vasgehou.

GEBED:

U, Almagtige, “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.

Melissa Dittrich David: Psalm 91

Op Dag 21 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die Kanadees, Melissa Dittrich David, se weergawe van Psalm 91.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.