VISIO DIVINA #18
Deel 1
In 1170 nC is ‘n klein (27 x 18 cm) geïllustreerde manuskrip vir die St Albans Abbey (Abdy) saamgestel – die sg. Albans Psalter. By elke illustrasie van ‘n bybelverhaal word die teks met ‘n versierde eerste letter (so groot soos ‘n klein muntstuk) begin. Waarna ons vandag kyk is die eerste letter (‘n “d”) waarmee die verhaal van Saggeus begin. Kyk lank hierna – wat sien jy alles? ‘n Boom met 4 takke. En druiwetrosse? Sou dit herinner aan Jesus se woorde: “Ek is die wingerdstok; my Vader die boer” (Joh 15:5). Of, dat ons aan ons vrugte geken sal word nie (Matt 12:33)?
Waarom 5 trosse as daar dan net 4 takke is? In die Bybel is die getal 5 die simbool van genade. Dit beeld God se genade-op genade, sy goedheid en guns teenoor die mens uit. (En is die verhaal van Saggeus nie juis ‘n verhaal van genade nie!)
Deel 2
TEKSVERS:
“Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk 19:10).
Saggeus was nie net ‘n tollenaar nie; hy was die hóóftollenaar. Hy was nie net ryk nie, hy was báíe ryk. Saggeus was ook ‘n verstotene onder sy eie mense. (“’n Sondaar” noem Lukas hom in 19:7, m.a.w. iemand wat die Wet van Moses verontagsaam het.) Sulke mense is gewoonlik ook vereensaamdes, juis omdat hulle so “sosiaal onaanvaarbaar” was. (Ons ken almal sulke mense; dit is daardie tipe mense oor wie ons praat; of wie ons liefs in ‘n winkelsentrum maak of ons nie raaksien nie.)
Ek wonder of Saggeus gedink het hy gaan net ‘n toeskouer van Jesus bly? Die blindes en die melaatses het nog die verskoning gehad dat hulle nie hul eie siektetoestande “gekies” het nie; Saggeus – daarenteen – het gekies om ‘n tollenaar te wees. Hy het gekies om geld van sy arm landgenote vir homself toe te eien. Die verwerpinge wat hy moes ervaar was hy sélf voor verantwoordelik.
Mag ek eerlik bely? Ek weet nie of ek myself sommer met Saggeus sou vergelyk nie: ek is immers ‘n dominee (‘n christen); ek kom mense nie (doelbewus) te na nie; ek “probeer” darem goed wees, en ek dink nie ek besteel die armes nie. Maar dan hoor ek weer die woorde van Jesus: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is”. En dan wonder ek, wie is die gelukkigste mens? Saggeus, of ek wat dink dat ek “okay” is?
En jy?
GEBED:
Hemelvader, U ken my deur-en-deur. Wees my genadig, soos U vir Saggeus ook was.
———–
Sinfoglesia: “Gratia” (die Latynse woord vir genade)
Op Dag 18 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n Duitse groep, “Sinfoglesia” se nuwe lied, “Gratia” (die Latynse woord vir genade)

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.


