Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 8

VISIO DIVINA #8

Deel 1

Daar is eeu-oue ikone oor die tollenaar en die fariseër. (So is daar bv. in Kosovo ‘n klooster wat ook as wêrelderfenis-gebou verklaar is met muurskilderye wat uit die 14de eeu de eeu dateer.) Vandag (#8) se ikoon is egter ‘n meer moderne Ukraïniese ikoon.

Wat illustreer Jesus met die gelykenis soos uitgebeeld in die ikoon: wie die samelewing as sondaar beskou, en wie God as sondaar beskou stem nie vanselfsprekend met mekaar ooreen nie! Hierdie ikoon beeld dit pragtig uit. Die gelowige (jy sien dit op die stola van die Fariseër – ‘n geborduurde Menora (die goue kandelaar met die 7 arms wat in die tempel gestaan het) “ken” vir God (net soos ons) – die gelowige het toegang tot God (net soos ons). Die sondaar – daarenteen – durf nie na God kyk nie, daarvoor ken hy sy tekortkominge te goed. Mag God hom net genadig wees.

Hoe maklik is dit om in ons rol as “gelowiges” dalk aan die verkeerde kant te staan. Want, kyk waarheen wys die Hand uit die hemel…

Deel 2

TEKSVERS:

“Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word”(Luk 18:14).

Daar is net een voorwaarde waaraan ons moet voldoen om die koninkryk van God te ontvang – dat ons sal besef dat ons juis aan geen voorwaarde kan voldoen nie. In die saligspreuke gaan dit oor daardie mense wat – volgens die Romeinse koninkryk – die “niks’e” van die samelewing was. Geen seggenskap; geen statuur; geen mag. Die “sommer net”-mense. Vir hulle sê Jesus, “Geseënd is julle…” (in Matt 5:1-13).

God se koninkryk werk so gans anders as die wêreld se koninkryke! In mensgemaakte koninkryke werk ons met “as julle … dan sal ons …”. Nog moeiliker in mensgemaakte koninkryke is dat die dwarslat waaroor ons moet kom altyd net-net buite ons bereik bly. Ons is nooit regtig goed genoeg nie; daar is altyd ietsie wat nog uitstaande is: nog bietjie beter; nog bietjie slimmer; nog bietjie meer van een soort. Nie by God nie! By God is dit juis die nederiges (hulle wat weet dat hulle niks het om aan te bied nie) vir wie God sê, “In My Koninkryk is julle welkom. Net soos julle is.)

Ons sien dit in die gelykenis wat Jesus vertel van die godsdienstige mens wat in die voorste gestoeltes sy plek inneem, teenoor die een wat agter insluip en hoop niemand sien hom nie. Want dit was wie die Fariseër en die tollenaar was (in Luk 18:14).

Die een wat “daar ver bly staan en selfs nie na die hemel (wou) opkyk nie; hy (wat) bedroef op sy bors slaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig’” (v13) – die nederige een – dit is die een wat by God die hoogste aansien het.

Mag dit ek en jy wees van wie Jesus praat.

GEBED:

Openbaar aan my waar ek myself dalk mislei, Here.

Anastasia Gladilina : Kyrie Eleison (Here, vergewe)

Op Dag 8 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die wonderskone stem van die 14-jarige Anastasia Gladilina. Sy was een van die finaliste in die Russiese weergawe van “The Voice Kids.” Hier sing sy saam met die “Sretensky Kloosterkoor” (wat reeds in 1397 gestig is) ‘n weergawe van die Kyrie Eleison (Here, vergewe).

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.