Hierdie ikoon (uit Noord-Masedonië) is getiteld “Die Omhelsing.” Die meeste mense assosieer die ikoon met Adventstyd: die swanger Maria het vir drie maande by haar Tant’ Elisabeth (toe ses maande swanger) gaan bly (Luk 1:56). Maar tog wonder ek of dit nie juis ook ‘n Lydenstydikoon is nie? Hoe min het hierdie twee vroue geweet wat vir hulle (en hul twee seuns) gewag het nie! Simeon het dan reeds vir Maria by die tempel (in Luk 2:35) gesê: “En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”
Weereens sien ons hier ‘n uitbeelding van Jesus wat die kulturele reëls van sy tyd ignoreer, en weereens is ‘n vrou ter sprake. Nie net is sy ‘n nie-Jood (Samaritaan); maar sy is alles wat die Wet van Moses veroordeel: sy is al by haar vyfde man! Soos altyd is Jesus geklee in kleure wat beide sy goddelike (rooi/purper) en sy menslike (blou) status uitbeeld.
Daar is twee uitstaande kenmerke van hierdie ikoon: die put is in die vorm van ‘n klassieke doopfond. Natuurlik is dit simbolies van die Lewende Water wat haar reinig; ook bitter water (Mara) soet gemaak deur Christus. Maar dan sien jy hulle raak! Agter Jesus staan hulle, koppe na mekaar gedraai; drie dissipels. Agter haar, staan 2 ou mans in die stadspoorte (bewaarders van die sedes) en nog twee nuuskieriges.
Hoe konfronteer hierdie ikoon ons nie met al ons stereotipering nie!
Deel 2
TEKSVERS:
“Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: ‘Hy het my alles vertel wat ek gedoen het’” (Joh 4:39).
Volgens oorlewering het die Samaritaanse vrou ‘n naam gehad: Fotini (wat “helder lig” in Grieks beteken). Hoe insiggewend dat dit juis die naam van ‘n vrou is met ‘n donker geheim. (“Ek het nie ‘n man nie”, antwoord sy Jesus. “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie” – Joh 4:16-18). Hierdie vrou was ‘n uitgeworpene – vir Jode was sy vuil; ‘n Samaritaan. Onder haar eie mense ook, daarom dat sy nie saam met die ander vroue gaan water skep nie; maar op die warmste uur van die dag (aldus vers 6). En tog word sy die eerste een wat verstaan dat Jesus die Messias is. Lank voor die dissipels dit begryp, begryp sy. Inderdaad word sy die eerste apostel: sy hardloop om almal in haar dorp te roep; “kom kyk, kom kyk!”
Fotini se lig skyn! Ongeag haar verlede. Ongeag haar agtergrond. Dit is wat gebeur as die Lig van die Lewe op jou val.
GEBED:
Here, maak van my ‘n helder lig en laat my in die donker skyn
U is die Lig wat in die donker skyn – Kaapse Filharmoniese orkes, o.l.v. Chad Hendriks.
Op Dag 15 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “U is die Lig wat in die donker skyn”; soos uitgevoer deur die massakoor en Kaapse Filharmoniese orkes, o.l.v. Chad Hendriks.
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
Die kunswerk van Johannes Vermeer oor Lasarus se twee susters: Marta en Maria, is in 1655 geskilder. As iemand dalk glad nie die verhaal ken waar Jesus by hulle aan huis gaan kuier nie (in Lukas 10:39-42), wat sou uit hierdie kunswerk afgelei kon word?
Jesus is duidelik baie tuis in hulle geselskap. Kleur in kuns kommunikeer altyd iets: Jesus dra die goddelike koninklike kleur – purper – as ‘n onderkleed; en ‘n blou bokleed – die hemelse kleur. “Toevallig” dra net die sittende vrou ook die hemelse kleur. Die een vrou se moue is opgerol; die ander een s’n nie. Die een vrou kyk opwaarts; die ander vrou kyk af. Jesus praat met die vrou by sy skouer (met varsgebakte brood wat sy aanbied), tog dui sy hand in die sittende vrou se rigting.
Daar is geen veroordeling in Jesus se lyftaal nie. Die kunstenaar nooi jou bloot uit om dieper te kyk en vir jouself ook ‘n posisie te kry. Kan jy?
Deel 2
TEKSVERS:
“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge …” (Luk 10:41).
Hoe het Jesus gedink moes kos op die tafel kom! En meer nog, die sosiale reëls was dat vroue hulself eenkant van mans sou hou. Dit is dus die hele huishouding van Lasarus se goeie naam wat op die spel geplaas word. (En as jy dít verloor, verloor jy alles!) Die ergste is, Jesus het dit geweet. Waaroor gaan dit dan hier? Tog nie oor “ora et labora” (bid en werk) nie, want dit is nie “of … of” nie; dit was nog altyd “en … en”.
Dit is ‘n skok om te besef dat daar gelyktydig in ons ‘n Marta en ‘n Maria is. Elkeen van ons het iets in ons wat die heilige harmonie van God versteur. Ons maak mensgemaakte reëls om sekere mense binne te hou en ander buite. En dit is presies waarmee Jesus Marta konfronteer: jy is meer ingestel op die kulturele reëls as op die heelheid wat God wil bewerk. Soos Paulus skryf, “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie” (Gal 5:1).
Hoe maklik wil ons nie die status quo in stand hou nie, terwyl Jesus ons wil bevry van selfgemaakte wette. Maria het dit verstaan; Marta het nie. Die vraag is wat is “ons Marta’s” wat ons weerhou van God se heelheid.
GEBED:
Here, is daar dalk selfgemaakte reëls wat my (of ander) keer om U voluit te dien?
———–
Marta en Maria:“Solo Committee”.
Op Dag 14 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n musikale verwerking van die verhaal van hierdie twee susters, Marta en Maria, soos gesing deur die groep “Solo Committee”.
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
Ladislav Zaborsky is in 1921 in die destydse Joegoslavië gebore. In die 1950’s het hy met tronkstraf begin. Sy misdaad? Dat hy nie opgehou het om as ikonograaf (kunstenaar van sakrale werk) te werk na die kommunistiese oorname nie. Die kunswerk wat so aanstoot gegee het? ‘n Uitbeelding van Jesus as ‘n hande-arbeider wat hy in 1949 geskilder het.
Een van die oudste (6de eeu n.C.) ikone uit Egipte staan bloot bekend as die “Vriendskapsikoon”. Jesus se stralekrans het die tipiese kruis agter sy kop en bygeskryf staan “Verlosser.” Jesus word uitgebeeld as ‘n jong man met ‘n korter baard, langs hom is ‘n ouer man met ‘n langer, grys baard. Hy word uitgeken as “Abba (vader) Mena” – 4de eeuse martelaar.
Die een kunswerk (links) ken ons goed – dit is Salvador Dali se “Die Christus van Johannes van die Kruis”. Johannes van die Kruis was ‘n priester wat in die 16de eeu geleef het. Die skets aan die regterkant (van Jesus – wat reeds gesterf het) is juis deur Johannes van die Kruis gemaak.
Sonder om te raai weet jy dadelik hierdie (16de eeuse) ikoon beeld Jesus uit wat ‘n storm stil maak. Omdat ‘n enkele ikoon die hele storie moet vertel, sien jy twee Jesusse (met glanskrans om elk se kop): eers ‘n slapende Jesus, dan een met ‘n uitgestrekte hand wat die golwe stil maak. Maar dit is nie die unieke van die ikoon nie. Kyk in die rigting waarna Jesus se hand dui: ‘n bose figuur met ‘n tuit in sy mond wat wind aanblaas. Aan die oorkantse oewer is daar bose geeste wat op die varke se rûe aangejaag kom en in die see in vaar. Dit herinner dadelik aan die verhaal (in Mark 5:1-20) waar Jesus die bose geeste uit die besetene van Gerasa uitdryf, en die demone in die varke jaag, wat dan oor die krans val in die see in en daar verdrink (Mark 5:13).
Nikola Sarić is ‘n kontemporêre ikonograaf wat hierdie verstommende verhaal visueel uitbeeld: In Februarie 2015 het ISIS 21 christene op die strand in Libia onthoof. (Vandaar die naam van die ikoon: “Ikoon van die heilige martelare”). Knielende mans, geklee in oranje “tronkuniforms” (om uit te beeld dat hulle gevange geneem is); op die bors van die voorste mans se klere is ‘n kruis. 20 swart gemaskerde mans hou elke met ‘n arm uitgestrek die nekke van die christene vas. In die 2 voorste en 2 agterste mans se hande hou elk ‘n mes vas. ‘n Rooi lyntjie van bloed loop al om die 21 mans se lywe, af tot aan die golwe van die see.
Daar is eeu-oue ikone oor die tollenaar en die fariseër. (So is daar bv. in Kosovo ‘n klooster wat ook as wêrelderfenis-gebou verklaar is met muurskilderye wat uit die 14de eeu de eeu dateer.) Vandag (#8) se ikoon is egter ‘n meer moderne Ukraïniese ikoon.
In die eerste eeue was dit algemeen om Jesus uit te beeld as ‘n jong man met ‘n skaap oor sy skouers. Is dit werklik hoe Jesus gelyk het? Nee. ‘n Ikoon is nie ‘n portretstudie nie. (Juis daarom is die gesigvorm soms buite proporsie), Die ikoon is ‘n vingerwysing na ‘n boodskap van Jesus. Alles in die ikoon het simboliese betekenis – die kleur van die uitrustings; die posisie van die liggaamsdele; die rigting waarin die gesigte kyk, ens.
In Ravenna, Italië, is ’n Basilika uit die 6de eeu (vandag ’n wêrelderfenisgebou). Die toneel van Jesus se bergpredikasie is uniek in vergelyking met ander ikone oor dieselfde skrifgedeelte. Wat jou in hierdie ikoon opval is dat daar net elf dissipels is? Is Judas Iskariot die afwesige? Maar kyk weer, geen een van die dissipels kyk na Jesus terwyl Hy praat nie.
(Sondae word nooit as ‘n Lydingsdag getel nie.) Soos die Heilige Gees die hart van skrywers kan inspireer om Godswoorde neer te pen, so kan die Heilige Gees die hart van die kunstenaar inspireer om Godsbeelde met ’n kwas vas te lê. Soos die Heilige Gees die oë van ’n leser kan inspireer om ’n groter waarheid raak te lees as bloot ink op papier, so kan die Heilige Gees die een wat voor ’n ikoon staan ook inspireer om dieper te kyk as ’n “prentjie.” Dit noem ons “VISIO DIVINA” – heilige kyk.
Die doel van ’n ikoon (’n visuele uitbeelding van ’n teks) is om die kyker dieper in ’n storie in te trek. Jy “lees” nie net die ikoon nie; jy lees jouself daarin raak. ’n Ikoon is dus ’n ontmoetingsgeleentheid. In hierdie ikoon sien jy die ontmoeting tussen Petrus en Jesus. Maar hoe langer jy kyk hoe meer sien jy dat dit ook ’n ontmoeting tussen jou en Jesus is.
Daar is nie veel inligting oor hierdie Griekse ikoon (uitbeelding) van die profeet Esegiël wat na die laagte vol droë beendere gebring word nie (Eseg. 37). “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?” vra die Here. Natuurlik nie! Behalwe (en so beeld die ikoon dit uit) deur die opstanding van Jesus! Kyk mooi: agter die bejaarde profeet staan die verheerlikte Christus (met die stralekrans) en ‘n skitterende, leë kruis. Die graf is leeg. Dood is oorwin. “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?” Natuurlik, ja! Oor en oor bly die vraag: Kan daar in doodsheid lewe kom? Ja, ja, ja
Kliek op die skakel en beweeg af op die skerm tot by die video vir ‘n treffende visuele uitbeelding van Esegiel 37. (“Valley, Dry Bones”)
“Dít verseker Ek julle: …Ek het gekom sodat (julle) die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Die Kerkvader Irenaeus (2de eeu n.C) het gesê, dat God verheerlik word deur die mens wat sy/haar lewe voluit leef. Volgens Irenaeus het dit beteken jy leef die lewe soos God dit bedoel het om geleef te word – as werklike verteenwoordiger (beeld/ikoon, aldus Gen 1:27) van God. Jy lééf, omdat God jou lewe wíl. Danksy God se “asem” (Sy Gees/ “Ruach”) mag jy leef. Die hartseer ellende is dat daar soveel mense is wat soos “dooie beendere” deur die lewe gaan. Wandelende lyke. Wat so leef dat God nie in hulle lewens herken kan word nie.
Vir 40 dae lank draai ons die vergrootglas op ons eie lewens. Bely ons dalk met die mond dat God die Heerser van ons lewens is, maar daar is geen sigbare teken daarvan in ons doen en late nie? Jakobus leer dat geloof wat nie tot dade oorgaan nie ‘n dooie geloof is (Jak 2:17). As die Heilige Gees (die Goddelike Asem) geloof in ons bewerk, kán ons nie anders nie as om ons lewens te wy aan daardie dinge – die goeie dade – wat God sal verheerlik (aldus Ef 2:10b). Lydenstyd is lewegewende tyd! Vir die dooie geloofsbeendere is daar die belofte van nuwe lewe! Soos Paulus skryf, “Stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil” (Rom 6:13).
GEBED:
Moet nie ophou om my lewe nuut te maak nie, my Here!
“Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds.
Op Dag 3 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die baie bekende lied, “Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds. Hierdie is ‘n kwartet wat al sedert 1927 bestaan.
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
Die Ierse kunstenaar, Briton Riviere, het in 1898 hierdie “donker” kunswerk geskep van Jesus se 40-dae lange versoeking in die woestyn. Wat ‘n mens opval is die ontsaglike onvriendelike omgewing: rotsagtig; die lug bykans die vuurgloed van ’n vulkaan. Alhoewel moeilik om te sien kronkel daar ’n slang by Jesus se voet; in die ander hoek is ‘n slu jakkals. Verder is daar net ‘n enkele voël op die horison. Alles dui op verlatenheid. In wit geklee sit Jesus, kop onderste-bo. Kyk lank en biddend na die kunswerk. Maak dit iets in jou wakker? ‘n Skakel is aangeheg met goeie kommentaar oor die kunswerk:
Ons begin nie ons Lydenstydreeks met ‘n tradisionele ikoon nie, wel met ‘n moderne kunswerk van Brian Jekel: “Jesus genees die blinde man.”
Kyk lank en biddend na hierdie kunswerk.
Wat “sien” jy in hierdie skildery?
Toe Jesus na die blinde man gekyk het, wat dink jy het deur Jesus se gedagtes gegaan? Hoe sou dit voel om deur Jesus aangeraak te word? Spreek die uitgestrekte hande dalk tot jou hart? Waarom? Begeer jy dalk al vir lank dat Jesus jou moet aanraak? Waarom vra jy dit nie nou vir Hom nie.