Week 4 Groepgesprek – God se mense praat met Hom- Ons is die plan: 9 weke van Transformasie

Week 4 Groepgesprek - 9 Weke van Transformasie Dr. Frans Hancke
Skryf / Vul in

Bybelverse wat jou vandag aangespreek het:


Belewenisse en ervarings tydens vandag se Bybelstudie:


Wat het jy geleer of ontdek?


Verstaan jy die verskil tussen ’n kerk (of gemeente) met ’n
gebedsaksie en ’n biddende gemeente ? Deel jou mening met die groep.


Hoe het vandag se studie jou tot aksie geïnspireer? Hoe het jy geestelik gegroei of is jou lewe verander?


Iets wat jy graag met die groep wil deel of bespreek?


Gebed

Gebedsonderwerpe:


Boublokvrae of -stellings:

  1. Waarom is dit so moeilik om stil te wees en na God te luister?
  2. Waarom is ’n intieme verhouding met God nie moontlik sonder ’n toegewyde gebedslewe nie? Of is dit moontlik?
  3. Hoe is ons veronderstel om God te verteenwoordig? (Wees asb
    prakties.)
  4. Gebruik God NETbiddende mense om sy wil uit te voer?
  5. Wat is die verband tussen gebed en getuienis?

Week 4 Groepgesprek God se mense praat met Hom
Week 4 Groepgesprek God se mense praat met Hom
Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Week 4 Dag 20 -Die anderkant van die munt – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Week 4 Dag 20 Gebed is een van die belangrikste hoekstene vir getuienis - 9 Weke van Transformasie Dr. Frans Hancke

Die Morawiese kerk het ontstaan uit ’n aantal Duitse armlastiges, die Herrnhutters. Herlewing het uitgebreek en hulle het begin om sendelinge die wêreld in te stuur terwyl ’n groep van 24 mans en 24 vroue, twee-twee vir 24 uur om die beurt vir die redding van mense gebid het. Hierdie gebedsketting is ononderbroke vir 102 jaar lank in stand gehou! Die resultaat was dat hierdie klein groepie mense meer sendelinge die wêreld ingestuur het as al die ander sendingorganisasies saam. Baie bekeerlinge, ook in Suid-Afrika, was die vrug op hulle werk.

Iemand het by geleentheid van gebed gesê: “Gebed is die keersy van die sendingmunt.” Gedurende die tweede week van hierdie Bybelstudie, is uit die Woord ontdek dat sending eintlik by GOD begin. Vanuit hierdie hoek gesien, gaan gebed dus ten diepste om God se hartklop te hoor.

Gebed

Stel jou nou in op God jy wil sy hartklop hoor! Fokus al jou aandag op Hom alleen, sodat jy in gebed met Hom kan praat en sy wil kan verwoord en joune maak…

Lees die Skrif

Lees Luk 10:1-3; Luk 19:10; Eseg 18:23.

Luk 10:1-3;
1Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.

Luk 19:10;
10Die •Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.”

Eseg 18:23
3Sou Ek enige vreugde vind in die dood van ‘n goddelose?” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Is vreugde nie eerder daarin geleë dat hy van sy verkeerde paaie terugkeer en leef nie?

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Eseg 18:30-32; Joh 3:16-17; 1 Tim 2:3-7; 2 Pet 3:9

Eseg 18:30-32;
30Daarom sal Ek julle oordeel, huis van Israel, elkeen volgens sy optrede,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle! Draai weg van al julle oortredings, sodat dit nie vir julle ‘n struikelblok word wat sondeskuld meebring nie. 31Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees. Waarom moet julle sterf, huis van Israel? 32Ja, Ek vind nie vreugde in die dood van een wat moet sterf nie,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle en leef!”

Joh 3:16-17;
16Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 17God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. 

1 Tim 2:3-7;
Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.
5Want daar is een God,
en een Middelaar tussen God en die mense:
die mens •Christus Jesus,
6wat Homself as losprys vir almal gegee het,
tot getuienis op die bestemde tyd.7Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.

2 Pet 3:9
9Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Skryf / Vul in

Begin deur God se hartklop neer te skryf soos wat jy dit in jou
gebedsgesprek gehoor het.


Skryf ook die kern neer van dit wat jy uit sy Woord gehoor het.


Dit lyk vir my dat God ernstig is oor die soek en red van verlore mense. Sy visie vir die wêreld is dat almal sal glo dat Jesus Christus mense se sonde vergewe en hulle weer met God versoen om sy gebroke beeld in hulle te herstel.

God se begeerte is om mense tot hul oorspronklike verhouding met Hom te herstel. Sy droom is daarom dat sy kinders Hom in Gees en in waarheid sal aanbid, Hom weer in gedagte, woord en daad sal ver-TEENWOORDIG en sy beeld sal uitdra na dié wat nog vasgevang is in sonde.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus Joh 4:23-24

Joh 4:23-24
23Daar kom egter ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. 24God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Lees die Skrif

Lees weer Luk 10:1-3; Matt 28:19-20; Hand1:8; Rom 10:13-17; 2 Kor 5:17-6:2.

Luk 10:1-3;
1Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.

Matt 28:19-20;
19Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 20en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”

Hand1:8;
8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” 

Rom 10:13-17;
13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”
14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? 15En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”
16Nie almal het egter aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja vra immers: “Here, wie het geglo toe hulle ons gehoor het?” 17Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.

2 Kor 5:17-6:2
17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. 18En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. 19Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. 20Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! 21Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

61As medewerkers van God doen ons ‘n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie! 2Want Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek na jou geluister,
en op die dag van verlossing
het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is die gunstige tyd,
kyk, nou is die dag van verlossing!

Skryf / Vul in

Dink ’n bietjie na – veral oor Luk 10. Wat lees jy in vers 2-3a? Skryf dit neer.


Ons as gelowiges weet mos dat God Jesus gestuur het om die oes in te samel. Hy kyk met deernis na die oes, maar hoekom stuur Hy dan nie self die arbeiders nie? Is dit dan nie waarvoor Hy gekom het nie? Skryf neer wat jy hieroor dink.


Wanneer ’n mens van nader na Luk 10:2-3 kyk, dan sien jy dat Jesus in sy soewereiniteit kies om mense te gebruik. Sy opdrag is daarom kort en kragtig:

“Bid” , want sónder Hom is ons tot NIKS in staat nie! Ons neem dus nie sy plek oor nie; Hy betrek ons net as sy medewerkers. Maar hier hou dit nie op nie – Jesus gaan dan voort om te sê: “Gaan nou! Ek stuur julle ”! (Die soos “skape tussen wolwe” in het met die hoe van die stuur te doen.) Dit wil sê dat Jesus ons leer dat gebed nie dade vervang nie, maar dat dit juis uitloop op dade van gehoorsaamheid (in hierdie geval: getuienis)! Jy sou ook kon sê dat hierdie vertelwerk (of dan getuigwerk), by die medewerker van God lê en die oortuigingswerk by die Heilige Gees.

Skryf / Vul in

Dink ’n oomblik hieroor na en sê wat jy van die volgende stelling dink:
“Wanneer ek gebid het, moet ek bereid wees om van my knieë af op te staan en gewillig wees om God se antwoord op my gebed te wees.”


Neem nou maar voorbeeld: iemand bid: “Here, stuur asseblief werkers uit vir die oes”, of: “Here, help asseblief dat die sendelinge genoeg ondersteuning sal kry”, MAAR hy is nie bereid om SELF beskikbaar te wees om te gaan of te gee nie Waarom het hy dan gebid? Net om ’n skuldige gewete te sus? Is jy bereid om jouself beskikbaar te stel vir dit wat jy van die Here in gebed vra?

Gaan kyk maar dwarsdeur die Nuwe Testament, veral in Handelinge en lees die geskiedenis van die Kerk. God werk wanneer gelowiges bid. Hy het so gekies. ’n Biddende gemeente raak ’n gestuurde gemeente, ’n sending gemeente. Hoe meer ons bid, hoe meer verstaan ons God se hartklop vir die wêreld. Ons kan dan nie anders as om te ontdek dat ons gestuur is nie. Die omgekeerde is natuurlik ook waar. ’n Gestuurde gemeente kom gou agter dat ons niks kan doen as ons nie bid nie, want ons kan nie sonder die Boer, ons Vader (Joh 15:1, 51“Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. … 5Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.), in sy akker werk as ons nie by Hom hoor hoe, waar, wanneer, wie en wat nie.

Kerkgroei en gebed is daarom onafskeidbaar van mekaar, want die groei lê nie in ons hande nie. Dit lê in God se hande. God het gekies dat ons sy medewerkers moet wees. Ons roeping en verantwoordelikheid is om te getuig en te bid terwyl sy deel is om te oortuig en groei in sy Koninkryk te bewerkstellig.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook 1 Kor 3:1-9.

1 Kor 3:1-9
1Wat my betref, broers, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie, maar wel soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies, in •Christus. 2Ek het julle melk gegee om te drink, nie vaste kos nie, omdat julle nog nie daartoe in staat was nie. Selfs nou is julle nog nie daartoe in staat nie, 3want julle is steeds wêrelds. Waar daar onder julle afguns en onenigheid is, is julle dan nie wêrelds, en gedra julle julle dan nie soos wêreldse mense nie? 4Elke keer as een van julle sê, “Ek is van Paulus,” en ‘n ander, “Ek van Apollos,” is julle nie wêreldse mense nie? 5Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het. 6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei. 7Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei. 8Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. 9Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.

Ons het in Hand 1:8 gelees dat die krag van ’n gestuurde kerk lê in die dinamiese krag van God se Gees. Dit is Hy wat mense sal oortuig en stuur.
Waar kry jy dit? Net by Hom, biddend. Wanneer ’n gemeente dus bid vir die verlorenes, kom ons voor God in afhanklikheid en bely ons dat daar niks is wat ons kan doen nie, behalwe om te getuig en met ons hand in sy hand en met ons oor op sy bors voort te gaan.
Kom ons wees prakties: Wat bid ’n mens dan? Jy vra die Vader om hemelse afsprake met mense te reël – vir jou en vir die ander vir wie die Gees jou lei om voor te bid. Jy vra dat die Here jou oë en die oë van die ander gestuurdes sal oopmaak om geleenthede te sien; jy bid vir ’n wag voor jou mond, ’n hart wat oorloop van liefde, asook vir gesalfde lippe wat sal praat as instrumente van die Gees (Matt 10:19-20 19En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. 20Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.). Vra dan dat die Here soewerein sal werk wanneer jy of een van die ander gestuurdes getuig.
Ons is die plan: God gebruik sy Kerk om ’n verskil te maak. Gebed bring jou in God se troonsaal – daar waar jy sy ewige plan vir die wêreld kan sien en dankbaar en gehoorsaam daarop sal reageer. Aanbid Hom daarvoor en stort jou hart voor Hom uit (Ps 62:9 9Vertrou te alle tye op Hom, o volk, stort julle hart voor Hom uit. God is vir ons ‘n skuilplek. Sela).

Skryf / Vul in

Praat met God en as God met jou praat, skryf jou gewaarwordinge neer.


Week 4 Dag 20 Gebed is een van die belangrikste hoekstene vir getuienis
Week 4 Dag 20 Gebed is een van die belangrikste hoekstene vir getuienis
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 74 -76
Het jy toe al die -videos gekyk? Dis die moeite werd.

Wenk

WENK: Skryf drie wêrelddele waar daar min Christene is, op ’n stuk papier neer. Plaas dit in jou handsak of hempsak of plak dit teen die yskas. Gebruik elke geleentheid wat jy het om te bid dat die werkers daar, geleenthede sal kry om te kan getuig en dat hulle dit sal raaksien en gebruik.
(Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za

Week 4 Dag 19 -Kan gebed die wêreld verander? – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Week 4 Dag 19 God gebruik biddende mense om sy wil in die wereld uit te voer - 9 Weke van Transformasie Dr. Frans Hancke

Baie mense hou van toer. Kom ons neem ’n toer deur Handelinge en leer by die vroeë Kerk. God was besig om deur sy biddende Kerk, as instrumente in sy diens, die wêreld om hulle te verander.

Gebed

Stel jouself nou as biddende instrument in die lewende God se hande. Hoor sy plan met jou lewe (ook vir vandag spesifiek). Staan dan aan die einde van hierdie stiltetyd van jou knieë af op en gaan leef in biddende afhanklikheid as instrument van God wat die wêreld liefhet en wil red.

Lees die Skrif

Lees Hand 1:14; 2:42, 47; 6:1-7; 10:9, 19; 13:2-3; 14:23

Hand 1:14;
14Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.

Hand 2:42, 47;
42Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.

47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.

Hand 6:1-7;
61Maar in dié dae, toe die aantal dissipels al hoe meer geword het, het ‘n gemor onder die Helleniste teen die Hebreërs ontstaan omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien word. 2Die twaalf het daarop die hele groep dissipels bymekaargeroep en gesê: “Dit is nie goed dat ons die woord van God verwaarloos om by die tafels diens te verrig nie. 3Broers, soek dan sewe mans onder julle, van goeie getuienis en vol van die Gees en van wysheid, wat ons vir hierdie taak kan aanstel. 4En ons sal ons dan toelê op gebed en die bediening van die woord.” 5Die voorstel het by die hele groep byval gevind, en hulle het vir Stefanus, vol van geloof en die Heilige Gees, en ook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus, ‘n proseliet uit Antiogië, gekies. 6Hulle het hierdie manne aan die •apostels voorgestel, en die apostels het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê.

7En die woord van God het versprei en die aantal dissipels in Jerusalem het aansienlik vermeerder, en ‘n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword.

Hand 10:9, 19;
9Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. 

19Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. 

Hand 13:2-3;
2Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” 3Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur.

Hand 14:23
23Hulle het in elke •gemeente vir hulle ouderlinge aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Hand 9:31; Kol 4:2-4.

Hand 9:31;
31Die •kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem.

Kol 4:2-4
2Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid. 3Bid terselfdertyd ook vir ons, dat God vir ons ‘n deur vir die Woord sal oopsluit, om die misterie van •Christus te verkondig – dit waarvoor ek in boeie is – 4en bid dat ek dit met die regte woorde sal kan verduidelik. 

Skryf / Vul in

Wat hoor jy van God?


Dit is lekker om so ’n ietsie van ons broers en susters in die vroeë Kerk te leer. Dit is nog lekkerder om te weet dat die God wat hulle toe aanbid het, dieselfde God is wat ons vandag aanbid en dat Hy nie verander het nie! Ons kan na al die eeue steeds met Hom deur GEBED praat. Die vroeë Kerk het gebid en God het hulle gebruik om die wêreld te verander. Ek glo dat God vandag steeds die Kerk, vir my en jou wat glo en aan Hom behoort deur die bloed van sy Seun, wil gebruik om die wêreld te verander!

Ek wil ’n stelling maak deur te sê dat ’n gemeente se geestelike temperatuur bepaal word deur die leiers se gebedslewe, of dan: die afwesigheid daarvan! (Vgl weer Hand 6:2, 4.)

Skryf / Vul in

Dis só ’n radikale stelling dat ons nie kan aangaan voor jy nie gesê het hoe jy daaroor voel nie. Wees eerlik en sê sommer ook hoekom jy so voel.


Die leiers van ’n gemeente bepaal in groot mate hoe groot die deur oopgemaak word vir die toegang van die Heilige Gees in ’n gemeente. Wat ’n ongelooflike voorreg vir ’n leier, maar wat ’n groot verantwoordelikheid. In Matt 5:3(3“Gelukkig is die armes van gees,want aan hulle behoort die •koninkryk van die hemele.) leer Jesus ons dat sy kinders in afhanklikheid van God moet leef en daarom erken ’n biddende kerk dat sy niks het nie en ook niks is nie, maar dat God alles is. Dit gaan alles oor God.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Ps 104:27-30; 115:1; Matt 23:1-39; Luk17:1-3; Joh 15:5; Fil 4:13.

Ps 104:27-30;
27Hulle almal sien op na U
om vir hulle kos te gee op tyd.
28Gee U vir hulle, raap hulle dit op;
maak U u hand oop,
word hulle versadig met wat goed is.
29Verberg U u gesig,
is hulle angsbevange;
neem U hulle asem weg,
vergaan hulle en keer terug
na die stof wat hulle was.
30Stuur U u asem, word hulle geskape.
U gee die oppervlak van die grond
‘n nuwe voorkoms.

Ps 115:1;
1151Nie aan ons nie, Here,
nie aan ons nie,
maar aan u Naam kom die eer toe,
oor u troue liefde,
oor u bestendigheid.

Matt 23:1-39;

WAARSKUWING TEEN DIE SKRIFKENNERS EN FARISEËRS

(Mark 12:37-39; Luk 20:45-46)

231Toe het Jesus vir die skare en vir sy dissipels gesê: 2“Die skrifkenners en •Fariseërs sit op die stoel van Moses. 3Doen en onderhou dan alles wat hulle vir julle sê. Maar moenie doen wat hulle doen nie, want hulle praat net en doen nie. 4Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om met ‘n vinger aan die vrag te raak nie. 5Al hulle dade is bedoel om deur die mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels langer. 6Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die •sinagoges, 7om op die markpleine begroet en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word. 8Maar julle, julle moet julle nie as ‘rabbi’ laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. 9En moet niemand op aarde as julle ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is. 10Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die •Christus. 11Die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees. 12Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word.”

JESUS SE SEWE OORDELE

13“Wee julle, skrifkenners en •Fariseërs, skynheiliges! Want julle sluit die mense uit die •koninkryk van die hemele uit. Self gaan julle nie in nie, en boonop laat julle die mense wat probeer ingaan, nie toe om in te gaan nie.

15“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle deurkruis land en see om ‘n enkele proseliet te werf, en wanneer dit gebeur, maak julle hom ‘n kind van Gehenna, dubbel so erg as julleself.

16“Wee julle, blinde leiers! Julle sê, ‘Wie by die heiligdom van die •tempel sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die goud van die heiligdom, is gebonde.’ 17Dwase en blindes! Wat is belangriker, die goud of die heiligdom wat die goud heilig? 18Verder sê julle, ‘Wie by die altaar sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die offergawe daarop, is gebonde.’ 19Blindes! Wat is belangriker, die offergawe of die altaar wat die offergawe heilig? 20Wie dan sweer by die altaar, sweer daarby en by alles daarop. 21Wie sweer by die heiligdom, sweer daarby en by Hom wat dit bewoon. 22En wie by die hemel sweer, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.

23“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. 24Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in.

25“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. 26Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees.

27“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. 28So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid.

29“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. 30En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ 31Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. 32Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. 33Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug? 34Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle •sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg. 35So sal alle regverdige bloed wat op aarde vergiet is, vir julle toegereken word, van die bloed van Abel, die regverdige, tot by die bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle tussen die heiligdom en die altaar vermoor het. 36•Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag neerkom.”

JESUS SE KLAG OOR JERUSALEM

37“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. 38Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. 39Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê,

‘Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here.’ ”

Luk17:1-3;
1Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke kom, maar wee die een deur wie dit kom. 2Dit is beter vir hom dat ‘n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel. 3Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. 

Joh 15:5;
5Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. 

Fil 4:13.
13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. 

God het ’n plan vir sy Kerk (lees: my en jou) op ’n spesifieke plek, vir ’n spesifieke tyd. Ons kan nie vandag kerk wees soos 10 of 20 jaar gelede nie. Ons kan nie hier kerk wees soos ’n kerk op ’n ander plek kerk is nie. Daarom is dit noodsaaklik dat kerke moet bid, sodat hulle kan werk waar God nou werk. God soek nie ’n kerk met ’n gebedsaksie nie, Hy soek ’n biddende kerk, sodat hulle sy hart vir hulself en die wêreld rondom hulle kan hoor.

Skryf / Vul in

Skryf kortliks jou mening neer van die verskil tussen ’n kerk met ’n gebedsaksie en ’n biddende kerk .


’n Gemeente se basis vir enige geestelike (of praktiese) aktiwiteit, behoort
gebed te wees. Ek hoor so dikwels mense sê ons het nou alles probeer, al wat
ons nou kan doen is om te bid. So asof gebed ’n na-gedagte of laaste poging
is. Gebed moet die begin en alles van ʼn gelowige en ’n gemeente wees! Dit is
die asemhaling van ons (die kerk se) verhouding met God en wat ons ook al in
sy Naam en diens as instrumente wil of kan doen! In Hand 2:42 lees ons die
gemeente het hulle heelhartig toegelê op:

  • Die leer van die apostels.
  • Die onderlinge verbondenheid.
  • Die gemeenskaplike maaltyd.
  • Die gebede.

Dit is duidelik dat gebed ’n integrale deel van die daaglikse verhouding van gelowiges en die gemeente met God was. Die vroeë Kerk het die erns en noodsaaklikheid van kommunikasie met God besef. Hulle het besef dat die Kerk nie kan bestaan sonder om gereeld met die Hoof, Jesus, te praat nie. God wil hê dat ons sal bid (met Hom sal praat), want Hy het sy kerk aangestel as die verteenwoordigers van sy Koninkryk en Hy het die Goeie Nuus aan ons toevertrou. Só het Hy gekies.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook 1 Kor 4:1; Gen 1:27

1 Kor 4:1;
1Só moet mense ons beskou: as diensknegte van •Christus en as bedienaars van die verborgenhede van God.

Gen 1:27
27God het die mens geskep na sy beeld,
na die beeld van God
het Hy hom geskep,
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Lees die Skrif

Dit kan van tyd tot tyd gebeur dat daar struikelblokke in die Kerk van die Here se pad kom. Die eerste ding wat ’n kerk behoort te doen is om saam te bid. Tog werk dit in die praktyk dikwels andersom. Baie gemeentes word struikelblokke in God se pad, juis omdat hulle nie bid nie. Lees weer Jak 4:1-5 (:4); Hand 12:5, 12.

Jak 4:1-5 (:4);
1Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? 2Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. 3Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. 4Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. 5Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? 

Hand 12:5, 12.
5So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar ‘n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan.
12Met dié besef gaan hy toe na die huis van Maria, die moeder van Johannes, bekend as Markus, waar daar baie mense byeen was en gebid het. 

Skryf / Vul in

Verbeel jou dat jy een van Jesus se dissipels is; Hy het so pas opgevaar hemel toe en jou borrel het gebars. Hoe sou jy voel?


Ek dink hulle was erg verward. Wat doen hulle? Lees weer Hand 1:12-14(12Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, ‘n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem. 13Toe hulle daar aankom, het hulle opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het: •Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Thomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus, seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas, die seun van Jakobus. 14Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.).

Hulle bid. Die geheim van ’n groeiende gemeente, wat besef hulle is die plan, is dat hulle nie een tree beweeg voordat hulle nie eendragtig en volhardend saam gebid het en God se wil gehoor het nie. (Vgl Eks 33:12-16.12Moses het vir die Here gesê: “Kyk, U sê vir my, ‘Laat hierdie volk optrek,’ maar self maak U nie aan my bekend wie U saam met my sal stuur nie. U is die Een wat gesê het, ‘Ek ken jou by die naam, en jy het ook guns gevind in my oë.’ 13Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is.” 14Die Here het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee?” 15Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. 16Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie?”)

Jesus se dissipels het nie sommer die toekoms in gestorm en gemaak wat hulle goed dink nie. Hulle het die aangesig van God opgesoek en saam gebid.

Waar Christus se volgelinge in liefde en eensgesindheid bymekaar is en volkome aan Hom oorgegee is, sal die Heilige Gees se werk en vrug sigbaar teenwoordig wees. Miskien is die rede vir soveel kragteloosheid in die Kerk juis die feit dat gemeentes nie volhardend en eendragtig bid nie (2 Tim 3:5 5mense wat wel ‘n skyn van godvresendheid voorhou, maar wat die krag van godvresendheid misken. Bly weg van sulke mense. ).

As ’n mens die briewe van die apostels aan die gemeentes lees dan hoor jy by almal van hulle die belangrike oproep om te bid.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Ef 6:18-20; 1 Tess 5:17, 24; Jak 1:5-6; 1 Pet 4:7; Jud :20

Ef 6:18-20;
18By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges. 19Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak – 20hiervoor is ek ‘n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet.

1 Tess 5:17, 24;

17bid sonder ophou;

24Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.

Jak 1:5-6;
5As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 6Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word.

1 Pet 4:7;
7Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed.

Jud 1:20
20Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid,

Die voortbestaan van die Kerk van die Here Jesus Christus deur die eeue heen was gedra deur die gebede van die gelowiges. God wil dat die Kerk van Christus vandag ook kragtig sal voortgaan en ’n verskil in die wêreld maak, maar dan sal ons biddende gemeentes moet wees, wat sorg dat niks ons weghou van gebed nie.

Ons is die plan: Dit was nog altyd God se wil om deur gemeentes en gelowiges wat bid, die wêreld te verander. Jy is die Kerk van die Here. Jou gesin is die kleinste gemeente. Begin om daar te bid. Stel julle as gesin beskikbaar vir God om deur julle die omgewing te verander.

Skryf / Vul in

Praat met God en wanneer Hy met jou praat, skryf jou gewaarwordinge hieronder neer.


Week 4 Dag 19 God gebruik biddende mense om sy wil in die wereld uit te voer
Week 4 Dag 19 God gebruik biddende mense om sy wil in die wereld uit te voer
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 74 tot 76
Lees gerus: Eks 33:11-17; 1 Kron 29:10-15, 18; Jer 7; Eseg 13; 34.
Kyk gerus ook die -videos wat handel oor God se wonderwerkende ingrype in gemeenskappe waar die gelowiges as liggaam van Jesus Christus in eenheid en eensgesindheid begin saambid het. Dit kan by NUPSA bestel word.

Eks 33:11-17;
11Die Here het met Moses van aangesig tot aangesig gepraat, soos ‘n man met sy vriend praat. Dan het Moses teruggekeer na die kamp, maar sy helper, Josua, seun van Nun, ‘n jong man, het nie die tent verlaat nie.

GOD SE HEERLIKHEID
12Moses het vir die Here gesê: “Kyk, U sê vir my, ‘Laat hierdie volk optrek,’ maar self maak U nie aan my bekend wie U saam met my sal stuur nie. U is die Een wat gesê het, ‘Ek ken jou by die naam, en jy het ook guns gevind in my oë.’ 13Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is.” 14Die Here het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee?” 15Hy het vir die Here gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. 16Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie?” 17Die Here sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken.”

1 Kron 29:10-15, 18;
10Daarop het Dawid die Here ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys. Dawid het gesê:
“U moet geprys word, Here,
God van ons vader Israel,
van altyd af en vir ewig.
11Aan U, Here,
behoort die grootheid,
die sterkte, die luister,
die roem en die majesteit –
ja, alles in die hemel
en op die aarde.
Aan U, Here,
behoort die koningskap,
en U is as hoof verhewe bo alles.
12Rykdom en eer kom van U,
en U regeer oor alles.
In u hand is krag en sterkte,
en dit is in u hand om enigiemand
groot en sterk te maak.
13Daarom, ons God, prys ons U
en loof ons u luisterryke Naam.
14Want wie is ek,
en wie is my volk,
dat ons in staat is
om vrywillige gawes
soos hierdie te gee?
Ja, van U kom alles,
en uit u hand het ons dit
aan U gegee.
15Want •vreemdelinge is ons
voor U,
en bywoners, soos al ons voorouers.
Soos ‘n skaduwee
is ons dae op die aarde,
en daar is geen sekerheid nie.

18Here, God van ons voorvaders
Abraham, Isak en Israel,
bewaar dit vir ewig
as die gesindheid
van die gedagtes in die harte
van u volk.
Rig hulle harte op U,

Jer 7;
VALS VERTROUE OP DIE TEMPEL

71Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“Gaan staan by die poort van die huis van die Here. Roep hierdie woorde daar uit en sê, ‘Hoor die woord van die Here, die hele Juda wat by hierdie poorte ingaan om voor die Here in aanbidding te buig! 3So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Laat julle doen en late goed wees, sodat Ek julle in hierdie plek kan laat bly! 4Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here is dit!’ nie. 5As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, 6•vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, 7dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd. 8Kyk, julle bly julle vertroue stel op bedrieglike woorde wat niks baat nie.

9“ ‘ “Sal julle steel, moord pleeg, egbreuk pleeg, vals sweer, vir Baäl offers verbrand, agter ander gode aanloop vir wie julle nie ken nie, 10en dan inkom en in my teenwoordigheid kom staan in hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, en dan nog sê, ‘Ons is gered!’ sodat julle met hierdie afstootlike dinge kan voortgaan? 11Het hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, ‘n grot van struikrowers geword in julle oë? Ook Ek, kyk, Ek het dit gesien,” ’ is die uitspraak van die Here.

12“ ‘ “Ja, gaan gerus na my plek wat in Silo was, waar Ek vroeër my Naam laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk, Israel. 13Nou, omdat julle al hierdie dinge gedoen het,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “en Ek aanhoudend met julle gepraat het, maar julle nie geluister het nie, Ek julle geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, 14sal Ek met hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, die plek wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, doen wat Ek met Silo gedoen het. 15Ek sal julle wegwerp uit my teenwoordigheid, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, weggewerp het.” ’ ”

16“En jy, jy moenie vir hierdie volk bid nie; moenie vir hulle ‘n klaagroep, ‘n gebed opstuur nie, en moenie by My pleit nie. Want Ek sal glad nie na jou luister nie. 17Sien jy nie wat doen hulle in die dorpe van Juda en op die strate van Jerusalem nie? 18Die kinders maak hout bymekaar, en die pa’s steek die vuur aan. Die vroue knie deeg om offerkoeke gereed te kry vir die koningin van die hemel, en hulle giet drankoffers uit vir ander gode, net om My te tart. 19Tart hulle My?” is die uitspraak van die Here. “Tart hulle nie hulleself nie, sodat hulle beskaamd sal staan? 20Daarom,” so sê die Heer, die Here, “Kyk, my toorn en my woede sal uitbars teen hierdie plek, oor mens en dier, oor die bome van die veld en oor die opbrengs van die landerye. Dit sal brand en nie geblus word nie.”

21“ ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Julle •brandoffers, voeg dit by julle •maaltydoffers en eet vleis! 22Ja, Ek het nie, op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, met julle voorouers soseer gepraat of opdrag gegee oor brandoffers of maaltydoffers nie, 23maar eintlik hierdie saak aan hulle opgedra, ‘Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees! Loop die hele pad wat Ek julle beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.’ 24Maar hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle het voortgegaan met hulle eie planne, in die verstoktheid van hulle bose harte. Hulle het agteruit gegaan en nie vooruit nie. 25Vanaf die dag dat julle voorouers uit Egipteland getrek het tot vandag toe, het Ek aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur – dag vir dag. 26Maar hierdie volk het nie na My geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig en het hulle nog slegter gedra as hulle voorouers. 27Jy moet al hierdie woorde vir hulle sê, maar hulle sal nie na jou luister nie; jy moet hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. 28Dan moet jy vir hulle sê, ‘Dit is die nasie wat nie na die stem van die Here hulle God luister nie en teregwysing nie aanvaar nie. Betroubaarheid het verdwyn, dit is uitgewis uit hulle monde.’ ” ’ ”

29Sny jou lang hare af, Jerusalem,
en gooi dit weg!
Hef op die woestynpaaie ‘n klaaglied aan.
Want die Here het verwerp,
Hy het die geslag wat sy gramskap
opwek, prysgegee.

30“Ja, die nageslag van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë,” is die uitspraak van die Here. “Hulle het hulle verfoeilike afgode geplaas in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig. 31Hulle het die offerhoogtes van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om hulle seuns en dogters met vuur te verbrand – iets wat Ek nie beveel het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. 32Daarom, kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer daar nie meer gesê sal word ‘Tofet’ en ‘Ben-Hinnomdal’ nie, maar ‘Moorddal’. Hulle sal in Tofet mense begrawe vanweë ‘n gebrek aan plek. 33Die lyke van hierdie volk sal kos wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde, en niemand sal hulle verwilder nie. 34Ek sal in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem die geluid van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid uitdoof, want die land sal ‘n puinhoop word.

Eseg 13;
OORDEEL OOR VALS PROFETE

131Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat besig is om te profeteer. Sê vir die profete wat uit hulle eie harte praat, ‘Hoor die woord van die Here! 3So sê my Heer, die Here: “Wee die dwase profete wat hulle eie gees volg, maar niks gesien het nie. 4Soos jakkalse tussen puinhope het jou profete geword, Israel. 5Hulle het nie opgeklim na die bresse en ‘n klipmuur gepak ter verdediging van die huis van Israel, sodat hy staande kan bly in die stryd op die dag van die Here nie. 6Hulle visioene is vals, ‘n leuenagtige voorspelling, hulle wat telkens sê, ‘Dit is die uitspraak van die Here.’ Die Here het hulle egter nie gestuur nie. En dan wag hulle nog dat die woord vervul sal word! 7Het julle nie valse visioene gesien en ‘n leuenagtige godspraak gelewer toe julle gesê het, ‘Dit is die uitspraak van die Here,’ terwyl Ek nie iets aangekondig het nie?” 8Daarom, so sê my Heer, die Here: “Omdat julle valse uitsprake maak en bedrieglike visioene sien, daarom is dit nou Ek teen julle.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’

9“ ‘ “My hand sal gekeer wees teen die profete wat valse visioene sien en leuenagtige voorspellings maak. In die binnekring van my volk sal hulle nie wees nie, in die boek van die huis van Israel sal hulle nie opgeskryf word nie, en op die grond van Israel sal hulle nie kom nie. Julle sal besef dat Ek, die Heer, die Here, is, 10omdat, ja, omdat hulle my volk mislei het deur te sê, ‘Vrede!’ toe daar geen vrede was nie. Wanneer iemand ‘n klipmuur pak, kyk, dan pleister hulle dit met kalk. 11Sê vir hulle wat met kalk pleister, ‘Die muur gaan val!’ ‘n Geweldige stortreën kom, Ek sal groot haelstene gee, hulle sal val. ‘n Stormwind sal losbreek – 12en kyk, die muur het geval! Daar sal sekerlik vir julle gevra word, ‘Waar is die klei waarmee julle gepleister het?’ ” 13Daarom, so sê my Heer, die Here, “Ek laat ‘n stormwind losbreek in my woede; in my toorn sal stortreën val, ook groot haelstene met vernietigende venyn. 14Ek sal die muur wat julle met kalk gepleister het, afbreek en dit op die grond neergooi, sodat sy fondament ontbloot word. Dit sal val en julle sal daarin omkom. Julle sal besef dat Ek die Here is. 15Ek sal my woede laat uitwoed op die muur en op hulle wat dit met kalk pleister. Dan sal Ek vir julle sê, ‘Die muur is nie meer daar nie, en ook nie hulle wat dit pleister nie – 16daardie profete van Israel wat vir Jerusalem profeteer en vir haar visioene van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie.’ ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’

17“En jy, mensekind, rig jou tot die dogters van jou volk wat uit hulle eie harte profeteer. Profeteer teen hulle 18en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Ellende wag vir hulle wat towerbande maak vir almal se polse, en hoofbedekkings maak vir koppe van alle groottes, om so op lewens jag te maak. Sal julle op die lewens van my volk jag maak, maar julle eie lewens behou? 19Julle het my heiligheid aangetas by my volk, vir ‘n paar hande vol gars en ‘n paar stukkies brood, deur lewens te vernietig van mense wat nie moes sterf nie, en lewens te behou van mense wat nie moes bly leef nie, toe julle vir my volk wat na leuens luister, gelieg het.” 20Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek is teen julle towerbande waarmee julle daar in Jerusalem op lewens jag maak asof hulle voëls is. Ek sal dit van julle voorarms afskeur. Ek sal die lewens wat julle vang asof hulle voëls is, vrylaat. 21Ek sal julle hoofbedekkings afskeur en my volk red uit julle hand. Hulle sal nie meer as ‘n vangs in julle hand wees nie. Julle sal besef dat Ek die Here is. 22Omdat julle deur leuens die harte van regverdiges laat ineenkrimp, terwyl Ek hulle nie pyn wil aandoen nie, en omdat julle die hande van goddeloses sterk, sodat hulle hulle nie bekeer van hulle bose optrede en gevolglik bly leef nie – 23daarom: Valse visioene sal julle nie sien nie, en voorspellings sal julle nie meer maak nie. Ek sal my volk uit julle hand red. Julle sal besef dat Ek die Here is.” ’ ”

Eseg 34
TERUGKEER VAN GOD SE HEERLIKHEID

431Die man neem my toe na die poort, die poort wat oos front. 2En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het uit die ooste gekom! Die geluid daarvan was soos die geluid van baie water, en die aarde het gestraal van sy heerlikheid. 3Die visioen wat ek gesien het, was soos die visioen wat ek gesien het met sy koms om die stad te verwoes. Ja, die visioene was soos die visioen wat ek gesien het by die Kebarrivier. Ek het neergeval met my gesig teen die grond. 4Die heerlikheid van die Here het na die •tempel gekom deur die poort wat oos front. 5‘n Gees het my opgelig en my na die binneste voorhof geneem. Kyk, die heerlikheid van die Here het die tempel gevul!

6Terwyl die man langs my staan, het ek iemand met my hoor praat uit die tempel. 7Hy het vir my gesê: “Mensekind, dit is die plek van my troon, die plek vir my voetsole, waar Ek tussen die Israeliete sal woon, vir altyd. Die huis van Israel, hulle en hulle konings, sal nie weer my heilige Naam verontreinig met hulle hoerery, met die grafsuile van hulle konings wanneer hulle sterf nie. 8Toe hulle hulle drumpel teen my drumpel geplaas het, en hulle deurkosyn langs my deurkosyn, en daar net ‘n muur tussen My en hulle was, het hulle my heilige Naam verontreinig met die afstootlike dade wat hulle gedoen het, sodat Ek hulle in my toorn verteer het. 9Nou sal hulle hulle hoerery en die grafsuile van hulle konings ver van My af verwyder; en Ek sal tussen hulle woon, vir altyd.

10“Jy, mensekind, moet vir die huis van Israel die tempel beskryf, sodat hulle beskaamd kan staan oor hulle sondeskuld. Laat hulle ‘n model daarvan uitmeet. 11As hulle dan beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het, maak hulle vertroud met die sketsplan van die tempel, sy ontwerp, sy uitgange en ingange, al sy sketsplanne, al sy vaste voorskrifte, ja, al sy sketsplanne en al sy wette. Skryf dit voor hulle oë neer, sodat hulle al sy sketsplanne en al sy vaste voorskrifte sal bewaar en uitvoer.

12“Dit is die wet vir die tempel: Op die kruin van die berg is die hele gebied van die tempel reg rondom besonder heilig. Kyk, dit is die wet vir die tempel.”

VOORSKRIFTE VIR DIE ALTAAR
13“Dit is die afmetings van die altaar in el – elke el is ‘n el en ‘n handbreedte lank. Die voor is een el diep en een el breed, en die rand daarvan al langs die kant is rondom een span. Dit vorm dan die basis van die altaar. 14Vanaf die voor in die grond tot by die laer lys is dit twee el, en die lys is een el breed; en van hierdie smaller lys tot by die hoër lys is dit vier el. Die breedte van die hoër lys is een el. 15Die vuurmaakplek is vier el hoog, en uit die vuurmaakplek wys vier horings na bo. 16Die vuurmaakplek is twaalf el lank en twaalf el breed – vierkantig, gemeet aan sy vier kante. 17Die hoër lys is veertien el lank en veertien el breed, gemeet aan sy vier kante. Die rand rondom is ‘n halwe el, en die voor van die altaar is rondom een el diep. Die trappe front oos.”

18Die man het vir my gesê: “Mensekind, so sê my Heer, die Here, ‘Dit is die vaste voorskrifte vir die altaar, vir die dag wanneer dit opgerig is om •brandoffers daarop te bring en bloed daarteen te sprinkel: 19Gee vir die priesters, die Leviete uit die nageslag van Sadok wat na My mag nader kom om My te dien, ‘n jong bul as •reinigingsoffer.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. 20‘Neem van die bloed en smeer dit aan die vier horings, aan die vier hoeke van die lys en aan die rand rondom, en reinig die altaar deur daarvoor versoening te doen. 21Neem dan die bul vir die reinigingsoffer en verbrand hom in die aangewese deel van die tempel buite die heiligdom. 22Op die tweede dag moet jy ‘n bokram sonder gebrek as reinigingsoffer bring, en hulle moet die altaar daarmee reinig, soos hulle dit met die bul gereinig het. 23Wanneer jy klaar is met die reiniging, moet jy ‘n jong bul sonder gebrek en ‘n skaapram sonder gebrek uit die kleinvee naderbring. 24Bring hulle nader voor die Here. Die priesters moet sout op hulle gooi en hulle as brandoffer vir die Here offer. 25Sewe dae lank moet jy elke dag ‘n bokram offer as reinigingsoffer; en hulle moet ook ‘n jong bul en ‘n skaapram uit die kleinvee offer, diere sonder gebrek. 26Sewe dae lank moet hulle versoening doen vir die altaar en dit dan rein verklaar. So moet hulle dit wy. 27Nadat die dae verloop het, moet die priesters vanaf die agtste dag en daarna julle brandoffers en •maaltydoffers op die altaar bring, en Ek sal julle aanvaar.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.”

Wenk

WENK: Dink aan drie mense na aan jou wat jy weet die Here vandag nodig het. Bid nou vir hulle. Skryf hulle name op ’n kaartjie. Bêre dit op ’n veilige plek en wanneer jy deur die dag ’n kans kry, bid weer vir hulle.
(Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za

Week 4 Dag 18 – Soos Pa! – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Week 4 Dag 18 God het jou gemaak om Hom te verteenwoordig en sy beeld uit te dra - 9 Weke van Transformasie Dr. Frans Hancke

Voor jy Bybel lees, gaan kyk gou na jouself in die spieël

Wat het jy gesien?

Natuurlik die weerkaatsing van jou beeld. Het jy geweet dat God ook die weerkaatsing van sy beeld in jou geplaas het?

Maak vir ’n oomblik jou oë toe en sien jouself as klein kindjie op jou Pa se skoot klim. Kyk jou hemelse Vader in die oë en deel jou gevoelens eerlik met Hom – ook jou hartsbegeerte vir hierdie kosbare oomblikke op sy skoot

Luister na lied

Luister na snit 8 (ABBA VADER) op die ingeslote CD.

Johann Botes – Abba Vader

O Vader ek soek na u wil,
My siel wag op U
O Heer ek smag na U,
Hoor my roep, hoor my roep

O Here ek dors na u Woord,
My wese reik na U
Kom Vader ek wag op U,
Hoor my roep, hoor my roep

O Vader, Heer Jesus, Gees van God
Hoor my bid, ek smeek U o God
Abba Vader, Vader Heer, Abba Vader, Vader Heer

Christus Jesus, neem my hand,
Ek kom, ja ek kom
O Heer, hier is my hart,
Neem dit nou, neem dit nou

Lees die Skrif

Lees Gen 1:26-27.

Gen 1:26-27
26God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”

27God het die mens geskep na sy beeld,
na die beeld van God
het Hy hom geskep,
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Rom 8:29; Kol 3:10.

Rom 8:29;
29want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die •Eersgeborene onder baie broers kan wees;

Kol 3:101
0en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.

Skryf / Vul in

Waarom het God jou gemaak? Wat staan in Gen 1:26-27? Skryf die redes vir die skepping van die mens hier neer.

Gen 1:26-27

26God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”

27God het die mens geskep na sy beeld,
na die beeld van God
het Hy hom geskep,
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.


Die Ou Testament is in Hebreeus en hier en daar ook in Aramees, geskryf en in
hierdie gedeelte is daar veral drie belangrike woorde.

Tselem” wat vertaal kan word as skaduwee of illusie en wat in die Nuwe
Vertaling vertaal word as verteenwoordiger . Die doel waarom God mense
gemaak het, is sodat hulle as ’t ware sy skaduwee in die wêreld kan wees. Dit
beteken dat ons God in hierdie wêreld deur ons lewens sigbaar teenwoordig
moet maak – dit is tog wat verTEENWOORDIG beteken.

Demuwth” beteken soos , of om te vergelyk en word in die meeste
vertalings, vertaal met beeld van God . Sonde het hierdie beeld van God in
mense afgebreek, maar Jesus het dit kom herstel en die Heilige Gees is tans
besig met die daaglikse voortgaande herstelproses (Kol 3:10).

Kol 3:10
10en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.

Radah” beteken om te heers . Die wêreld het die geneigdheid om mense te
oorheers. Mense is oral in verslawing vasgevang. God se plan is dat die mens
oor die aarde moet heers, nie die aarde (ingesluit die wêreld met sy
versoekings en misleidings) oor ons nie (Gal 5:1).

Gal 5:1
51Vryheid is waarvoor •Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder ‘n juk van slawerny indwing nie!

Nou wat het dit alles met gebed uit te waai? Ek is bly jy vra die vraag. Wat het
die feit dat ek God se verteenwoordiger is, dat ek na sy beeld geskape is en dat
ek moet heers, met gebed te doen?

Skryf / Vul in

Ek gee jou ’n paar minute om daaroor te dink. Skryf jou gedagtes neer.


As gelowiges glo ons dat Jesus ons posisie kom herstel het en dat die Heilige Gees ons deur geloof in Jesus Christus, kinders van God maak. Met ander woorde: Ons raak deel van die familie van God. God se besigheid is mense. Hy het hulle so lief gehad dat Hy sy Seun gestuur het om hulle (ons!) te kom versoen met Hom. God se besigheid is om mense wat seer het en swaarkry aan te raak. God se besigheid is om hulle wat weggedwaal het, te vind. God se besigheid is om hulle wat nog nooit gehoor het nie, in kennis te stel van sy verlossing.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Rom 8:15-17;Rom 10:13-15; Ef 1:4-5.

Rom 8:15-17;
15Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” 16Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. 17Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Rom 10:13-15;
13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”
14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? 15En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”

Ef 1:4-5
4So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies,
sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees,
5nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem,
soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het,

As dit God se besigheid is en God is ons Vader en ons dra ons Vader se belange op die hart, dan is ons betrokke in ’n familiebesigheid en bedryf ons as kind van God ’n familiesaak, waarin dit nodig is om baie met die Hoof, ons Vader, te praat. Daarom is gebed noodsaaklik.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: As jy meer wil weet van God se besigheid, lees gerus Luk 4:16-19; Luk 19:10;Luk 24:46-48.

Luk 4:16-19;
16Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die •sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, 17is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan:
18“Die Gees van die Here is op My,
omdat Hy My gesalf het
om die goeie boodskap
aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word,
en vir blindes dat hulle weer sal sien,
om onderdruktes te bevry,
19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Luk 19:10;
10Die •Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.”

Luk 24:46-48
46en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin, 48en getuies van hierdie dinge wees. 

Ek dink as jy eerlik moet wees, dan sal jy moet erken dat in die wêreld waarin ons vandag leef, bitter min van God sigbaar is. Die wêreld gaan net aan asof God nie bestaan nie. Tog vra mense diep in hul harte die vraag: “Waar is God?” (Ps 42; 43; 73).

Ps 42;

421Vir die •musiekleier. ‘n Maskiel. Van die Koragiete.
2Soos ‘n wildsbok
wat smag na waterstrome,
so smag my siel na U, o God.
3My siel dors na God,
na die lewende God.
Wanneer kan ek in die •tempel ingaan
en voor God verskyn?
4Trane is dag en nag my brood,
omdat daar die hele dag lank
vir my gevra word:
“Waar is jou God?”
5Hieraan moet ek dink
terwyl ek my hart uitstort,
hoe ek optrek in ‘n magtige skare,
hoe ek voor hulle uit gaan
na die huis van God,
met luide jubelkrete
en dankliedere –
‘n feesvierende menigte.
6Waarom kwyn jy weg, my siel,
en is jy so onrustig in my?
Hoop op God,
want ek sal Hom weer prys
vir die verlossing
wat sy teenwoordigheid bring.
7My God!
My siel kwyn weg in my,
daarom dink ek aan U
hier uit die Jordaanstreek
en by die Hermonberge,
hier van berg Misar af.
8Die diep water laat die geluid
van u watervalle weergalm.
Al u deinings en golwe
het oor my gespoel.
9Bedags sal die Here
sy troue liefde laat geld,
en snags sal ‘n lied vir Hom
by my opkom,
‘n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My rotsvesting,
waarom het U my vergeet,
waarom moet ek in rouklere loop
oor die verdrukking deur ‘n vyand?”
11Dit sny tot op die been,
as my teenstanders my tart
deur die hele dag lank vir my te vra:
“Waar is jou God?”
12Waarom kwyn jy weg, my siel,
en is jy so onrustig in my?
Hoop op God, want ek sal Hom,
my God, weer prys vir die
verlossing wat Hy, my God,
deur sy teenwoordigheid bring.

Ps 43;

431Handhaaf my reg, o God,
en verdedig my saak
teen ‘n ontroue nasie;
bevry my van mense
wat bedrog en onreg pleeg.
2U is immers die God by wie
ek toevlug soek.
Waarom verwerp U my dan;
waarom moet ek in rouklere loop
oor die verdrukking deur ‘n vyand?
3Stuur u lig en u waarheid;
laat dit my lei, my bring
na u •heilige berg
en na u woonplek,
4sodat ek kan ingaan
na die altaar van God,
na die God wat my
van blydskap laat jubel,
en sodat ek U, o God, my God,
kan prys met ‘n lier.
5Waarom kwyn jy weg, my siel,
en is jy so onrustig in my?
Hoop op God, want ek sal Hom,
my God, weer dank vir die
verlossing wat Hy, my God,
deur sy teenwoordigheid bring.

Ps 73

731‘n Psalm. Van Asaf.
God is waarlik vir Israel goed,
vir hulle wat rein harte het.
2Maar ek, my voete het amper gegly
my treë was amper wankelrig.
3Want ek het verwaande mense beny;
ek het die voorspoed
van goddeloses gesien.
4Hulle het immers tot hulle dood
geen sorge nie;
en hulle liggame is vet.
5Aan die sorge van sterflinge
het hulle nie deel nie,
en hulle word nie geteister
saam met gewone mense nie.
6Daarom versier hoogmoed
hulle nekke,
bedek ‘n kleed van geweld hulle.
7Van vet peul hulle oë uit,
die versinsels van hulle hart
oorskry alle perke.
8Smalend onderhandel hulle
met bose bedoelings;
uit die hoogte dreig hulle
met afpersing.
9Hulle rek hulle monde teen die hemel,
en laat hulle tonge gaan oor die aarde.
10Daarom draai sy volk hierheen.
Wie vol is,
word deur hulle uitgepers,
11en hulle sê:
“Hoe sal God dit weet?
Is daar dan kennis by die Allerhoogste?”
12Kyk, dit is hoe goddeloses is:
Immer sorgeloos vermeerder hulle
hulle rykdom.
13Ja, tevergeefs het ek my hart
rein gehou
en my hande in onskuld gewas.
14Ek is die hele dag geteister;
my kastyding was elke oggend
opnuut daar.
15As ek sou dink,
ek wil soos hulle praat,
kyk, dan sou ek ontrou wees
aan die nageslag van u kinders.
16Ek het toe probeer om dit te verstaan,
maar het dit as vermoeiend beskou,
17totdat ek in die heiligdom
van God ingegaan het.
Ek het insig gekry in hulle uiteinde.
18Waarlik, U laat hulle
op gladde plekke beland,
U bring hulle tot ‘n val
oor hulle geknoei.
19Hoe word hulle in ‘n oogwink
‘n skrikbeeld,
hoe kom hulle volledig tot ‘n einde
deur verskrikking!
20Asof dit ‘n droom is
waaruit mens wakker word,
verag U hulle beeld, my Heer,
wanneer U ontwaak.
21Toe my hart verbitterd was
en my niere gepyn het,
22was ek dom en sonder begrip;
ek was ‘n dier teenoor U.
23En tog was ek altyd by U;
U het my regterhand vasgehou.
24Deur die raad wat U gee, lei U my,
en daarna neem U my eervol weg.
25Wie is daar vir my in die hemel?
As ek by U is,
begeer ek niks op aarde nie.
26My liggaam en my hart
kan maar wegkwyn,
God is die rots van my hart
en my erfdeel vir altyd.
27Want kyk, dié wat ver
van U af is, gaan ten gronde;
U vernietig dié wat aan U ontrou is.
28Maar wat my betref,
die nabyheid van God is vir my goed.
Ek het my Heer, die Here,
my skuilplek gemaak,
sodat ek van al u werk kan vertel.


Stel jou voor êrens in die hemel is ’n groot skatkamer. Jy staan buite die skatkamer met jou neus platgedruk teen die venster, jou hand bo jou oë sodat jy beter kan sien. In die skatkamer is dit wat die wêreld nodig het. Genade, liefde, vergifnis, vrede, genesing, verligting, redding, noem maar op – dit is daar. Rakke en rakke vol. Jou hart krimp ineen: “Dit is daar, maar ek kan nie inkom nie.” Net toe kom ’n engel aan. “Dit is alles wat die wêreld nodig het.” sê jy hartseer. Dan hoor jy die engel vra: “Wil jy ingaan en dit gaan haal?” “Natuurlik,” antwoord jy opgewonde, “maar die deur is gesluit,” sê jy moedeloos. “Ek sal jou die kode gee, dan kan jy dit gaan haal en dit vir die wêreld gee, want jy is mos die Vader se verteenwoordiger.” “Gee vir my die kode asseblief.” sê jy opgewonde. “Die kode is G-E-B-E-D,” sê die engel…

Voordat jy God se plan aan die wêreld kan gaan vertel, begin dit by Hóm. Jy hoor die strategie, jy hoor waar, wanneer en hoe, by Hom. Daar is voortdurende kommunikasie en stelselmatig sal God sy plan aan jou openbaar, sodat jy sy verteenwoordiger in die wêreld kan wees. Kan ’n mens so arrogant (dom?) wees om God se verteenwoordiger te wil wees, sonder om Hom deel te maak van jou lewe en gedurig met Hom te praat oor sy wil vir jou en die wêreld?

Ons is die plan: Onthou, God vertrou mense om sy verteenwoordigers in die wêreld te wees. Gebed is een manier om God se plan vir jou en die wêreld te hoor.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook 2 Kor 5:14-6:1.

2 Kor 5:14-6:1
14Die liefde van •Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; 15en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is.

16Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. 17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. 18En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. 19Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. 20Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! 21Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

61As medewerkers van God doen ons ‘n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie!

Skryf / Vul in

Praat met God en as jy daarvan bewus raak dat God met jou praat, skryf jou gewaarwordinge van sy wil neer.


Week 4 Dag 18 God het jou gemaak om Hom te verteenwoordig en sy beeld uit te dra
Week 4 Dag 18 God het jou gemaak om Hom te verteenwoordig en sy beeld uit te dra
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 74-76
Lees gerus ook Jes 60:1-4; Matt 5:16.

Jes 60:1-4;
601“Staan op, laat jou lig skyn!
Ja, jou lig het gekom,
en die heerlikheid van die Here
skyn oor jou.
2Ja, kyk, donkerte bedek die aarde,
en diepe duisternis die volke;
maar oor jou skyn die Here,
en oor jou word sy heerlikheid sigbaar.
3Nasies sal na jou lig trek,
en konings na die helder lig
van jou sonsopkoms.
4Kyk om jou rond en neem waar:
Hulle almal kom byeen,
hulle kom na jou toe.
Jou seuns – van ver af kom hulle aan;
en jou dogters – op die heup
word hulle gedra.

Matt 5:16
16“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

Wenk

WENK: Dink wat beteken die Engelse spreekwoord: “you must talk to God about people before you can talk to people about God” in die praktyk. Praat met Hom… en dan verteenwoordig jy Hom in en deur jou lewe!

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za

Week 4 Dag 17 – Intiem met God – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Week 4 Dag 17 Deur gebed laat God ons toe om 'n intieme - 9 Weke van Transformasie Dr. Frans Hanckeliefdesverhouding met Hom te he - 9 Weke van Transformasie Dr. Frans Hancke

Wanneer twee mense mekaar diep in die oë kyk en diep dinge met mekaar wil deel, dan doen hulle dit nie tussen ander mense of waar daar ’n klomp geraas of aandag-aftrekkers is nie. Skakel vir ’n oomblik jou selfoon, TV, radio (alle aandag-aftrekkers) af en konsentreer doelbewus net op God.

Lees die Skrif

Op ’n dag stap ’n wetgeleerde (met ander woorde, ’n Skrifgeleerde – soos ’n Fariseër) na Jesus toe en vra Hom een van die belangrikste vrae wat enige iemand Jesus ooit kan vra. Lees dr Lukas se weergawe van die gebeure in Luk 10:25-27, asook Matt 22:34-40.

Luk 10:25-27
25En kyk, ‘n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” 26Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” 27Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

Matt 22:34-40
34Toe die •Fariseërs hoor dat Hy die •Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. 35Een van hulle, ‘n wetskenner, het vervolgens ‘n vraag gestel om Hom te toets: 36“Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” 37Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ 38Dit is die belangrikste en die eerste gebod. 39En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete.”

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Deut 6:1-9

Deut 6:1-9

61“Dit dan is die gebod, die vaste voorskrifte en beslissings wat die Here julle God my beveel het om julle te leer, dat julle dit kan uitleef in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem – 2sodat jy ontsag mag hê vir die Here jou God, deur al sy vaste voorskrifte en gebooie wat ek jou beveel, na te kom so lank jy leef, jy en jou kinders en jou kleinkinders, en sodat jy ‘n lang lewe mag hê. 3Jy moet luister, Israel; kom dit nougeset na dat dit met jou goed mag gaan en dat julle baie meer mag word soos wat die Here die God van jou voorouers jou beloof het – ‘n land wat oorloop van melk en heuning.”

DIENS AAN DIE HERE ALLEEN

4“Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. 5Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. 6En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. 7Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 8Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.

Skryf / Vul in

Skryf die gedagte neer wat in beide hierdie Skrifgedeeltes uitstaan. Skryf ook die woord neer wat God se hartklop die beste beskryf.


Dit is God se wil (begeerte) dat daar ’n verhouding tussen Hom en die mens sal wees. Nie net ’n gewone verhouding nie, maar ’n liefdesverhouding. Die Griekse woord vir God se liefde, agape , sou ook vertaal kon word as liefde met ’n respons / antwoord ; of as liefde wat daarom net in ’n verhouding kan bestaan ! Wat dink jy is nodig om ’n liefdesverhouding te laat werk?


’n Mens kan sekerlik baie goeie antwoorde gee, soos liefde, respek, vertroue, ens, maar ek dink om te praat en om tyd met mekaar te spandeer, is die belangrikste.

DIE BYBEL vertel van God se hartsbegeerte. Die storielyn van die Bybel is een van God wat met sy mense ’n liefdespad loop (soms sluit dit tug vir hul sonde in, maar altyd uit liefde – vgl Heb 12:4-13).

Heb 12:4-13
4Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. 5En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet:

“My seun, moenie die dissiplinering
van die Here geringskat nie,
en moenie moedeloos word
wanneer jy deur Hom bestraf word nie;
6want die een vir wie die Here
liefhet, tug Hy,
en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.”

7Verdra dit as tugtiging, want God behandel julle as sy seuns. Want watter seun word nie deur sy vader getug nie? 8Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel gehad het, dan is julle oneg, en nie egte seuns nie. 9Verder, ons het tog ons aardse vaders gehad, wat ons getug het, en ons het hulle gerespekteer. Sal ons ons nie baie eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en leef nie? 10Want hulle het ons vir ‘n kort rukkie getug volgens dit wat vir hulle reg gelyk het, maar Hy tot ons beswil, sodat ons deel kan kry aan sy heiligheid. 11Op die oomblik lyk elke tugtiging wel nie of dit blydskap bring nie, maar droefheid. Later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is: ‘n vrug van •geregtigheid.

12Daarom, tel op die slap hande en die lam knieë, 13en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond kan word.

Die Bybel vertel van ’n liefdevolle God wat met mense, wat beperk is deur sonde, ’n lewenslange pad loop.

Skryf / Vul in

Onthou jy nog Joh 3:16? Dit is seker een van die bekendste versies wat ons in die Sondagskool geleer het. Onthou jy dit nog? Lees dit nou en neem tyd om weer met God hieroor te praat. Vra die Here om jou te help om opnuut die inhoud en betekenis van sy liefde vir jou te verstaan. Indien jy iets ontdek, of beleef het, skryf dit neer.

Joh 3:16
16Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.


Kan jy jou indink hoe ’n verhouding tussen ’n man en ’n meisie kan ontwikkel as hulle nooit tyd met mekaar spandeer of met mekaar praat nie. So ’n verhouding is doodgebore. Mense wat mekaar liefhet en vir mekaar omgee, geniet tye saam, hulle gesels met mekaar en ontwikkel so die verhouding.

Dit kan tog nie anders wees in jou verhouding met God nie. Daarom, as jou kommunikasie met God goed is, sal jou verhouding met Hom goed wees, anders sal jy God wil vermy of vir hom wil wegkruip soos Adam en Eva van ouds. Hoe lyk jou verhouding met God (eerlik)?

God het dit van die begin af in gedagte gehad dat daar meer as ’n baas-slaaf verhouding tussen Hom en mense moet wees. In Gen 3:8-9(8Hulle hoor toe die geluid van die Here God wat in die tuin rondstap in die middagkoelte. Die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”) lees ons dat God in die paradys gewandel het, op soek na Adam en Eva. Waarom? Net om na hulle te kyk? Nee, God het vir Adam en Eva gaan soek, omdat Hy met hulle wou praat en tyd met hulle wou spandeer. Sonde in hul lewe het egter gemaak dat hulle vir God weggekruip het. Dwarsdeur die Bybel maak God Hom aan mense bekend, praat Hy met mense en laat Hy mense toe om met Hom te praat. Dit het nie verander nie. God het nie verander nie! Dankie, Vader! Soli Deo Gloria ! (Dit beteken: Aan God alleen al die eer!)

Ons lees in Matt 7:21-23 …
21“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. 22Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ 23Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ”

… dat mense wat in God se Koninkryk toegelaat word, mense is wat Hom kén.
Dit beteken nie dat jy net (kop-) kennis van God moet dra nie, of dat God net ’n kennis van jou wil wees nie. Nee, al het jy gepreek, of selfs wonders gedoen, beïndruk dit God nie. Die Woord is duidelik: Daar moet ʼn intieme (verhoudings-) kennis wees. Die woord wat hier met ken vertaal word, is die Griekse woord “ginoosko , wat beteken om iemand te leer ken deur ’n persoonlike ervaring . Dit is nie genoeg om maar net van God te weet nie. ’n Intieme, persoonlike verhouding wat groei uit liefdeskennis, is nodig. Dit word onder andere deur gebed moontlik gemaak.

Doen daarom moeite om tyd met God te spandeer. Soos in enige verhouding, kom intieme liefdeskennis nie vanself nie. Om die wonder van die intieme nabyheid van God te beleef, vra besliste daad-keuses vir God. Dit vra tyd, energie en soms harde werk, maar glo my, dit is die moeite werd!

Ons is die plan: God het van die begin af mense hoog geag, liefgehad en gebruik om ander van Hom te vertel. (Jes 43:4, 10-12 en in Jes 49:3 hoor ons die voorreg wat God ons gee as instrumente in sy hand.) Gebed maak dat jy hoor en ervaar hoe kosbaar jy en ander vir God is.

Jes 43:4, 10-12
4Omdat jy kosbaar is in my oë,
geëer is,
omdat Ek die Een is wat jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.

10“Julle is my getuies,”
is die uitspraak van die Here,
“my dienskneg wat Ek uitgekies het,
sodat julle My kan ken,
in My kan glo,
en kan insien dat dit Ek is.
Voor My is daar nie ‘n god gevorm nie,
en ná My sal daar nie een wees nie.
11Ek, ja, Ek is die Here,
en daar is geen verlosser
buiten My nie.
12Ek is die Een
wat dit bekend gemaak het;
Ek het verlos
en dit aangekondig –
Ek, nie ‘n vreemde onder julle nie.
En julle is my getuies,”
is die uitspraak van die Here,
“dat Ek God is.

Jes 49:3
3Hy het vir my gesê:
“Jy is my dienskneg, Israel,
deur wie Ek my heerlikheid toon.”

Luister na lied

Luister na snit 7 ( op die ingeslote CD.)

Johann Botes – Ek wil dit se

Daar is iets wat ek vir U wil sê vandag
Daar is iets wat op my hart is Heer
Daar is iets hier binne my wat my woorde moet bevry
Ek wil dit sê

Daar is iets wat ek vir U wil sê vandag
Dit broei so diep hier binne my
Daar is iets wat ek moet deel, dis net vir my te veel
Ek moet dit sê

Ek is lief vir U, hoor my lied o Heer
Ek is lief vir U, elke dag meer en meer
Ek is lief vir U, hoor my lied o Heer
Ek is lief vir U, ek is lief vir U, o Heer

Daar is iets wat ek vir U wil sê vandag
My hart sê dankie keer op keer
My woorde is te min om dank aan U te bring
Maar ek wil dit sê

Daar is iets wat ek vir U wil sê vandag
Daar is soveel dinge wat U gee
My gedagtes word deurdrenk, al die liefde wat U skenk
Laat my dit sê

Skryf / Vul in

Praat met God en skryf jou gewaarwordinge van Hom hier neer.


Week 4 Dag 17 Deur gebed laat God ons toe om 'n intieme liefdesverhouding met Hom te he
Week 4 Dag 17 Deur gebed laat God ons toe om ‘n intieme liefdesverhouding met Hom te he
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 74 -76
Lees gerus ook Deut 6:4-9; 32:10-12; 1 Sam 15:22; Hos 2:13-22; Sag 2:8; Joh 3:16-17; 1 Joh 5:1-3.

Deut 6:4-9;
4“Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. 5Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. 6En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. 7Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 8Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.

Deut 32:10-12;
10Hy het sy volk
in ‘n woestynland gevind,
in ‘n onherbergsame streek
met die wildernis se gehuil.
Hy het hom omring, hom versorg,
hom beskerm soos die appel
van sy oog.
11Soos ‘n arend sy neskuiken aanspoor,
bo sy jong kuiken fladder,
sy vlerke oopsprei en hom vang,
hom op sy penvere dra,
12het net die Here hom gelei;
daar was geen vreemde god
by hom nie.

1 Sam 15:22;
22Daarop het Samuel geantwoord:
“Is daar vir die Here vreugde
in •brandoffers en •maaltydoffers,
soos in gehoorsaamheid
aan die stem van die Here?
Kyk, om gehoorsaam te wees
is beter as maaltydoffers,
om te luister
beter as die vet van ramme.

Hos 2:13-22;

BELOFTE VAN ‘N NUWE VERHOUDING

13“Daarom, kyk,
Ek gaan haar oorhaal,
haar na die woestyn laat gaan,
en mooi met haar praat.
14Ek sal daarna haar wingerde
vir haar teruggee,
en die vallei van Agor
as ‘n poort van hoop.
Daar sal sy antwoord
soos in haar jong dae,
soos in die tyd toe sy
uit Egipteland opgetrek het.

15“Op daardie dag,”
is die uitspraak van die Here,
“sal jy My noem, ‘my Man’.
Jy sal My nie weer ‘my Baäl’ noem nie.
16Ek sal die name van die Baäls
uit haar mond verwyder;
hulle name sal nie weer in herinnering
geroep word nie.

17“Ek sal op daardie dag
vir hulle ‘n verbond sluit
met die diere van die veld,
die voëls van die hemel,
en die diere wat op die grond kruip.
Boog en swaard en oorlogstuig
sal Ek in die land stukkend breek;
Ek sal sorg dat hulle veilig gaan slaap.

18“Ek gaan My vir altyd
aan jou verloof;
Ek gaan My aan jou verloof,
met reg en geregtigheid,
met troue liefde en ontferming
as bruidsprys.
19Ek gaan My in trou aan jou verloof,
en jy sal die Here erken.

20“Op daardie dag sal Ek antwoord,”
is die uitspraak van die Here.
“Ek sal die hemel antwoord,
en dit sal die aarde antwoord;
21die aarde sal die koring,
die nuwe wyn en olie antwoord,
en hulle sal Jisreël antwoord.

22“Ek gaan haar vir my
in die land saai.
Ek sal my ontferm oor Lo-Rugama,
en vir Lo-Ammi sal Ek sê,
‘Jy is my volk,’
en hy sal sê, ‘my God.’ ”

Sag 2:8;
8Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, wat my ter wille van sy heerlikheid gestuur het na die nasies deur wie julle uitgebuit is: “Waarlik, wie aan julle vat, vat aan die appel van my oog. 

Joh 3:16-17;
16Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 17God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. 

1 Joh 5:1-35
1Elkeen wat glo dat Jesus die •Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. 2Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. 3Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie

Wenk

WENK: Dink aan maniere hoe jy vandag aan God liefde kan bewys. Skryf dit op ’n kaartjie. Plaas dit in jou handsak of hempsak of plak dit teen die yskas. Bewys aan Hom liefde, Hy is dit waardig!
(Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat
uitgeskeur kan word.
)

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za

Week 4 Dag 16 – Tweerigting Kommunikasie? – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Week 4 Dag 16 Gebed is - 9 Weke van Transformasie Dr. Frans Hancke

Rosalind Rinker het ’n boek geskryf met die titel Gebed, ’n gesprek met God, waarin sy die waarheid beklemtoon dat gebed tweerigting kommunikasie is.

Daar is tye wanneer ons sommer so in die loop of terwyl ons in die motor ry, met God gesels. ’n Lewe van gebed is waar my gesprek met God verder strek as net my binnekamer of die erediens. Dit loop uit op ’n antwoord, op dit wat ek van God gehoor het en vorm ’n integrale deel van my daaglikse lewe en verhoudings.

Gebed

Nou is dit een van daardie tye wanneer dit nodig is om stil te word, jouself af te sonder in die teenwoordigheid van die lewende God en met Hom te praat oor sy wil vir jou lewe. Dit beteken ook dat jy by tye sal stilbly en Hom sal toelaat om ook met jou te praat…

Lees die Skrif

Lees Luk 11:1-13

GEBED

111Op ‘n keer het Jesus op ‘n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het.”

2Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê,
“ ‘Vader, laat u Naam
geheilig word.
Laat u •koninkryk kom.
3Gee ons elke dag
ons daaglikse brood
4en vergeef ons ons sondes;
want ook ons vergeef elkeen
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie
in versoeking nie.’ ”

5Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het ‘n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, 6want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ 8Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. 9Ek sê vir julle:

“Vra, en vir julle sal gegee word;
soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle
sal oopgemaak word.
10Want elkeen wat vra, ontvang;
en wie soek, vind;
en vir wie klop, sal oopgemaak word.

11“Watter vader onder julle sal, as sy seun hom ‘n vis vra, hom ‘n slang in plaas van ‘n vis gee? 12Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook enkele gebede in die Psalms, bv. Ps 16; Ps 51; Ps 130; Ps 131

Ps 16;

161‘n Miktaam. Van Dawid.
Beskerm my, o God,
want by U skuil ek.
2Ek het vir die Here gesê:
“U is my Heer;
buiten U is daar vir my niks goeds nie.”
3Wat die heiliges in die land betref,
ja, die magtiges,
by wie ek al my vreugde gevind het:
4Wie hulle na ander gode haas,
vererger hulle smart.
Ek sal nie vir hulle •drankoffers
van bloed uitgiet nie,
en ek sal nie hulle name
op my lippe neem nie.
5Here, my erfdeel, my beker,
U bepaal my lot.
6Die meetsnoere het vir my
in lieflike plekke geval,
ja, my erfenis is vir my mooi.
7Ek sal die Here prys
wat my raad gegee het,
selfs in die nag wys my hart my tereg.
8Ek hou die Here altyd voor oë;
omdat Hy aan my regterkant is,
sal ek nie struikel nie.
9Daarom is my hart bly
en juig my binneste;
ja, my liggaam bly veilig,
10want U sal my lewe
nie aan die •doderyk oorlewer nie;
U sal nie toelaat dat u getroue
volgeling die graf sien nie.
11U wys my die pad van die lewe:
oorvloedige vreugde
in u teenwoordigheid,
lieflikhede in u regterhand, vir altyd.

Ps 51;

511Vir die •musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. 2Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het.

3Wees my genadig, o God,
volgens u troue liefde;
wis my oortredings uit
volgens u groot ontferming.
4Was my heeltemal skoon van my sondeskuld
en reinig my van my sonde
5want ek is deeglik bewus
van my oortredings
en my sonde is voortdurend voor my.
6Teen U, teen U alleen, het ek gesondig
en gedoen wat verkeerd is in u oë,
sodat U gelyk sal hê
as U uitspraak lewer,
volkome reg wanneer U oordeel.
7Kyk, in sondeskuld is ek gebore,
sondig toe my moeder
met my swanger geraak het.
8Kyk, getrouheid verwag u reeds
in die moederskoot,
in die verborgenheid leer U my wysheid.
9Neem my sonde weg met marjolein
sodat ek rein kan wees,
was my, dan sal ek witter as sneeu wees.
10Laat my weer uitroepe
van vreugde en blydskap hoor;
laat die gebeente
wat U verbrysel het, juig.
11Sluit u oë vir my sonde,
en al my sondeskuld, wis dit uit!
12Skep ‘n rein hart vir my, o God,
vernuwe ‘n bestendige gees
in my binneste.
13Moet my tog nie wegdryf
uit u teenwoordigheid nie;
en moet u •heilige Gees
nie van my wegneem nie.
14Laat my weer die vreugde
oor u verlossing ervaar,
laat ‘n gewillige gees my ondersteun.
15Ek wil oortreders u paaie leer,
dat sondaars na U kan terugkeer.
16Red my van bloedskuld, o God,
God wat my verlos, laat my tong
juig oor u geregtigheid.
17My Heer, maak my lippe oop
en my mond sal u lof verkondig.
18U vind immers geen vreugde
in slagoffers nie,
anders sou ek dit gee;
•brandoffers aanvaar U nie.
19Offers aan God is ‘n gebroke gees,
‘n gebroke en verpletterde hart
sal U, o God, nie minag nie.
20Doen volgens u wil goed aan Sion,
herbou die mure van Jerusalem.
21Dan sal U vreugde vind in offers van geregtigheid –
brandoffers en volledige offers –
Dan sal daar op u altaar
jong bulle geoffer word.

Ps 130;

1301‘n •Pelgrimslied.

Uit die dieptes roep ek na U, Here.
2My Heer, hoor tog my stem,
laat u ore aandagtig luister
na my smeekbedes.
3As U sondeskuld toereken, Here –
my Heer, wie kan dan staande bly?
4Maar by U is daar vergifnis,
sodat U ontsag afdwing.
5Ek wag op die Here;
my hele wese wag,
en op sy woord vestig ek my hoop.
6My hele wese wag op my Heer,
meer as wagte op die môre,
ja, wagte op die môre.
7Israel, vestig jou hoop op die Here;
want by die Here is troue liefde,
by Hom is volkome bevryding.
8Dit is Hy wat Israel bevry
van al sy sondeskuld.

Ps 131

1311‘n •Pelgrimslied. Van Dawid.
Here, my hart is nie hoogmoedig
en my oë nie verwaand nie.
Ek hou my nie besig met groot dade
of wat te wonderbaar is vir my nie.
2Maar ek het my siel tot kalmte
en bedaring gebring.
Soos ‘n kindjie by sy moeder,
soos ‘n kindjie, is my siel in my.
3Israel, vestig jou hoop op die Here,
nou en vir altyd.

Skryf / Vul in

God gee gebed as ’n besondere kommunikasiemiddel tussen Hom en sy kinders (Kerk). Wat leer Jesus sy dissipels in hierdie gedeelte oor gebed?


Iemand het by geleentheid gesê, as jy mense aan die praat wil kry, moet jy oor rugby, krieket, die land se ekonomie of die veiligheidsituasie en misdaad begin praat. Dan praat hulle vrylik, spontaan, lekker. As jy egter in dieselfde groep sal vra of iemand sal bid, dan is almal stil en bekyk hulle skoene of hande. Hoekom dink jy gebeur dit? Wat sou die eintlike rede daarvoor wees?


Kom ons gesels verder oor gebed en kyk eers na WAT GEBED NIE IS NIE:

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Dieper delwers kan gerus die tekste tussen hakies naslaan.

Gebed is nie

om ’n onbetrokke God se aandag te trek nie. God is
volledig betrokke by elke faset van jou lewe en weet wat
jou behoeftes is (Matt 6:7-8, 31-33).

Matt 6:7-8,
7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. 8Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.

Matt 6:31-33
31“Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. 32Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. 33Maar soek eers die •koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 

Gebed is nie

’n poging om God se arm te draai, sodat Hy dié goed
moet doen wat jy wil hê nie (Matt 6:10; Ef 5:10).

Matt 6:10;
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.

Ef 5:10
10Beproef wat vir die Here aanneemlik is.

Gebed is nie

’n kruideniersware lysie van dinge wat jy benodig nie. Jou
gebede raak dan net ’n gebedel (Matt 6:32-33).

Matt 6:32-33
32Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. 33Maar soek eers die •koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 

Gebed is nie

die aktiveringskode van jou sekuriteitstelsel, die telefoonnommer van jou hemelse bankbestuurder of jou kinderoppasser nie (Jak 4:1-3).

Jak 4:1-3
1Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? 2Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. 3Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. 

Gebed is nie

’n rympie wat jy voor ete hoef op te sê, of wat jy jou
kinders leer om te sê voordat hulle gaan slaap nie. Gebed
loop uit op ’n lewe tot God’s eer (Jes 1:15-16)

Jes 1:15-16
15As julle julle hande uitstrek,
sluit Ek my oë vir julle.
Selfs as julle baie bid,
luister Ek nie.
Julle hande is vol bloed.
16Was julle! Reinig julle!
Verwyder julle bose dade voor my oë!
Hou op om kwaad te doen!

Gebed is nie

die sleutel om vergaderings of skole oop en toe te sluit
nie. Baie keer sluit ons ’n vergadering oop met gebed
en wat dan dikwels daarna gebeur, het in die praktyk niks
(meer) met God uit te waai nie (bv die manier hoe ons
dikwels van mekaar verskil of wat uiteindelik ons finale
besluite bepaal)(Gal 6:7-8).

Gal 6:7-8
7Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes.

HOE LYK DIE GESPREK DAN?

Gebed is

om God te loof. Luk 11:2 draai ons koppe weg van onsself en laat ons fokus op God. Die Bybel leer ons dat God ons gemaak het om Hom te loof en te aanbid. Mense is dikwels gou om ánder offers aan God te wil bring, maar God sê Hy soek in die eerste plek lof en eer as offer (Ps 50:14, Ps 23a; Ps 119:175)

Ps 50:14,
14Offer dank aan God,
betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.

Ps 50:23a;
23Wie dankoffers bring,
eer My en wie ‘n weg baan –

Ps 119:175
175Hou my lewend
sodat ek U kan loof
en laat u beslissings my help.

Gebed is

om op enige plek, enige tyd, enige manier, spontaan met God te gesels oor dit wat in jou lewe aangaan. God geniet dit as jy met Hom praat. Spreuke 15:8b in die 1953 vertaling sê: “ die gebed van die opregtes is vir Hom welgevallig.” In die King James vertaling staan daar: “the prayer of the upright is for Him a delight”. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, sou ook vertaal kon word met om op en af te spring van blydskap .

Gebed is

om te vra. Dis nie verkeerd om te vra nie. Ons het hierbo in Lukas gelees dat Jesus ons uitnooi om te vra: “Gee ons elke dag ” Daar is ’n uitnodiging in vers 9, “Vra, en vir julle sal gegee word ” God het geen probleem met vra nie, dis ’n erkenning dat God GOD is! (1 Kron 29:13,14; Ps 16:5; 121:1, 2). Dis net dat ons gebede dikwels niks anders as net ’n gevra is nie, of dat ons motiewe meestal selfsugtig is en nie God se wil of eer soek nie. (Kyk weer na Luk 11:13; Jak 4:1-5.)

1 Kron 29:13,14;
13Daarom, ons God, prys ons U
en loof ons u luisterryke Naam.
14Want wie is ek,
en wie is my volk,
dat ons in staat is
om vrywillige gawes
soos hierdie te gee?
Ja, van U kom alles,
en uit u hand het ons dit
aan U gegee.

Ps 16:5;
5Here, my erfdeel, my beker,
U bepaal my lot.

Ps 121:1, 2

‘n •Pelgrimslied.

Ek kyk op na die berge:
Waar sal my hulp vandaan kom?
2My hulp is van die Here,
wat hemel en aarde gemaak het.

Luk 11:13;
13As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”

Jak 4:1-5
Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? 2Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. 3Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. 4Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. 5Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? 

Gebed is

ook om te sê: “Ek is jammer. Vergewe my” (Ps 51).

Jesus leer ons in Luk 11:4 om jammer te sê. “Vergewe-my-Sondes” is baie keer net deel van mense se slotreël van
hulle gebed. Hulle bedoel dit nie opreg nie (Ps 78:34-37).

Ps 78:34-37
34Wanneer Hy ‘n slagting
onder hulle aangerig het,
het hulle Hom geraadpleeg;
hulle het teruggedraai en God gesoek.
35Hulle het onthou dat God
hulle rots is,
dat God, die Allerhoogste,
hulle losser is.
36Maar hulle het Hom probeer
oorreed met die mond
en het vir Hom bly lieg met die tong.
37Hulle harte was nie standvastig
teenoor Hom nie;
hulle was nie getrou aan sy verbond nie.

Sondebelydenis moet spesifiek wees en ernstig
opgeneem word (1 Joh 1:6-9).

1 Joh 1:6-9
6As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie; 7maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. 9As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. 

Sonde bring verwydering
tussen ons en God; sonde maak dat God ons nie kan (wil)
hoor nie (Jes 59:1-2; Sag 7:13).

Jes 59:1-2;
1Kyk, die hand van die Here
is nie te kort om te verlos nie,
sy oor is nie hardhorend,
sodat Hy nie kan hoor nie.
2Maar julle sondeskuld,
dit het skeiding gebring
tussen julle en julle God.
Julle sondes het Hom sy gesig
vir julle laat verberg,
sodat Hy nie luister nie;

Sag 7:13
13“ ‘Soos hulle nie geluister het toe daar geroep is nie, so roep hierdie mense en luister Ek nie,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. 

Gebed is

ook om namens iemand anders met God te praat. Dit
gebeur dikwels dat die Heilige Gees jou die behoefte
gee, of dat jy dalk ’n oproep kry om vir iemand anders te
bid. Doen dit, dit is die moeite werd (Eseg 22:30; Ef 6:18-
20).

Eseg 22:30;
30“Ek het onder hulle iemand gesoek wat ‘n klipmuur kan pak en wat voor My in die bres kan tree vir die land, sodat Ek dit nie verwoes nie, maar Ek kon niemand kry nie.

Ef 6:18-20
18By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges. 19Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak – 20hiervoor is ek ‘n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet.

Gebed is

partykeer om niks te sê nie en net in stille verwondering in
God se teenwoordigheid te sit, op Hom te wag en rus in
Hom te vind. Doen dit gereeld. Sit in die tuin, of by ’n mooi
plek in die natuur en sê vir Hom: “Here, ek gaan niks praat
nie, ek gaan net sit en u teenwoordigheid indrink” (Ps
131:2-3; Jes 30:15).

Ps 131:2-3;
2Maar ek het my siel tot kalmte
en bedaring gebring.
Soos ‘n kindjie by sy moeder,
soos ‘n kindjie, is my siel in my.
3Israel, vestig jou hoop op die Here,
nou en vir altyd.

Jes 30:15
15Want so sê my Heer, die Here,
die Heilige van Israel:
“In bekering en rustigheid
lê julle redding,
in kalmte en vertroue lê julle krag;
maar julle weier.

Gebed is

om deel te neem aan die geestelike stryd. Daar is ’n stryd
om lewe en dood (Heb 12:4).

Heb 12:4
4Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. 

Satan is ’n werklikheid en dit is nodig dat jy deur gebed in afhanklikheid van God hierdie geveg sal aanpak (2 Kron 20:1-30; 25:5-10; Ef 6:10-18).

2 Kron 20:1-30;

201‘n Tyd daarna het die Moabiete en Ammoniete, en saam met hulle van die Meüniete, teen Josafat opgetrek om oorlog te voer. 2Mense het gekom en Josafat ingelig: “’n Groot menigte trek teen u op van anderkant die see, van Aram se kant af. Kyk, hulle is al by Gaseson-Tamar.” Gaseson-Tamar is En-Gedi. 3Josafat was bang, en hy was vasbeslote om die Here te raadpleeg. Hy het ‘n vasdag uitgeroep oor die hele Juda. 4Juda het toe byeengekom om by die Here hulp te soek; ja, uit al die dorpe van Juda het hulle gekom om die Here te soek.

5Josafat het in die byeenkoms van Juda en Jerusalem, in die huis van die Here, voor die nuwe binneplein gestaan 6en gesê: “Here, God van ons voorouers, is U nie ‘n God wat in die hemel is nie? U heers oor al die koninkryke van die nasies. In u hand is krag en mag, en niemand kan teen U standhou nie. 7Is dit nie U, ons God, wat die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf het en dit vir ewig aan die nageslag van u vriend Abraham gegee het nie? 8Hulle het daarin gaan woon en vir U daarin ‘n heiligdom tot eer van u Naam gebou, en gesê, 9‘As daar onheil oor ons kom – die swaard, oordeel, pessiekte, hongersnood – sal ons voor hierdie huis, voor U gaan staan, omdat u Naam in hierdie huis is, en omdat ons in ons nood na U om hulp roep, sal U hoor en red.’ 10Maar nou, hier is die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge. U het Israel, toe hulle uit Egipteland op pad was, nie toegelaat om naby hulle te kom nie. Ja, Israel het van hulle af weggedraai en hulle nie vernietig nie. 11En kyk hoe vergoed hulle ons – hulle kom en verdryf ons uit u eiendom wat U aan ons as besitting gegee het. 12Ons God, sal U hulle dan nie oordeel nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, teen te staan nie. Ons self weet nie wat om te doen nie, maar op U is ons oë gerig.”

13Die hele Juda het voor die Here gestaan, selfs hulle kleuters, hulle vroue en kinders. 14Jagasiël, seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ‘n Leviet uit die nageslag van Asaf, oor hom het die Gees van die Here midde-in die byeenkoms gekom, 15en hy het gesê: “Luister mooi, die hele Juda, inwoners van Jerusalem en u, koning Josafat! So sê die Here vir julle, ‘Julle moenie bang wees of julle laat afskrik deur hierdie groot menigte nie, want dit is nie julle geveg nie, maar God s’n. 16Trek môre af, teen hulle uit. Kyk, hulle gaan met die opdraande van Hassis opkom, en julle sal hulle by die eindpunt van die dal voor die Jeruelwoestyn aantref. 17Julle hoef nie in hierdie geval te veg nie. Neem stelling in, Juda en Jerusalem, staan en aanskou dan die verlossing deur die Here wat met julle is! Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees.’ ”

18Toe kniel Josafat met sy gesig na die grond. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die Here neergeval om voor die Here in aanbidding te buig. 19Die Leviete uit die nageslag van Kehat en die nageslag van Korag het opgestaan om die Here, die God van Israel, met baie harde stemme te loof.

20Hulle het vroeg die oggend opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Terwyl hulle uittrek, het Josafat gaan staan en gesê:

“Luister na my,
Juda en inwoners van Jerusalem!
Vertrou op die Here julle God,
dan bly julle behoue;
vertrou op sy profete,
dan behaal julle sukses.”

21Nadat hy met die manskappe beraadslaag het, het hy sangers vir die Here aangestel wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die Here, want vir ewig duur sy troue liefde!”

22Die oomblik toe hulle met ‘n jubelkreet ‘n loflied begin sing, het die Here ‘n hinderlaag beskik teen die Ammoniete, Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan. 23Die Ammoniete en Moabiete het teen die inwoners van die Seïrberge opgestaan om hulle aan volledige vernietiging oor te gee en uit te delg. Toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar help vernietig.

24En Juda, toe hulle by die uitkykpos in die woestyn kom en rondsoek na die menigte, kyk, toe lê daar net lyke op die grond, niemand het ontkom nie. 25Josafat en sy manskappe het gegaan om oorlogsbuit bymekaar te maak. Hulle kry toe groot hoeveelhede toerusting en klere, sowel as waardevolle artikels by hulle. Hulle het vir hulleself soveel gebuit dat hulle dit nie kon dra nie. Hulle was drie dae lank besig om oorlogsbuit bymekaar te maak, want daar was baie. 26Op die vierde dag het hulle in die Berakavallei byeengekom; ja, daar het hulle die Here geprys. Daarom word daardie plek Vallei van Lofprysing genoem; dit is vandag nog so.

27Al die manne van Juda en Jerusalem het, met Josafat aan die voorpunt, omgedraai om vol vreugde na Jerusalem terug te keer, omdat die Here hulle bly gemaak het oor hulle vyande. 28Hulle het Jerusalem binnegegaan met harpe, liere en trompette, op pad na die huis van die Here. 29Vrees vir God het al die koninkryke van die lande oorval toe hulle hoor dat die Here teen Israel se vyande geveg het.

30Josafat se koninkryk het rus gehad, want sy God het vir hom aan alle kante rus gegee. 

2 Kron 25:5-10;

5Amasia het Juda byeen laat kom en hulle volgens die families van die hele Juda en Benjamin laat aantree onder •aanvoerders van duisend en van honderd. Hy het hulle gemonster, van twintig jaar en ouer, en vasgestel dat hulle driehonderdduisend was, uitgesoektes, weerbare manne, gewapen met steekspies en grootskild. 6Hy het ook uit Israel honderdduisend dapper krygers gehuur vir honderd kikkar silwer.

7‘n Man van God het egter na hom gekom en vir hom gesê: “Koning, die leër van Israel moet nie saam met u gaan nie, want die Here is nie by Israel, by al die Efraimiete, nie. 8Maar gaan self, tree op, staal jou vir die geveg! God kan u laat val voor ‘n vyand, want by God is daar die krag om te help of om te laat val.” 9Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat van die honderd kikkar wat ek vir die troepe van Israel gegee het?” Die man van God het geantwoord: “Die Here het die vermoë om vir jou baie meer as dit te gee.”

10Amasia het hulle, die troepe wat uit Efraim na hom gekom het, onttrek om weer na hulle eie plek te gaan. Hulle was baie kwaad vir Juda, en het briesend kwaad na hulle eie plek teruggekeer. 

Ef 6:10-18
OPROEP TOT GEESTELIKE BEWAPENING

10Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag. 11Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. 12Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. 13Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly. 14Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van •geregtigheid, 15en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, 16en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus. 17Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. 18By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges. 

Gebed is

om partykeer jou kamer se deur toe te maak; ’n bordjie
uit te hang wat sê: “Moenie pla nie.” Jesus leer ons dit
in Matt 6:6.
6Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.

Hier is dit net jy, jou Bybel en God alleen.
Dan stort jy jou hart uit (Ps 62:9)
Ps 62:9
9Vertrou te alle tye op Hom, o volk,
stort julle hart voor Hom uit.
God is vir ons ‘n skuilplek. Sela

en luister na sy hart. Jy lees sy liefdesbrief, jy huil, jy lag, jy loof, jy pleit hierdie tye is onmisbaar. Mag ek jou vra: Kén jy sulke tye? God wil graag ook sulke tye met jou deel!

Doen die volgende

Onthou: Ons is die plan. Gebed gee jou die geleentheid om God se hartklop vir jou, die mense om jou en die wêreld, te hoor. As jy so naby aan Hom kom, sal Hy jou sy plan vir jou laat hoor.

Skryf / Vul in

Praat met God: Wanneer God met jou praat, skryf jou gewaarwordinge hier neer.


Week 4 Dag 16 Gebed is
Week 4 Dag 16 Gebed is
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 74-76
Lees gerus ook Ps 97:10; Spr 28:9, 13.

Ps 97:10;
10Julle wat die Here liefhet,
moet die kwaad haat.
Hy beskerm die lewe
van sy troue volgelinge;
uit die hand van goddeloses
red Hy hulle.

Spr 28:9, 13
9Wie sy oor wegdraai,
sodat hy nie na die wet
hoef te luister nie –
selfs sy gebed is afstootlik

13Wie sy oortredings bedek,
sal nie sukses behaal nie;
maar hy wat dit bely en dit laat vaar,
ervaar ontferming.

Wenk

WENK: Skryf drie eienskappe van God op ’n kaartjie. Plaas dit in jou handsak of hempsak, of plak dit teen die yskas.
Loof God deur die loop van die dag, onophoudelik, net omdat Hy God is. (Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za