Stof tot nadenke: Betrokkenheid

Wat julle van My geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.

Fil. 4: 983

Eensgesindheid

In die begin van die eerste gemeentes was besoek aan die tempelterrein van kardinale belang. Dis iets wat hulle gereeld gedoen het. Die eensgesinde gesindheid van die gelowiges het daartoe bygedra dat hulle met uitbundige blydskap kon saamwerk, leef en selfs hulle maaltye kon saam geniet. Ons kan net die genade gawe van eensgesindheid van God vra, sodat die kerk van Christus van vandag, suksesvol kan funksioneer.

Dit was die wil van Jesus Christus dat sy navolgelinge eensgesind sal wees, sodat ons die Vader in opregtheid sal kan loof met ons handel, wandel en woord. Beide Paulus en Petrus het dit beklemtoon vir die eerste gemeentes.

Teksverse:

Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.” (Hand. 2: 4620);

“En mag God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring.” (Rom. 15: 5-620);

Ten slotte broers, wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede – en die God van liefde en vrede sal met julle wees.” (2 Kor. 1: 6-720);

Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig…” (1 Pet. 3: 820)

Mededeelsaamheid

Om mededeelsaam te wees dui op ‘n gesindheid van goedhartigheid en die aktiewe deelname aan omgee vir medemense. Dit kan in die vorm van tyd, erkenning van ‘n ander se bestaan, besittings, of kennis wees. Dit wat jy met opregtheid met ander kan deel.

Soms is ons so besig om deur die lewe te hardloop. Ons is so besig, dat ons dikwels nie ‘n ander se nood raaksien nie. Ons is so bang dat dit onsself gaan benadeel wanneer ons iets weggee. Daar is egter dikwels ‘n rykdom van dankbaarheid, wat mens ongekend vul met ‘n vrede, wat nie altyd verklaarbaar is nie.

Ook hierdie mededeelsaamheid het ‘n integrale deel van die eerste gemeentes gevorm.

Teksverse:

’n Goddelose leen en betaal nie terug nie, maar ‘n regverdige is goedhartig en mededeelsaam.” (Ps. 37: 2120);

Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees.” (1 Tim. 6: 1820);

En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers.” (Heb 13: 1620)

Aanvaarding

Om ‘n ander te aanvaar, net soos hy of sy is, is die oorgang van verwerping na berusting of erkenning. Elkeen van ons wil aanvaar word, ten spyte van ons gebreke of tekortkominge. Hierin het Christus ook vir ons ‘n voorbeeld kom stel. Hy het mense aanvaar en gehelp, waar hulle ookal vandaan gekom het, of water tekortkominge hulle ookal gehad het.

Paulus vra dat ons mekaar moet aanvaar, want ook dit is tot eer van God.

Teksvers:

Daarom, aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom. 15:720)

Betrokkenheid

Betrokkenheid by enigiets behels ‘n toewyding van tyd, aandag of fisiese deelname, en dui op ‘n direkte skakel of verantwoordelikheid tot die uitkoms. Om betrokke te raak by enigiets, moet mens eensgesind wees en bereid wees om mededeelsaam te wees. Daarby kan mens ook voeg dat jy die ander in die gemeente, gemeenskap of land moet aanvaar.

Nina Smit stel dit baie mooi: ‘Die geheim van ware geluk lê in betrokkenheid by ander. As jy rondom jou kyk en die nood van jou medemens raaksien, as jy gewillig is om hulle lief te hê en jou hande na hulle uitsteek om hulle te help, sal jy weldra ontdek dat die hemel baie naby aan jou gekom het; dat dit inderdaad om jou, hemel op aarde word.’

Daar is geen beperking op die ouderdom van betrokkenheid nie. Of ons jonk of oud is, kan ons betrokke wees, waar God ons lei. Laat ons betrokke raak, sodat die hele wêreld kan sien dat ons tot eer en verheerliking van God, die Vader, en Jesus Christus, ons Verlosser, leef. Dit alles kan ons doen onder leiding van die Heilige Gees. Laat ons met oorgawe betrokke raak. Elkeen soos wat die Heilige Gees hom of haar lei, om te doen.

Teksverse:

Vir hierdie seun het ek gebid, en die Here het my versoek, dit wat ek van Hom gevra het, toegestaan. Op my beurt staan ek hom nou aan die Here af. Solank as wat hy leef, is hy geleen aan die Here. ” (1 Sam. 1: 27-2820)

…en was nou ‘n weduwee van byna vier-en-tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempelterrein af weggebly nie en God dag en nag gedien…” (Luk. 2: 3720);

Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.” (1 Kor. 9: 26-2720)