Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 7

VISIO DIVINA #7

Deel 1

In die eerste eeue was dit algemeen om Jesus uit te beeld as ‘n jong man met ‘n skaap oor sy skouers. Is dit werklik hoe Jesus gelyk het? Nee. ‘n Ikoon is nie ‘n portretstudie nie. (Juis daarom is die gesigvorm soms buite proporsie), Die ikoon is ‘n vingerwysing na ‘n boodskap van Jesus. Alles in die ikoon het simboliese betekenis – die kleur van die uitrustings; die posisie van die liggaamsdele; die rigting waarin die gesigte kyk, ens.

In Luk 15:1-7 vertel Jesus die gelykenis van die boer wat alles laat staan om ‘n enkele verlore skaap te gaan soek totdat hy hom vind. Van Homself het Jesus gesê, “Ek is die goeie herder” (Joh 10:11). Dit is eintlik dan die ganse mensdom wat op Jesus se skouers lê! Kyk net die hande van die skaapwagter wat om die pote van die verlore dier vashou: sterk en ferm. Daar is ‘n sagte, nadenkende uitdrukking in Jesus se gesig. Na wie sou Jesus kyk? Wat spreek tot jou?

Deel 2

TEKSVERS:

Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help. Maar Ek sal dié wat vet en sterk geword het, uitroei. Ek sal ‘n herder wees wat reg laat geskied.” (Eks 34:15-16).

Die Kerkvader, Augustinus, het gesê dat hoop twee dogters het: woede en braafheid. Woede oor hoe die lewe lyk; en braafheid oor hoe die lewe kan (en behoort te) lyk. Lydingstyd konfronteer ons met hoop, woede en braafheid. Dinge kan anders lyk (hoop), maar waarom lyk dit nie anders nie (woede). En aan die Kerk is die braafheid gegee om dit te verander.

Ons durf nie maar net die lewe laat soos wat ons dit om ons sien nie; daar is heeltemal te veel hartseer en lyding; wreedheid en selfverryking. Noem dit bloot onreg. Onreg moet ons woedend maak! Soos onreg God ook woedend maak. Ons dra saam aan die “las” op Jesus se skouers, maar daarom herinner Jesus, “My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:30). Word versorgers omdat julle versorg is! Of, soos Miga dit stel, “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God” (Miga 6:8).

Dit is mense wat hul medemens met deernis versorg (m.a.w. op hul skouers dra) wat ook deel het aan die Koninkryk van God. Soos Jesus in Matt 5:7 sê, “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

Laat jou selfondersoek vandag dus fokus op hoop, woede en braafheid.

GEBED:

Bewaar my tog van selfgerigtheid, Heilige Here, waar ek niks behalwe my eie begeertes raaksien nie.

Kim Orabona “Shepherd me O God

Op Dag 7 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons Kim Orabona se weergawe van
Shepherd me O God”, met die mooi refrein: Shepherd me, O God, beyond my wants,
beyond my fears, from death into life.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.