Lydenstyd – “Visio Divina” Dag 3

VISIO DIVINA #3

Deel 1

Daar is nie veel inligting oor hierdie Griekse ikoon (uitbeelding) van die profeet Esegiël wat na die laagte vol droë beendere gebring word nie (Eseg. 37). “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?” vra die Here.
Natuurlik nie!
Behalwe (en so beeld die ikoon dit uit) deur die opstanding van Jesus! Kyk mooi: agter die bejaarde profeet staan die verheerlikte Christus (met die stralekrans) en ‘n skitterende, leë kruis. Die graf is leeg. Dood is oorwin. “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?”
Natuurlik, ja!
Oor en oor bly die vraag: Kan daar in doodsheid lewe kom? Ja, ja, ja

Kliek op die skakel en beweeg af op die skerm tot by die video vir ‘n treffende visuele
uitbeelding van Esegiel 37. (“Valley, Dry Bones”)

https://www.fubiz.net/2011/10/24/dry-bones/

Deel 2

TEKSVERS:

“Dít verseker Ek julle: …Ek het gekom sodat (julle) die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10).
Die Kerkvader Irenaeus (2de eeu n.C) het gesê, dat God verheerlik word deur die mens wat sy/haar lewe voluit leef. Volgens Irenaeus het dit beteken jy leef die lewe soos God dit bedoel het om geleef te word – as werklike verteenwoordiger (beeld/ikoon, aldus Gen 1:27) van God. Jy lééf, omdat God jou lewe wíl. Danksy God se “asem” (Sy Gees/ “Ruach”) mag jy leef. Die hartseer ellende is dat daar soveel mense is wat soos “dooie beendere” deur die lewe gaan. Wandelende lyke. Wat so leef dat God nie in hulle lewens herken kan word nie.

Vir 40 dae lank draai ons die vergrootglas op ons eie lewens. Bely ons dalk met die mond dat God die Heerser van ons lewens is, maar daar is geen sigbare teken daarvan in ons doen en late nie? Jakobus leer dat geloof wat nie tot dade oorgaan nie ‘n dooie geloof is (Jak 2:17).
As die Heilige Gees (die Goddelike Asem) geloof in ons bewerk, kán ons nie anders nie as om ons lewens te wy aan daardie dinge – die goeie dade – wat God sal verheerlik (aldus Ef 2:10b).
Lydenstyd is lewegewende tyd! Vir die dooie geloofsbeendere is daar die belofte van nuwe lewe! Soos Paulus skryf, “Stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil” (Rom 6:13).

GEBED:

Moet nie ophou om my lewe nuut te maak nie, my Here!

“Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds.

Op Dag 3 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die baie bekende lied, “Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds.
Hierdie is ‘n kwartet wat al sedert 1927 bestaan.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.