Deel 1
Ons begin nie ons Lydenstydreeks met ‘n tradisionele ikoon nie, wel met ‘n moderne
kunswerk van Brian Jekel: “Jesus genees die blinde man.”
Kyk lank en biddend na hierdie kunswerk.
Wat “sien” jy in hierdie skildery?
Toe Jesus na die blinde man gekyk het, wat dink jy het deur Jesus se gedagtes gegaan?
Hoe sou dit voel om deur Jesus aangeraak te word?
Spreek die uitgestrekte hande dalk tot jou hart?
Waarom?
Begeer jy dalk al vir lank dat Jesus jou moet aanraak?
Waarom vra jy dit nie nou vir Hom nie.
Deel 2
TEKSVERS:
“Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek”(Joh 9:25).
Sou jy vandag ‘n erediens bywoon, is die kans baie groot dat jy met ‘n kruis van as op jou voorkop daar sou uitstap. Waarom begin die 40-Lydenstyd jaar-na-jaar op hierdie wyse? Omdat ons almal herinner moet word aan die tydelikheid van ons lewens! Soos Gen 3:19 sê, “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (1953).
Die kruis op jou voorkop konfronteer elkeen met die vraag: wat maak jy met hierdie kosbare lewe? Wie is ons werklik? Wie s’n is ons werklik? Sien ons die lewe soos God wil hê ons dit moet sien? Gaan ons dalk blind deur die lewe?
Die tema van blindheid is algemeen in die Bybel – gaan blaai maar deur die Jesajaboek (bv. 35:5-6; 42:7). Na die 40-dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het (en daar deur die bose versoek is), gaan Jesus na ‘n sinogage en getuig dat die profesieë van Jesaja vervul is: hier sien hulle Hóm wat die blindes weer sal laat sien (Luk 4:18).
Voordat Jesus Jerusalem ingaan, daardie laaste week van sy lewe voor sy kruisiging, is dit ook die laaste wonderwerk wat Hy doen toe die blinde Bartimeus hoor dat Jesus naby is, het hy uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” (Mark 10:47.) Jesus vra hom toe, “’Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?’ ‘Rabboeni,’ sê die blinde man vir Hom, ‘dat ek kan sien’” (Mark 10:47, 51).
So begin ons elke jaar op Aswoensdag ook met hierdie uitroep: “Ontferm U tog oor ons.” Kyrie Eleison; Christe Eleison; Kyrie Eleison. Maar waarom sal dit vandag jou gebed wees?
GEBED:
Raak my aan in hierdie 40 dae, Here.
“Kyrie Eleison” – gekomponeer deur Misha Mdinaradze
Op Dag 1 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n weergawe van die “Kyrie
Eleison” – gekomponeer deur Misha Mdinaradze. Die soliste is Mariam Roinishvili / Mikheil
Javakhishvili uit Georgia (Oos-Europa).

Help my asseblief (as jy dit kan bekostig) om hierdie digitale bediening te laat uitbrei. Ek dra self al die koste en sal so graag meer mense wil bereik! As jou geloof deur my skryfwerk versterk word, mag dit ook só vir nog veel meer mense moontlik gemaak word. Dit is my gebed.
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieël te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.


