VISIO DIVINA #19
3de Sondag in Lydenstyd
“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal” (12 Kor 13:13). Die grootste misterie speel voor ons af wanneer ons Sondae in die erediens gegroet word in die Naam van die Drie-Enige God. Maar wat sal ‘n gewone sterfling tog ooit van hierdie misterie kan verstaan? Daarom het ons digters. En ons het komponiste. En ook kunstenaars. Hulle wat dit sê wat ons nie kan nie. Andrei Rublev (15de eeu) was so iemand. Geen ander ikoon kan vir ons die Drie-Eenheid (Triniteit) so “verwoord” soos die “Ikoon van die drie besoekers” (1425-27) nie.
In Genesis 18 lees ons van drie engele wat Abraham en Sara besoek, maar kyk jy dieper, dan leer jy hierin iets van die misterie van die Drie-Enigheid ken:
Drie engele – so intiem teen aan mekaar dat hulle vlerke raak – sit in ‘n sirkelvorm (simbool van ewigheid) aan ‘n tafel. Daar is aan die voorkant ‘n opening – dit nooi jou in om deel te neem aan die ete. Ons lees dat Abraham ‘n kalf geslag het. Die bak staan op die tafel. Al drie figure seën die bak. Sonder woorde verklap die kleure alles! Een is geklee in die kleur van heerlikheid: goud. Een dra die kleur van bloed; met hemelse blou daaroor. Die derde figuur dra ook groen (die kleur van nuwe lewe). Alles is goddelike kleur. Kyk na die agtergrond: ‘n boom verrys agter die middelste figuur. Die boom van die lewe. Die boom wat die hout kon verskaf vir ‘n kruis?
Daar is drie bekers – een op die tafel; een op die grond (waarin die gebede van gelowiges opgevang word?) en een waarin die middelste figuur sit (sien die videoverduideliking).
Al wat oorbly is vir ons om te sê, “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid” (Rom 11:33-36).
GEBED:
Heilige Drie-Enige God, dankie dat ek die misterie van U wese in hierdie Lydenstyd beter mag leer ken.
Ikoon van die Triniteit
Kyk gerus na hierdie verduideliking van die Ikoon van die Triniteit:

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie?
STANDARD BANK
Takkode: 051001
Rek No: 080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark,
Groot-Brakrivier, 6525.


