Gemeente Brief April 2023

Goeiemôre gemeente

Ons vertrou dat dit elkeen van u se ervaring is dat deur net rondom jou te kyk, jy oor klein dingetjies dankbaar kan wees. Ons is dankbaar dat ons in die afgelope finansiële jaar al ons dienswerk kon voortsit en selfs uitbrei. Ons wil elkeen bedank vir u getroue ondersteuning, meelewing en voorbidding.

Ons is ‘n gemeente, wat volgens grootte twee voltydse leraars in diens behoort te hê, daarom het ons na deeglike oorweging besluit om ‘n tweede leraarspos te adverteer. Ons vra u voorbidding vir hierdie belangrike saak en glo u deel ook in ons opgewondenheid.

In die afgelope jaar het Mev. Tillie Bothma besluit om nie langer haar kontrak by ons te hernu nie. Ons wil haar bedank vir jarelange getroue diens en gaan haar vriendelikheid mis. Ons bid en vertrou dat Tillie en Siemie hierdie fase van hul lewe sal geniet en bid die Here se seën vir hulle toe.

Terseldertyd verwelkom ons vir mev. Carmi Kriel. Ons glo Carmi sal gelukkig wees by ons in die kantoor en is dankbaar dat iemand met haar kwaliteite by ons aangesluit het.

Ons is in ons laaste lydingsweek. Ons wil u aanmoedig om ons eredienste in die tyd by te woon. Ons deel graag met u ons erediensprogram vir die Paasnaweek:

  • Goeie Vrydag, 7 April 2023: nagmaal vind plaas om 09:00 in die kerkgebou en 10:00 by Groenkloof.
  • Opstandingsondag , 9 April 2023: dienste vind plaas om 06:30 by Suiderkruis- strand, 09:00 in die kerkgebou en 10:00 by Groenkloof.
    Daar sal slegs van die Sondag se erediens ‘n virtuele diens opgeneem word.

Ons herinner u aan ons Dankfees wat plaasvind op 22 April 2023 om 09:00. Kom geniet die dag saam met ons. Kom vroeg om jou gunsteling gereg of koek te koop.

Ons bly dankbaar dat ons soveel dienswerkaksies in die gemeente het en wil u uitnooi om die sameroepers te kontak indien u betrokke wil raak by die bedienings. Ons leef in tye waar ons al meer bewus raak van mense wat emosioneel en finansieel swaarkry. Ons het talle maniere hoe ons probeer help, maar indien u bewus is van nood kontak asseblief die kerkkantoor dat ons kennis kan neem daarvan. Indien u bloot ‘n besoek verlang kontak asseblief die kerkkantoor of u kerkraadslid dat dit gereël kan word.

Ons bid saam dat die Here ons in die jaar sal dra deur Sy genade en liefde. Ons sluit af met ‘n gedagte uit die natuur.

In die natuur los diere ‘n spoor, dit word “spoortrappers” genoem. Mag elkeen van ons “spoortrappers” wees sodat ander kan sien in wie se spoor ons volg. Dan is dit ook so dat Jesus Christus nie net voor ons loop nie, maar veral saam met ons loop.

Mooiloop dag vir dag saam met Christus.

Namens die kerkraad

Willem du Preez.
Voorsitter van die kerkraad