Hoekom wêreldsending
.Beste ,
Ons leef in ‘n deurmekaar, komplekse wêreld! En tog hou God steeds eenvoudig elke seisoen getrou in stand. Hoe het die lente aangebreek rondom jou? Het jy al kans gehad om die nuwe lewe, wat oral opskiet, te geniet?
Ons is dankbaar vir ’n onlangse paar weke van verlof by Takayama, ‘n unieke wegbreek-plek vir (meestal) sendelinge van regoor die wêreld. Ons kon ‘n goeie balans vind tussen uitspan op ons eie en gesellige gemeenskap tussendeur. ‘n Bedrywige nuwe seisoen het intussen begin en ons val in met vars ywer. Verskeie opwindende en belangrike ontmoetings en bedienings-geleenthede wag op ons.
Jou gebede en ondersteuning is deurslaggewend, daarom deel ek meer detail — o.a. ‘n getuienis en gebedsversoeke — hieronder.
Hoekom wêreldsending?
Die fokus van hierdie nuusflits is op hoekom elke plaaslike gemeente nie net vir selfbehoud bestaan nie, maar vir deelname aan God se wêreldwye gestuurdheid. Hierdie waarheid is verál relevant vir gemeentes wat hulle God-gegewe missie — nie net naby nie maar ook ver —moet herontdek en bevestig.
Hoekom is dit belangrik? Eerstens, wêreldsending is nie net iets op die buiterand van die sirkel van kerklike bedieninge wat aan ‘spesialiste’ oorgelaat word nie. Dit hoort in die kern van elke plaaslike gemeente, omdat dit die hart van God en die bestaansdoel van die kerk self verteenwoordig. Wêreldsending is nie iets wat sending-kommittees of getuienis-aksie lede doen nie. Dis die kern van die kerk se DNA! Verder bied ons globale betrokkenheid vir ons die geleentheid om die diepte, diversiteit en skoonheid van mense en kulture in God se wêreld te waardeer, en om vir hulle tot seën te wees.
Miskien skakel jy af as jy dié tipe goed hoor. As dit die geval is wil ek jou uitnooi om weer ‘n slag mooi te dink oor hoekom jy deel is van ‘n plaaslike gemeente. In dié video (ook hierbo) vertel ek meer. Kyk dit gerus en deel dit met die leiers in julle kerk. Laai die PDF teks hier af.
Uit eie ervaring
As leraar van die NG Kerk, en voor dit as projekbestuurder by Communitas, het ek destyds die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes in die vroeë 2000’s help vestig en uitbou. Die vennootskap het jare later die kerk se leierskap aangespoor tot ‘n sterk missionale fokus (deur selfs die kerkorde hieroor te herformuleer). Ek dink dit was ’n baie konstruktiewe ontwikkeling.
Een nadeel is egter dat dit gelei tot ’n oorbeklemtoning, en soms selfs ‘n totaal eensydige fokus op alle plaaslike bedieninge. Missio Dei-teologie – dit is: God se sending / gestuurdheid – het die hele wêreld in sig. Maar die gesprek oor missionale kerkwees in dele van die Weste, insluitend Suid-Afrika, word al te dikwels uitsluitlik gefokus op wat plaaslike gemeentes in hulle onmiddelike omgewing doen. Die globale fokus van die hele Bybelse boodskap van God se versoening in Christus, word verskraal.
Hierdie plaaslike fokus (ironies genoeg) ontkoppel ook die meeste NGK-gemeentes — asook gesprekke oor missio Dei en missionale teologie in die breër kerkverband — van wêreldsending en van globale tendense en invloede in die breër liggaam van Christus. My aanvoeling is daarom dat daar meermale ’n behoorlike breër bewustheid ontbreek.
Daar is ‘n lang lys redes hoekom ek oortuig is van die belangrikheid van wêreldsending. Kyk gerus die video en gesels saam! Ons is immers medewerkers in God se koninkryk.
Vrede,
Stéphan (ook namens Carina en Tobie en Annalie de Wet)
PS #1: het jy ons nuus iewers gemis? Kliek hier vir ons advertensie vir nuwe sendelinge en hier vir ‘n meegaande video wat die konteks van Japan verhelder.
PS #2: Verder is daar ‘n klomp nuwe inligting om te deel oor ons bedieninge, met deeglik nagevorste bronne wat die Japannese konteks vir jou kan oopbreek en ontsluit, in die lig van ander globale tendense in wêreldsending. Kliek hier daarvoor.
U kan meer lees hier: https://missionjapan.co.za/blog-afrikaans/
Maak ‘n bydrae: https://missionjapan.co.za/contribute/