Stof tot nadenke: Wie se aanvaarding?

Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo”.
Joh. 1: 11-12

Elkeen van ons soek aanvaarding. Hetsy of dit van ons ouers, broers, susters, eggenote, vriende of kollegas in die werksplek, is. Ons wil aanvaarbaar wees sodat ons deel van die menslike soiale sisteem kan wees. Is dit haalbaar? Is mense bereid om elkeen van ons te aanvaar soos wat ons is? Soos wat God ons gevorm het deur ons lewe en op die lewenspad waarop Hy ons begelei het? Wat is dit wat ons aanvaarbaar maak vir mense? Is dit wat ons het in die vorm van goed en finansieële onafhanklikheid? Die groote en aansig van jou huis? Die klere wat jy kan bekostig, ter wille van ewigdurende veranderde modegiere? Die motor wat jy ry?

Besef ons nie dat die verering deur mense nie deur God aanvaarbaar is nie? (“”Ek aanvaar nie verering deur mense nie, maar Ek ken julle – julle het nie die liefde van God in julle nie. Ek (Jesus) het in die Naam van my Vader gekom, maar julle aanvaar My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie?” Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, die een op wie julle julle hoop gevestig het, wat julle aankla. As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” (Joh 5: 41-47)). Jesus Christus se een groot stryd hier op aarde was die feit dat die mense wat al vir jare bekend was met die feit dat Hy sou kom, Hom nie wou glo toe Hy hierheen gekom het nie, en dit terwille van ons! Die Vader is ewig en opreg. By Hom is daar skuilplek en krag en volle aanvaarding. Hy aanvaar nie omkoop geskenke of is partydig nie (“Daarom laat vrees (ontsag) vir die Here julle lei. Tree nougeset oop, want by die Here ons God is daar geen onreg, partydigheid of aanvaarding van omkoopgeskenke nie.” (2 Kron. 19: 7)).

Christus wys ons op die swakheid van mense, en hoe dikwels hulle oordeel nie reg is nie. Ons as mense probeer eerder die fout in alles sien, as om die wonderlike geleenthede raak te sien in mense en geleenthede. Dit is soveel makliker om te kritiseer, net soos Jesus Christus ook ervaar het (“Maar met wie kan ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is soos kindertjies wat op die markpleine sit en na mekaar roep. “Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het ‘n treurlied gesing, maar julle wou nie weeklaag nie!’ “Want Johannes het gekom, en hy eet en drink nie, “ en hulle sê “Hy is van ‘n demoon besete.’ “Die Seun van die mens het gekom, en Hy eet en drink, “en hulle sê, “’Kyk, Hy is ‘n vraat en ‘n suiplap, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’ “Maar die wysheid word deur haar dade reg bewys.” (Matt. 11: 16-19)). Die Woord spel dit duidelik uit oor hoe ons teenoor ander mense moet optree (“Daarom aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God” (Rom. 15:7); “Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar. Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel?” (Rom. 14: 1-4))

Ons moet besef dat die getuienis van God groter is as die getuienis van mense (“As ons die getuienis van mense aanvaar – die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het.” (1 Joh 5: 9); “Die Een wat van bo af kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie. Wie sy getuienis aanvaar het, het plegtig bevestig dat God waaragtig is.” (Joh. 3: 31-33)). Dit is dus God se aanvaarding van elkeen van ons, wat belangrik is. Wat mense dink en of hulle jou aanvaar is nie belangrik nie. Dit maak dit nie maklik nie, maar dit is waar. Want in God is ons toevlug en Hy maak ons sterk (“…want U is hulle kragtige sieraad. Deur u aanvaarding het U ons sterk gemaak.” (Ps. 89: 18)). Laat daar nie van ons gesê kan word dat ons die Bybel bestudeer net omdat ons dink dat die Ewige lewe daarin te vinde is nie (“Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.” (Joh. 5: 39-40)).


Laat ons in die liefde van God, die Vader, deur die verlossing van die Seun en deur die werking van die Heilige Gees in ons lewens, mekaar ondersteun en aanvaar vir wie elkeen is, sodat die wêreld kan weet dat ons God se kinders is.