Stof tot nadenke: Op watter stoel sit jy?

Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry, maar hou moed. Ek het reeds die wêreld oorwin
Joh. 16: 33

In hierdie wêreld is daar baie teenstrydighede. Daar is woede en kwaadpratery. Daar is mooi praat, vleitaal en leuens; en daar is direkte aanvalle. Daar is baie afleidings en daar is baie mense en dinge wat mens weglei van die waarheid van Christus af. Daar is mense wat spog met hulle boosheid soos duidelik uit Ps. 52: 3-4 blyk (“Waarom spog jy oor ‘n bose daad, krygsheld? God se troue liefde is die hele dag daar. Jou tong beplan vernietiging, soos ‘n skerp skeermes, jy wat bedrog pleeg”) en in Spr. 17: 4 maak Salomo ons bewus daarvan om op die uitkyk vir boosheid te wees (“’n Kwaaddoener gee aandag aan lippe vol boosheid; ‘n leuenaar spits sy oor vir ‘n tong vol vernietiging”). Die Psalmdigter waarsku ook teen die leuen (“Maar hulle het Hom probeer oorreed met die mond en het vir Hom bly lieg met die tong” (Ps. 78:36)).

Christus verseker ons egter dat Hy reeds hierdie wêreld en sy boosheid oorwin het (Joh. 16: 33). Wanneer ons reeds in God gebore is, het ons reeds die wêreld oorwin, omdat die Heilige Gees wat in ons is, groter as die leuenaar van die wêreld is (“Julle kinders, is uit God, en het julle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Joh. 4: 4)). Elkeen van ons wat Jesus Christus as ons Verlosser aanvaar het, is wedergebore deur die werking van die Heilige Gees. Dis alleen deur hierdie geloof wat ons die wêreld kan oorwin (“…want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof. Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Hy, Jesus Christus, is die Een wat deur die water en bloed gekom het – nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid. ” (1 Joh. 5: 5-6)).

Kan die wêreld sien in jou lewe dat jy hierdie waarheid van Jesus Christus glo? Of is jy soos een wat nie kan besluit op watter stoel jy sit nie? Klink jy soos die wêreld omdat jy nog nie heeltemal besluit het of jy in die lig of in die duisternis wil leef nie? Besef jy wat dit beteken dat die koninkryk van God reeds gekom het? Christus het dadelik die leuen kon erken en beheer oor onrein geeste gehad (“Hy beveel selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom” (Mark. 1: 27)). Christus het ook beheer oor siektes gehad (“…het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaaken baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het” (Mark. 1: 34)). Johannes waarsku ons daarteen om na vals gerugte te luister deur dit teen die Woord van God te toets (“Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld. Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus Christus vlees geword het, is uit God, en elke gees wat dit nie bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die antichris, van wie julle gehoor het dat hy kom, en wat nou reeds in die wêreld is.” (1 Joh 4: 1-4)). Laat ons dan die goeie raad van Rom. 12: 21 aanvaar (“Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie”).

Laat ons die wêreld wys op watter stoel ons sit. Laat ons die lig van Jesus Christus aan die wêreld vertoon deur nie afbrekende woorde te uiter nie, maar ander opbou deur die liefde wat deur die Vader, die Seun en die Heilige Gees in ons lewens bewerk is (“Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voorspoed mag bring vir diegene wat dit hoor” (Eff. 4: 29)). Ons hoef nie te vrees nie, want soos Job noem, hoef ons nie te vrees vir die verwoesting, wanneer ons op die stoel van geloof sit nie (“Wanneer die tong gesel, word jy weggesteek, jy hoef nie te vrees vir verwoesting wanneer dit kom nie” (Job 5: 21)). Laat daar nie van ons gesê kan word dat ons God slegs eer met die lippe nie, maar hulle harte is ver van My af (“Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af; tervergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.” (Matt. 15: 8-9)). Want ons gedagtes, woorde en werke sal ons veroordeel voor God (“Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het iets wat hom veroordeel; die woord wat Ek gespreek het, dit sal him in sy laasate dag veroordeel” (Joh. 4: 48)).

Laat ons gedagtes, woorde en opregte werke vir ons getuig dat ons die stoel van God se Liefde gekies het (“Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh. 4: 6) en “Dit is My gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.” (Joh. 15: 12-13)). Wie in die Seun van God glo het die nodige getuienis in hom (“Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself, wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor Sy Seun gelewer het nie” (1 Joh 5: 10)), en die getuienis is dat Jesus Christus die Seun van die ware God is (“En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in Sy Seun. Wie die Seun het, het die ewige lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5: 11-12)).