Stof tot nadenke: God se kudde

Deel van God se kudde

Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie. Hulle sal ‘n kudde wees wat wei en gaan lê sonder dat iemand hulle skrikmaak

Sef. 3: 13

Sefanja 1-3 is die verhaal van ‘n verwoestende tyd in Israel en Judea. Ons vra so dikwels hoekom verwoestende dinge soos oorloë en ander natuurrampe gebeur. Ons kan nie altyd verstaan hoe God wat ‘n God van liefde is, soveel haat, seer, verwoesting en magteloosheid kan toelaat of veroorsaak nie.

Wanneer mens Sefanja 3: 2- 6 lees besef mens dat deur die ongehoorsaamheid aan God hierdie stede en landstreeke heel moontlik self die oordeel oor hulle laat kom het. In vers 6 waarsku Sefanja dat “Ek (God) het nasies uitgeroei, hulle vestings vernietig. Ek het hulle paaie verlate gemaak, sonder iemand wat daar loop. Hulle stede is verwoes, daar is niemand nie, nie een inwoner nie”. Met die gretige voortgaan van sonde teen God en met die die ontkenning van God se bestaan het hierdie volke en nasies self die oordeel oor hulle gebring.

God, wat ons so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gestuur het, beloof egter ook dat Hy sy kudde se lippe sal rein maak, en dat hulle Sy Naam soos een man sal aanroep. God beloof om die wat nederig en ootmoedig is, en vertrou op die Here se Naam, te red. Wanneer ons hierdie verhaal toepas op vandag se tye van oorloê, onderdrukking en natuurrampe, weet ons dat daar vir elkeen wat God die Vader verheerlik, die Seun Jesus Christus as Verlosser aanvaar het, en die Heilige Gees ‘n woonplek in ons harte gegee het, daar ewige rus in ons harte kan wees en dat niemand ons sal kan skrikmaak nie, want ons is deel van God se kudde.