Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Joh. 14: 6
Ons almal is baie bekend met die die gebed van Koos du Plessis wat noem : “…elke afdraai paadjie ken ek…”. Wie van ons het nog nie so gevoel nie. Elkeen van ons het al so dikwels daardie afdraaipaadjie geneem, in stede van op die regte pad te bly. Daar is so baie keuses om te maak wanneer ons by daardie kruispaaie kom, waar die verleidings en die versoekings van hierdie aarde vir ons so aanloklik lyk, dat ons besluit om tog net vir ‘n kort wyle op daardie afdraaipaadjie te wandel. Maar telkens wys God ons daarop dat daar net een weg.
Dit is die weg van Christus. Dis waarheid. Dis lewe. Ons word so dikwels gemaan om weg te bly van die onkundiges, en liewer insig as ons pad te kies. Dit is die regte pad, as ons toevlug in God is, want dit bring boosdoeners tot ‘n val. Om Jesus Christus as enigste pad te kies, hoe onmoontlik dit ookal vir ons mag lyk, is die beste en verstandige se keuse. Dit is die regte keuse wanneer ons deel van God se volgelinge wil wees.
(“Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!” (Spr. 9: 6)); (“Die weg van die Here is ‘n toevlug vr wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners.” (Spr. 10: 29)); (“Die weg na lewe lei opwaarts vir ‘n verstandige mens,…” (Spr. 15: 24)); (“So sê die Here, Heerseer oor alle magte, ‘Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die oostelike en westelike streke en hulle bring om in Jerusalem te woon. Hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, in waarheid en geregtigheid.’” (Sag. 8:7-8))
Hoe kan ons tog al daardie afleidings weerstaan? Daar word dikwels van die keuse om in waarheid te leef, gepraat. Die waarheid wat net deur God die Vader, Jesus Christus, ons Verlosser, en onder leiding van die Heilige Gees, gevind kan word.
(“Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.” (Sag. 8: 19));(“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.” (Joh. 1: 14)); (“Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1: 17))
Ons moet dus in die volle waarheid van Jesus Christus leef, want dit is die aanbidders wat die Vader wil hê. Ons moet na die lig van die Verlosser kom, en in gees aanbid. Jesus het dit so mooi gestel aan die Samaritaanse vrou. Dis alleen as ons in die woord van Jesus Christus bly, dat ons kan vry raak van die sonde, waarvan ons slawe is.
(“Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is.” (Joh. 3: 21)); (“Daar kom egter ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4: 23-24)); (“Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”” (Joh. 8: 31-32))
Ons weet dat ons dit nie uit onsself kan baas raak nie. Maar die Vader het vir ons die Heilige Gees gestuur, nadat Jesus ons verlaat het, om ons krag te gee, en ons te leer in die weg, die waarheid en die lewe. Dan sal ons die stem van Jesus Christus duidelik kan hoor, omdat ons bestaan dan in die waarheid gegrond is. Sodoende sal ons al meer na Jesus Christus tot kan groei. Dan sal ons kan begin vrug dra en verder groei in die enigste ware weg.
(“Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak.” (Joh. 16: 13)); (“”Is u dan tog ‘n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.”” (Joh. 18: 37)); (“…maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.” (Eff. 4: 15-16)); (“…Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei.” (Kol. 1: 5-6))
Daar is geen ander, behalwe Jesus Christus, die enigste pad wat lei tot ons verlossing. Dit is alleen wanneer ons Hom as ons genade offer, en Verlosser, aanvaar het, dat ons die pad na die lewe in waarheid kan vind. Hy wat bereid was om ter wille van ons sondes aan die kruishout te hang. Hy is die ware God en die ewige lewe!
(“Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Hy, Jesus Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het – nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid.” (1 Joh. 5: 5-6)); (“En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in die Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” (1 Joh. 5: 11-12));(“En ons weet dat die Seun van God gekom het, en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe.” (1 Joh. 5: 20))


